Dis die storie van 'n voorstedelike Afrikanergesin net ná die Nasionale Party van DF Malan vir die eerste keer die verkiesing in Suid-Afrika gewen het. Dis die begin van Groot Apartheid, werkersklas Afrikaners word in groot getalle 'n heenkome in die staatsdiens gebied, soos bv. die Spoorweë. Die verteller is Gertie, jong dogter van Doris en Piet van Greunen. Piet is 'n "Ben Schoeman-man" (die destydse minister van Spoorweë, 'n groot held onder werkersklas Afrikaners). Piet het longskade opgedoen in 'n treinongeluk en verloor sy werk as treindrywer. Alhoewel hy finansieël versorg is, het die verlies van sy werk 'n groot invloed op hom, hy het sy lewensvreugde verloor.
Dis 'n kyk terug na 'n era wat verby is, toe iemand soos Piet van Greunen nog trots was op sy werk as treindrywer in die Spoorweë. Toe dit nog veilig was vir 'n wit vrou om per trein Kaapstad-toe te ry. Maar dis ook die tyd van gedwonge verskuiwings, toe die Groepsgebiedewet dikteer het dat bruinmense moes skuif, sommige van eiendomme wat vir geslagte in hul families was.
Jeanne Goosen skryf gestroop en in kort sinne, so die storie loop vinnig en lees lekker, misleidend eenvoudig binne die groot winde wat waai in die Suid-Afrikaanse politiek.
Ek dink "'n Pawpaw vir my Darling" het meer humor en is beter, maar ek het steeds die lees baie geniet.