Duisende Afrikaanse kleuters ken die betowerende openingsrefrein van Martie Preller se immergewilde, bekroonde Babalela-boeke. Meer as 85 000 eksemplare van die vier titels in die reeks is verkoop.
Martie Preller is een van die mees geliefde Afrikaanse kinderboekskrywers en het reeds verskeie toekennings vir haar werk ontvang, waaronder die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur vir Babalela en Diep diep in ’n donker bos. Daar het al meer as 50 kinderboeke uit haar pen verskyn.
Babalela, die klein pers bosbewonertjie met die fyn vlerkies, is in 2000 aan kinders bekendgestel in sy heel eerste avontuur, getiteld ‘Babalela’. Sy refrein het van huis tot huis weerklink: ‘Diep, diep in ‘n donker bos, / waar die son net soms deur die takke loer, / diep, diep in ‘n donker bos, / in ‘n hol boomstomp, net onder ‘n blaar, / woon die Babalela.’
Sy avontuur wen die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur en in 2004 verskyn sy volgende avontuur ‘Diep, diep in ‘n donker bos.’ Hierdie keer is Babalela nie alleen nie; hy het ‘n paar interessante vriende wat in die moeilikheid beland en deur hom gered moet word: Daar is die haastige, lastige veelpotige Wrrrumpie; die knorrige Knortand wat telkens dreig om Wrrumpie se pootjies te verminder; die agt tjirpende, oranje Fripperwakkies; die grote Potifant wat nie altyd trap waar hy kyk en kyk waar hy trap nie, en die vrolike Meermoskat wat ewe beleefd sy stert in sy pootjies vashou in geselskap.
In 2009 verskyn hulle derde avontuur ‘Los ons uit!’ en, alhoewel Babalela weereens die held is, leer sy maats hierdie keer hoe om saam te werk en in die vierde avontuur ‘Ons kan!’ (2013) funksioneer die groepie inderdaad as ‘n span om gevare van buite te kan weerstaan en oorwin. Die volkleur illustrasies in al vier hierdie boekies is die werk van Andries en Erica Maritz.
In 2023, kort voor die skrywer se afsterwe, verskyn al vier avonture vir die eerste keer tesaam in ‘n boekpak. Dis meer as ‘n kosbare versamelstuk; dis ‘n laaste eerbetoon aan ‘n uitsonderlike skrywer wat kinderharte so goed verstaan het.