Op 29 Augustus 2016 gekoop in Montagu Bookshop in Montagu, Wes-Kaap, Suid-Afrika en 30 Augustus 2016 klaargelees.
Dit was 'n blitsige en gemaklike lees; en ek moet erken, ek hou van die "triviale", "spekulerende", "relativerende", "ironiese" en miskien selfs "postmoderne" inslag van die alwetende (?) verteller:
"Ag ja, as Karakter X geweet het wat om die hoek van Straat Y afspeel, 'n skamele 10 meter, maar 500 jaar tevore (of, miskien selfs gisteraand, of môre...), dan sou Karakter X op hierdie wyse reageer het. Wel, Karakter X weet hierdie feite nie, en hierdie feite tel ook nie in die jaar 201X nie. Soos jyself nou sal sien."
Bv. bl. 76: "Versavel kon een glimlach niet onderdrukken. Gelukkig wist Candries niet dat Van In met de onderzoeksrechter was getrouwd. Anders had hij waarschijnlijk moord en brand geschreeuwd."
En weer is die verteller so lief om vir ons mee te deel: "Karakter X weet van Feit ZZ, maar verswyg hierdie inligting van Karakter Y met opset." Dan kom die noodwendige vraag: "Waarom? Hoekom? Wat is volgende?". En dit stuur die leser voort op die woud waar agter elke boom 'n nuwe leidraad opduik. Familiebande, vriendskappe wat op foto's sigbaar word, ens. En uiteindelik word alles maar 'n sameloop van omstandighede waaroor die leser net kan wonder: hoe pas die stukkies legkaart in mekaar?
Die vlugtige agtergrondgeskiedenis bied ook die nodige nuanse om meer simpatie (of haat) teenoor die newekarakters te kweek en kleur soos die verteller dit ook wil hê. Soos mevrou Candries wat byna eensydig as 'n geld- en grondwolvin geskets word (p. 253-257).