Adam Rossouw, suksesvolle sakeman, deel van Kaapstad se sosiale elite en Petronel Cilliers, ’n onopvallende sanger in ’n grot van ’n kroeg iewers op die Kaapse suidkus is pole van mekaar verwyder, maar ná ’n nag van passie is hulle onherroeplik aan mekaar verbind. Daar is egter meer as net dié aanvanklike verskille wat oorbrug moet word – ’n wantrouige skoonfamilie, twee onmoontlike tieners, ’n giftige eksmeisie, en veral die bagasie van die verlede. Gaan die houe wat die lewe uitgedeel het hulle in die jaar wat hulle saam is heeltemal uitmekaar dryf, of kan hulle juis in mekaar die maat vind wat hulle volledig mens sal maak? Elize Parker verwoord lesers se kommentaar op Sophia se werk só: “Sophia skryf warm, emosionele liefdesromans met geloofwaardige heldinne met wie elke vrou kan identifiseer. Goedvoelromans op hul beste.”
Ek het nêrens 'n aktiewe bio nie, buiten die een op die CV wat ek vir die staat moet gee as ek vir hulle wil werk, daarom sê ek liewer hier wat daar van my te wete is:
• Ek is ‘n tante, met alles wat dié term inhou – ‘n seer knie, ‘n geknakte rug, ‘n onverdraagsaamheid teenoor enigiets of -iemand wat my sielevrede versteur, ‘n immer groterwordende Weltschmertz en ‘n groeiende besef van my eie verganklikheid. • My lewe is bitter vervelig. Ek werk 351 dae van die jaar. Die oorblywende 14 bestee ek aan die aktiewe afhandeling van my kluitklaplys. Want punt 1 hier bo. • Ek is ‘n taalpraktisyn om den brode en ‘n skrywer om den sinne. Wat beteken ek redigeer en vertaal tekste om aan die lewe te bly en skryf stories om op my trollie te bly. Reis is die wortel wat die 351 dae die moeite werd maak. Want punt 1 hier bo. • My liefdes is my kind en my honde. • My rolmodelle is my ouers en grootouers. • My helde is Bach en Langenhoven. En enige mens wat ten spyte van menslike swakhede en tekortkominge hierdie lewe na die beste van hulle vermoë oorleef. • Musiek hou my geanker. My vriende hou my arms in die lug. • Ek het sterk menings oor politiek, godsdiens, die Kerk, menseregte en professionele tsotsi’s wat hulle mag gebruik om mense wat op hulle vertrou te bedonner, maar ek voer nie gesprekke daaroor op sosiale media nie. Ek moet jou eers ken en weet dat jy weet hoe ‘n debat werk voor ek daaroor met jou gaan praat. • Ek drink Earl Grey-tee met suurlemoen (op gewone dae), sauvignon blanc (op gewone spesiale dae) en Bollinger (op spesiale spesiale dae). Enige kos met stysel en/of suiker is die poort na die hemel. Cilantro is ‘n onkruid uit die donkerste dieptes van die hel. • Ek skryf en lees romance novels omdat ek ‘n behoefte het aan omstandighede – al is dit dan nou fiktief – waar mense kry wat hulle toekom. Want punt 1 hier bo. • Ek vloek. Vlot en gereeld, maar (hopelik) gepas vir die geleentheid. Nee, ek gee nie om as dit jou affronteer nie en nee, ek gaan nie verander nie. (My ma het in haar lewe gesê ek moet sê sy het my nie so grootgemaak nie, daarom sê ek dit nou hier ter wille van die vrede in die hiernamaals.) • Ek glo dat ons te veel op ons verskille fokus en te min op dit wat ons deel. Die grootste ding wat ons deel, is dat ons almal op ‘n kol so verwoes was dat ons terugkyk en wonder hoe dit gebeur het dat ons nog hier is. Die oomblik wanneer ‘n mens dit besef, kweek jy die enigste eienskap waarmee hierdie wêreld kan genees – deernis. • Daar is net een ding in hierdie lewe wat vir my heilig is: my persoonlike ruimte. Daarin bewaar ek my vrede, my vreugde, my vryheid en my heil. Ek beskerm dit verbete.
Daarmee volstaan ek. Enige ander inligting wat “daar buite” oor my rondsweef, vertrou jy op jou eie risiko.
Die storielyn is bekend binne die genre - 'n huwelik volgens konvensie wat aanvanklik geskied teen beide partye se wil. Dit is die mate waartoe Sophia Kapp interessante, geloofwaardige karakters skep wat hierdie liefdesverhaal ver bo die gemiddelde plaas. Die storielyn is kompleks met gebeure uit Petronel se verlede wat telkens 'n nuwe perspektief bied.
Die karakters los jou nie maklik aan die einde van die boek nie. 'n Boek wat ek gemaklik aanbeveel en waarheen ek sal terugkom.
Ek hou van Sophia Kapp. Baie. Ek is ook nie besonder konserwatief nie en 'n goeie stomende storie is heeltemal in my kraal. Maar ek hou nie van 'n onnodige geswets nie. En veral nie van die ydelike gebruik van die Here se Naam nie.
Hierdie liefdesroman is reeds tien jaar gelede geskryf, lank voor die bedonnerde diva en Nellie van Kantelpunt hulle staal gewys het. Maar reeds in Die Ooreenkoms ontmoet ons een van die sterk vroulike karakters waarvoor die werk van Sophia Kapp bekend is. Petronel, wat nie skroom om haar oortuigings te verwoord nie, wat nie terugdeins vir die taakgedrewe Adam Rossouw nie, wat empatie het met ander, van weerbarstige tieners tot 'n skoonsuster wat in 'n liefdelose huwelik probeer oorleef. Die skrywer gebruik die luukse van 'n volle teks om die agtergrond van Petronel laag vir laag af te skilfer, totdat die leser uiteindelik verstaan presies wat in haar verlede skeefgeloop het; dat daar dinge is wat sy, ten spyte van haar sterk persoonlikheid, nie kan hanteer nie. Sommige van die karakters se taal is kru, maar dit was oortuigend en het deurentyd gestrook met die karakter. Hierdie was 'n boek wat algaande al hoe meer onder my vel kom inklim het, totdat ek die helfte daarvan opsluit in een middagsessie moes klaarlees.