Although Baker initially studied music, she obtained her M.A. in Afrikaans (cum laude) in 1968 at the University of Pretoria. In Johannesburg she worked as a school teacher and got married to Walter Baker in 1969. Three years later her debut Wêreld sonder einde appeared, albeit that Weerkaatsings (Reflections) established her status as an important (though unfortunately often undervalued) Afrikaans author who penned 56 books in the end. Since her husband was in the diplomatic service, the couple moved from Teheran to Den Haag and from there to Montreal and Brussels before returning to South Africa to retire. Baker died of cancer at the age of 57.
She sometimes used the pseudonyms Christine le Roux and Alex Muller.
Eleanor Baker se boereoorlog-roman was vir my 'n moeilike een.
Die storie is nogal liniêr: oorlog breek uit, man gaan veg, vrou en kinders bly agter, kakies vat die plaas, vrou en kinders gaan kamp toe, ontberinge in die kamp, oorlog verby.
Die hoofvertelling van Cornelia en die mense na aan haar se storie word opgebreek deur briewe van verskeie mense (meestal haar man Johannes wat saam met Genl. de Wet veg). Hierdie briewe het ek as redelik gestroop van persoonlikheid ervaar en lees meer soos geskiedkundige eksposisie, sekerlik met die doel om die leser op hoogte te hou van hoe die oorlog elders verloop.
En daarin lê wat ek dink die probleem met my persoonlike ervaring van die boek is: ek het al te veel oor dié oorlog gelees. Byvoorbeeld, ek kan in Johannes se briewe aan Cornelia maklik die gedeeltes uitwys wat die skrywer in Generaal Christiaan de Wet se memoir "Die stryd tussen Boer en Brit/Three Years War") gevind het. Aangesien ek dié boek slegs 'n paar weke gelede gelees het, het die herhaling nogal gekrap (maar dit gaan meeste lesers natuurlik nie op dieselfde manier kwel nie).
Voeg daarby dat ons geen van die karakters werklik vreeslik diep leer ken nie (daar is die laakbare hanskakie, die stoere boervrouens, die dapper krygers, die meestal onsmaaklike kakies). Almal maar so half alkant selfkant in hulle boksies.
Maar, kom ons neem in ag die leser het nie 'n groot kennis van die oorlog nie. In daardie geval gaan hierdie goed nagevorsde roman beslis van waarde wees deurdat jy baie gaan leer oor die oorlog, maar op 'n toeganklike manier deur die storie van Cornelia en kie. In hierdie geval wil ek sê hoe minder jy van die oorlog weet, hoe makliker gaan dié boek jou boei.
Vir iemand soos ek wat alreeds deeglik oor die oorlog in geskiedenisboeke gelees het, het die gebeure in hierdie boek, dramatisering ten spyt, oorbekend gevoel en het die storie nie daarin geslaag om enduit my aandag te hou nie.
Hierdie boeiende en deernisvolle verhaal het vir my Geliefde Verraaier en Concentration Camps of the Anglo-Boer War bymekaar gebring - dit is bo en behalwe al die leeswerk wat ek tot nog toe gedoen het oor die trauma wat met oorlog gepaard gaan. Baker het daarin geslaag om die verhaal op so 'n manier te skik dat 'n mens die tydsverloop mooi kan volg. Cornelia en die mense met wie sy in aanraking kom se lewens word heeltemal deur die oorlog in skerwe gelaat. Die leser kan ook volg wat met Cornelia se man, Johannes en ook sy broer Danie, aan die gebeur is d.m.v. die briewe wat heen en weer gestuur word. Die leser beleef saam hoe die plase afgebrand word, die gruwel van die diere wat doodgemaak word, maar daar is ook plek vir nuwe lewe. Dit is 'n alles-omvattende verhaal in die sin dat 'n mens nie net uitvind wat met die boere, hul vrouens, kinders en ouers gebeur nie, maar ook met die bediendes. Verder nog is dit moontlik om sekere gebeure met die werklike gebeure te verbind: Kitchener, De la Ray, Hobhouse, Smuts ... Die leser kry selfs 'n blik op die naloop van die oorlog en hoe hard die boere moes werk om na die afloop daarvan weer op die been te kom. Na my mening is dit 'n realistiese weerspieëling van waarskynlike gebeure en Baker kan haar op die skouer klop vir 'n puik roman. Vir diegene wat self familie het wat in hierdie oorlog gely het: My oupa grootjie is Diyatalawa toe gestuur en my ouma grootjie het die oorlog in die grotte deurgebring (behalwe dat sy nie soos Cornelia daar weggehaal is nie).