Ek het my gebreek hoe verder ek die boek gelees het. Ongeag wyle André P. Brink se gebrek aan sin vir humor [met verwysing na die resensiegeveg tussen Dan Roodt en André P. Brink] het H.P. van Coller in 'n resensie ("In die domein van labirinte: Roodt skryf doelbewus teen Brink in") 'n mens gelukkig vroegtydig gewaarsku dat hierdie boek 'n parodie van die tipiese, stugge Sestigerroman is. En hoe verder die boek vorder, hoe meer kan mens insien hoe Roodt vir Brink se "Die Ambassadeur" afslag en fyn en flenters maal. Daar word gruwelik gespot met Brink se versoening tussen seks en godsdiens en die eksistensialisme (aangesien godsdiens, die mite en seks die enigste betekenis aan 'n sinnelose bestaan gee).
Ampie Coetsee [in: "Seksualiteit in die werk van André P. Brink"; STILET, Jg. XIV:2, September 2002] verduidelik:
In 1964 publiseer Brink 'n artikel ''Oor seks en religie''. Die volgende - aangehaal daaruit - is relevant: ''(D)ie geslagsdaad is die seksuele ekwivalent van gebed ... die belydenis van sonde, en die afstroop van die klere is, repektiewelik, die onontbeerlike vanselfsprekende voorwaarde vir die religieuse en die seksuele moment: elk is 'n daad van blootstelling vir en voor die Ander, 'n daad van weerloos-maak in volstrekte eerlikheid...'' (Brink, 1964:35) Die rol van die vrou as 'n sleutelfiguur word spesifiek belig: ''(D)ie vrou bring geboorte; daarna bring sy val; uiteindelik bring sy die moontlikheid van wederopstanding. Religie en seks is hier ongedifferensieer.'' Vir die man is die vrou heilige en hoer, en sy moet dit word as die seksuele moment ekstaties wil wees.'' (Brink, 1964:38)
[BRINK, ANDRÉ P. 1964. Oor seks en religie. Standpunte, 18(2). Des.]
Ook nuwe temas word aangeroer, soos die "kaalgat pianis" se ontmanliking en genderrolverskuiwing (vergelyk die Lolita-figuurtjie of "groen blaar en ou bok" in Brink se roman wat nou 'n skatryk, vuurwarm vrou word, en die patetiese jongmannetjie as ons hoofkarakter), maar ook die Franse se kultuurverlies deur alles ersatz te omarm wat Amerikaans/Engels is [maar ook ons anti-"held" se eie kultuurverlies word aangespreek]. Die tipiese Europese hoogmoed teenoor alles buitekant hul grense word verder aan die kaak gestel, wat, vergeleke met hul Anglomaniese vergrype, skerp ironiserend inwerk.
Die amper-amper sekstoneel in die Rooms-Katolieke Kerk (wat mens laat dink aan die skynnagmaal in Brink se roman; onthou, seks en om te bid word in die Brinkroman mos teenoormekaargestel), wat dan uitwyk na oop en bloot reg voor die Europese Gemeenskap se hoofkantore onder 'n boom, in die hart van die Apartheidsjare, het my laat skud van die lag. Dit is so absurd, tog so eksplisiet betekenisryk: 'n verwesenlike, vlesige middelvinger en ontheiliging van die EU-wêreldorde se heilige grond! Dit is "brul"-jant geskets!
Wanneer die "liefdes-kontrak" finaal verstryk - voer hy bloot verder sy moltreinbestaan ("underground") en ook hier word 'n ersatz-bestaan (fake seks) in die hoeredistrik in Parys voortgesit. Die hele lewe het 'n skynbestaan geword.
Ons nimfo stop egter nie daar nie - soos die ou mite in Brink se romans herleef moet word, ja, so word die ou ryk tante (die ouma van een van sy klavierleerlinge) ook nuwe lewe ingepomp. En soete wraak oor haar dooie onttrou man word gevier.
Die postmoderne einde voldoen heeltemal aan ons anti-held se verwagtinge.
As ek ooit hierdie boek op die winkelrak kry, gaan ek hierdie humoristiese, skitterend-satiriese, dog ikonoklastiese boek vir my aanskaf!