#VerindieWêreld – Frederik de Jager (samesteller)
#Tafelberg
Twintig Afrikaanse skrywers wat buite Suid-Afrika se grense woon of gewoon het, is die bydraers tot hierdie besondere kortverhaalbundel. Die opdrag deur die uitgewer is, aldus die inleiding deur die samesteller, reeds in 2019 uitgereik en dis belangrik om dit in gedagte te hou omdat die bydraes ‘n pre-Covid leefwêreld beskryf.
Die verhale oor die lewe in die buiteland is wyd uiteenlopend: sommige het ‘n sterk outobiografiese inslag, terwyl andere fiksie is. Die styl wissel van humoristies tot intiem, persoonlik en melankolies. Kortverhale se groot uitdaging, naamlik om die ruimte deur middel van die minimum woorde aan die leser bekend te stel, was dus hier selfs meer gekompliseerd: Lesers moet in staat wees om te kan identifiseer met ‘n onbekende ruimte wat kultuur, klimaat, taal, argitektuur en klimaat betref. Die ruimtes is uiteraard baie uiteenlopend, van Griekeland tot Duitsland; van Nieu-Seeland tot Ysland; van Frankryk tot Kanada, België, Ierland, China, Amerika, Engeland, Nederland en Australië. Deurlopende temas is egter ongetwyfeld die versugting om te behoort; die trauma van afskeid en die spanning van aanpassing; die oorwinning van die walvis-in-’n-wasbak-gevoel.
Troos word uit ‘n verskeidenheid van bronne verkry: die natuur, kos, musiek en liefde. Daar is ‘n stukkie van Afrika in die mees alledaagse: Auckland se dieretuin; die reuk van melkkos en kaneel, en Ouma se tjalie. Dat aanpassing nie maanskyn en rose is nie, word wel duidelik gestel: ‘Ek was net nie jonk genoeg nie, sou ek sê. Om verlief te wees op New York is om jonk en onskuldig en naïef te wees.’ (88); ‘Die lewe hier is hard. Daai Saffas met Instagrams wat soos daai Mainstay ads in die tagtigs alles glamorous en almal mooi laat lyk? Stront.’ (57); ‘Die mense is fokken nors en ongeskik.’ (69); ‘Hoe verstommend fisiek kan verlange nie wees nie.’ (158); die verwysing na die self as ‘n ‘angsvarkie’ (76) en die teleurstelling van ‘n gunsteling geur aartappelskyfies wat in ‘n ander kleur verpakking is in die vreemde.
Folklore en mitologie eie aan die nuwe tuistes word uitstekend aangewend in twee verhale, naamlik Chris Karsten se ‘Die weglopers’ en Christina van Deventer se ‘Die swart ridder’. Valda Jansen se vermoë om die leser met woorde te ontroer, soos treffend geïllustreer deur haar aangrypende roman ‘Hy kom met die skoenlappers’, vind eweneens gestalte in haar hartroerende ‘Tapas’, en in ‘n Hond se hart’ speel Elsabe de Jager vernuftig met Garth Stein se ‘The art of racing in the rain.’
Daar moet in gedagte gehou word dat die deurlopende temas vermeld in die tweede paragraaf hierbo, nie slegs teenwoordig is wanneer daar ‘n oseaan is wat die karakter van dit wat hy as sy tuiste beskou skei nie. Dieselfde gevoelens word ervaar wanneer mense, om welke rede ook al, hulself as ontuis ervaar. Dit word treffend na vore gebring in Julian de Wette se verhaal wanneer ‘n karakter dit onomwonde stel: ‘Ons land waar ons nou as die uitgewekenes bekend staan.’ (208). Vir die betrokke karakter, as gebore Vrystater, is die Cape Flats inderdaad ver in die wêreld.
Die bundel sal aanklank vind by ‘n wye verskeidenheid van lesers, natuurlik veral vir diegene wat worstel met verlange, hetsy omdat hulle gegaan of gebly het, of beplan om dit te doen, maar ook vir liefhebbers van reisverhale, of van kortverhale in die algemeen.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers