Jump to ratings and reviews
Rate this book

Wieg. Die verhaal van Maria du Plessis, née Marie Buisset (1679–1751), Hugenoot en vroedvrou

Rate this book
Hierdie is 'n biografie in konteks en lees soos 'n roman.
Die jaar is 1700, die plek Amsterdam. Die bruid is 21 jaar oud en inderhaas getroud met 'n wewenaar wat oud genoeg is om haar pa te wees. Wie is die Franse vrou wat kans sien vir 'n pionierslewe op 'n verre voorpos? Marie Buisset is 'n vlugteling, 'n weeskind uit Sedan, Frankryk, gebore tydens die felste Hugenootvervolging. Sy word die stammoeder van die families Du Plessis en Smith in Suid-Afrika. As vroedvrou - later op die loonlys van die VOC - word Marie (later genoem Maria) die hulp van die kwesbares: 'n verkragte meisietjie, 'n tiener wat geboorte gee en verskeie vroue wat deur hul eienaars, minnaars of eggenote verniel is.
Die leser ontmoet talle bekende name in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dis 'n verhaal van politieke stryd, ontbering, politiek en liefde. Dis 'n storie oor mense en die uitdagings wat hulle aanpak.
Uit skrapse oorblyfsels soos hofverslae, mediese rekeninge, veilings en testament onthul Joan Kruger 'n ryk en boeiende verhaal, vol humor en patos. Wieg: die verhaal van Maria du Plessis, née Buisset, (1679 - 1751) Hugenoot en vroedvrou is a vonds vir historici en lesers wat nuwe lig werp op 'n gedeelde verlede. 'n Kragtoer.

450 pages, Paperback

Published September 20, 2022

9 people are currently reading
8 people want to read

About the author

Joan Kruger

7 books1 follower

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
5 (35%)
4 stars
7 (50%)
3 stars
1 (7%)
2 stars
0 (0%)
1 star
1 (7%)
Displaying 1 - 3 of 3 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,486 reviews84 followers
September 1, 2023
#Wieg – Joan Kruger
#Litera

Marie Buisset was ‘n produk van haar tyd. Gebore in 1679, getroud op 21-jarige ouderdom in Amsterdam met ‘n man oud genoeg om haar pa te wees, verlaat sy alles wat bekend is in Europa vir ‘n lewe aan die Kaap. Twee faktore, beide buite haar beheer, het haar toekoms bepaal. Eerstens was sy ‘n Hugenoot op ‘n stadium wat Protestante in so ‘n mate onderdruk was dat selfs begrafnisse deur ‘n maksimum van 12 mense bygewoon mag geword het en in doodse stilte, na ure, en buite die stadsgrense moes geskied het. Tweedens was sy ‘n vrou ten tye van patriargale oorheersing en blatante diskriminasie waartydens (manlike) geneeshere absurditeite soos “Die baarmoeder, nie in staat om sy snoeplus en drang tot swangerskap te bevredig nie, begin honger in die liggaam ronddwaal en kan selfs die lugpype toedruk.” (118) verkondig en aangehang het.

As eggenoot van die bejaarde chirurgyn (in moderne terme ‘n paramedikus) Jean Prieur du Plessis, en stiefma vir sy drie minderjarige kinders, was sy spoedig aan die oorwegend Hollandse Kaap bekend as Maria du Plessis. Sy bring vir hom drie kinders in die wêreld en na sy afsterwe trou sy met Dirk Snith, vir wie sy twee kinders baar voordat sy weereens as weduwee agtergelaat word. Maar waarvoor sy onthou word is veel meer as dit, sy word gereken as een van die gesogste Kaapse stadsvroedvroue van haar tyd, asook die eerste vrou aan die Kaap wat mediese forensiese getuienis afgelê het in die saak teen Anthonij van Goa in 1721. Sy sterf in 1751 as ‘n gerespekteerde en vermoënde vrou; ‘n mens in eie reg.

Die skrywer het, met behulp van hofstukke, mediese rekeninge, boedels en vendusierekords ‘n mikrogeskiedenis rondom hierdie historiese figuur geweef. Dis egter nie net Marie/Maria se geskiedenis nie, dis terselfdertyd ook ‘n elegie aan vroue van haar tyd, die stemloses, wat ten spyte van hulle unieke uitdagings, in die anale aangeteken is.

Die skryfstyl is allermins vervelig; Marie/Maria se verhaal lees soos ‘n spanningsverhaal met die insluiting van komiese insidente en vlymskerp sosiale kommentaar. Die ellende van die 1705-opstande met Vergelegen as voorloper van Nkandla, die verwoestende Stellenbosch brand in 1710 en die pokke-epidemie in 1713, word verlig deur droë humor wanneer karakters beskryf word as “ ‘n Prettige eggenoot was hierdie langdradige spreker en droewige voorsanger sekerlik nie” (65) en “Hierdie gewese monnik het die woord Protestant baie persoonlik opgeneem en ‘n loopbaan van protes gemaak” (83).

Soos wat die geval is met die meerderheid van historiese publikasies, gee die skrywer ook hier toe dat die beskikbaarheid van bronne ‘n uitdaging was. Sommige is bloot onleesbaar, sommige onvolledig, sommige teenstrydig en sommige onopspoorbaar. Ten spyte hiervan is die eindproduk ‘n toeganklike en fassinerende werk wat ‘n stem aan die andersins onsigbares gee.

‘Wieg’ verskyn op die kortlys (nie-fiksie) van benoemdes van die 2023 kykNET-Rapportprys, en is ook veelbesproke wat resensies betref. Lindie Koorts se resensie (Rapport, 11/12/2022) is ook benoem vir ‘n kykNET-Rapport-prys, en die kritiek vervat hierin word deur Crito (LitNet, 14/12/2022) bespreek en vergelyk met die resensie van Lizette Rabe (LitNet, 9/12/2002) en gaan nie hier herhaal word nie.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
Profile Image for Johannes Bertus.
164 reviews7 followers
November 5, 2025
’n Glips kan ’n wonderlike ding wees. So het ek byvoorbeeld hierdie boek, Wieg, gekoop vas onder die indruk dat dit ’n roman is wat in die vroeë jare van die 17de eeuse Kaap afspeel. O wee, sien ek toe ek dit eers onder hande het, die boek is eintlik ’n biografie van Marie Buisset, Hugenoot-vlugteling en stammoeder van die Du Plessis-familie in Suid-Afrika.

Biografie is nie ’n genre wat ek juis lees nie, maar nou ja, Joan Kruger is ’n befaamde joernalis, voormalige redakteur van rooi rose, ’n legende onder Afrikaanse mediamense, dus het ek die boek ’n kans gegee.

Hoe bly is ek nie! Wieg lees soos ’n storieboek. Dit vertel van ’n jong meisie wat uit Frankryk vlug tydens die godsdienstige vervolgling, hoe sy in Amsterdam met ’n veel ouer man trou, na die Kaap gaan om daar in Stellenbosch in ’n vreemde, gewelddadige wêreld ’n lewe te maak en uiteindelik ’n prominente vroedvrou en geneser raak.

Twee goed maak die boek wonderlik. Eerstens is daar die skrywer se verstommende navorsing - sy was duidelik in Frankryk, Amsterdam, oral oor die Kaap. Dit klink of sy elke doopregister, boedel en kooptransaksie in die kolonie deurgewerk het, elke sekondêre bron ken. Die navorsing moes járe geneem het.

Maar belangriker nog is hoe die boek geskryf is. Nadat Kruger die feite ingesamel het, skets sy ’n wêreld wat jy met amper kan voel - die wind vanaf die Noordsee, die bedompigheid van ’n skeepsvaart oor die ewenaar, die vrees vir Afrika se onbekende duisternis, die alomteenwoordige geweld.

Ek plaas twee aanhalings:

Eerstens is daar dié toneel, waar ’n slaaf, Anthonij, op Stellenbosch vermoor aangetref word:

“Jan Mattieu se wit ommuurde tuin, die uitgeteerde Anthonij, uitgestrek op die geil swart riviergrond, tussen die beddings beet en wortels, die komkommerplante, blaarslaai en bone. Tussen die bitter geur van blare en rooiryp tamaties lê sy stil liggaam binne die voue van sy lendedoek, sy nat vaalbruin bolyf gestreef met ribbes, die vereelte hane at hul greep verloor het op die graaf langs hom. Dan, die twee vroue wat besorg naderkom en buk oor die roerlose liggaam.”

En hierdie stuk oor die skeepsvaart van Europa na die Kaap:

“Die hitte van die trope tref die noordelinge swaar. Die gevoelige Nederlandse velle slaan rooibont uit, die sweet tap hulle af, botter drup langs hul vingers af. Hulle hyg na asem. Snags is die kajuite ’n broeikas, gaan soek die beswete passasiers lafenis op die bodek, drink ’n koppie koffie saam met die stuurlui …
“Geen houtafskorting kan die passasiers bewaar teen die wete van menselyding nie. Die angsgille van ’n matroos wat sy greep verloor en oorboord geval het, skeur deur die gekreun van die houtwerk. Daar is ook niks wat passasiers afskerm teen die afrantselings en ander strawwe wat uitgedeel word nie. As die rooi vlag, die bloedvlag, gehys word, kan jy jou in jou hut terugtrek, maar die pynkrete is prieme wat deur alles dring.”

Wieg is ’n naslaanbron wat ek op my rak gaan hou, maar ook die tipe boek mens keer op keer sal oopslaan net om die mees aangrypende passasies weer ’n keer te lees. Ek is baie bly ek het dit per ongeluk gelees.
Profile Image for Loraine.
476 reviews
June 4, 2023
Interessante gegewe. Die verhaal van Marie raak egter verlore tussen die magdom feite.
Displaying 1 - 3 of 3 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.