Adam Rossouw, suksesvolle sakeman, deel van Kaapstad se sosiale elite en Petronel Cilliers, ’n onopvallende sanger in ’n grot van ’n kroeg iewers op die Kaapse suidkus is pole van mekaar verwyder, maar ná ’n nag van passie is hulle onherroeplik aan mekaar verbind. Daar is egter meer as net dié aanvanklike verskille wat oorbrug moet word – ’n wantrouige skoonfamilie, twee onmoontlike tieners, ’n giftige eksmeisie, en veral die bagasie van die verlede. Gaan die houe wat die lewe uitgedeel het hulle in die jaar wat hulle saam is heeltemal uitmekaar dryf, of kan hulle juis in mekaar die maat vind wat hulle volledig mens sal maak? Elize Parker verwoord lesers se kommentaar op Sophia se werk só: “Sophia skryf warm, emosionele liefdesromans met geloofwaardige heldinne met wie elke vrou kan identifiseer. Goedvoelromans op hul beste.”
Sophia Kapp skryf die soort stories wat sy self graag lees – liefdesromans. Sy glo onwrikbaar in die liefde en in die helende krag daarvan, maar glo ook dat haar hoofkarakters dieselfde sout as haar lesers moet opeet voordat hulle die vervulling daarvan mag smaak. Daarom plaas sy haar heldinne binne realistiese, lewensgetroue situasies en laat sy hulle spook met geloofwaardige krisisse waardeur vroue dwarsoor die wêreld en die sosiale spektrum moet worstel: verraad, verlies, egskeiding, affairs, miskrame, middelmisbruik, moeilike tieners, bagasie van vorige verhoudings ... Maar vir elke heldin wat bereid is om hierdie krisisse aan te pak en te oorkom, is daar ’n held, ’n man wat by haar pas en haar waardig is; iemand saam met wie sy binne ’n vervullende verhouding geborgenheid vind. En saam met haar op haar reis is daar haar susters – bloedsusters en hartsusters – wat haar optel as sy val, wat haar dra as sy moeg word en wat saam met haar dans wanneer sy feesvier. Die erflating is in 2008 met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans bekroon en Huis van die wind in 2012. Sophia was ook twee agtereenvolgende jaar die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Potchefstroomkampus van die NWU. Sy het ’n MA in tale aan die destydse UOVS behaal en het aanvanklik ’n akademiese loopbaan gevolg, maar sy was intussen al alles, van ’n barrista tot ’n boekhouer in ’n bank. Tans is sy, benewens ’n skrywer, ook taalpraktisyn, vertaler, dosent en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy woon saam met haar man, kind en drie bedorwe honde in Centurion.
Die storielyn is bekend binne die genre - 'n huwelik volgens konvensie wat aanvanklik geskied teen beide partye se wil. Dit is die mate waartoe Sophia Kapp interessante, geloofwaardige karakters skep wat hierdie liefdesverhaal ver bo die gemiddelde plaas. Die storielyn is kompleks met gebeure uit Petronel se verlede wat telkens 'n nuwe perspektief bied.
Die karakters los jou nie maklik aan die einde van die boek nie. 'n Boek wat ek gemaklik aanbeveel en waarheen ek sal terugkom.
Ek hou van Sophia Kapp. Baie. Ek is ook nie besonder konserwatief nie en 'n goeie stomende storie is heeltemal in my kraal. Maar ek hou nie van 'n onnodige geswets nie. En veral nie van die ydelike gebruik van die Here se Naam nie.
Hierdie liefdesroman is reeds tien jaar gelede geskryf, lank voor die bedonnerde diva en Nellie van Kantelpunt hulle staal gewys het. Maar reeds in Die Ooreenkoms ontmoet ons een van die sterk vroulike karakters waarvoor die werk van Sophia Kapp bekend is. Petronel, wat nie skroom om haar oortuigings te verwoord nie, wat nie terugdeins vir die taakgedrewe Adam Rossouw nie, wat empatie het met ander, van weerbarstige tieners tot 'n skoonsuster wat in 'n liefdelose huwelik probeer oorleef. Die skrywer gebruik die luukse van 'n volle teks om die agtergrond van Petronel laag vir laag af te skilfer, totdat die leser uiteindelik verstaan presies wat in haar verlede skeefgeloop het; dat daar dinge is wat sy, ten spyte van haar sterk persoonlikheid, nie kan hanteer nie. Sommige van die karakters se taal is kru, maar dit was oortuigend en het deurentyd gestrook met die karakter. Hierdie was 'n boek wat algaande al hoe meer onder my vel kom inklim het, totdat ek die helfte daarvan opsluit in een middagsessie moes klaarlees.