An Alternative Cover Edition for this ISBN can be found here
Skaars op Aronspoort, of mevrou Smit hoor sy slaap in die polisieselle - vir haar "onaanvaarbare gedrag" en drink-agter-die-stuur. Wanneer sy die volgende oggend uiteindelik by haar nuwe huis instap, wag 'n lyk op die kombuisvloer. Moes dit dalk eerder sý gewees het, daar in die bloedkol? Maar mevrou Smit is nie 'n lelie wat jy sonder skêr pluk nie. Sy gáán die moordenaar vastrek, maak nie saak op hoeveel tone sy trap of hoeveel van die dorp se skandes uitpeul nie. Die sterftesyfer styg en sy raak al hoe meer ongewild. Haar skerp tong spaar nie eens die dokter met die mooi blou oë nie. Want sien, sy is 'n vrou met 'n donker verlede. Wat sy met los klere, gemaklike skoene en natuurlike, grys hare probeer verbloem. As die polisie te lank krap, kom hulle dalk op háár spoke af. En dit mag nie gebeur nie.
#DieFantastieseMevrouSmit – Elizabeth Wasserman #PenguinRandomHouseSA
Plattelandse dorpies, soos die piepklein Aaronspoort in die Langeberg distrik, het ongeskrewe reëls vir inkommers: Jy moet vriendelik wees; jou verlede en herkoms vrylik deel; gepas aantrek en optree en die bestaande hiërargie en gesagstrukture respekteer. Mevrou Smit het letterlik alles verkeerd gedoen: Haar aankoms geskied in ‘n wolk van padwoede; sy is onbeskof met die gerespekteerde geregsdienaar; drink brandewyn agter die stuurwiel; is geklee is vormlose, etiketlose klere met die aller-aakligste sandale; bring haar eerste nag in die polisieselle deur; weier om soveel as haar voornaam te verklap; beskik oor geen diplomasie om haar skerp tong te temper nie en ontdek die lyk van ‘n plaaslike inwoner met die intrapslag in haar nuwe huis.
Mevrou Smit word as ‘n enigma aan die leser voorgestel; sy het haar fisiese voorkoms verander en na ‘n klein plekke gevlug om van haar verlede te ontsnap. Alhoewel sy deurgaans die fokaliseerder is, word sy deur geheimsinnigheid omhul. Beide die leser en Mevrou Smit se eerste uitdaging is om vas te stel of die oorledene wel die beoogde slagoffer was – want haar voorkoms is baie soortgelyk aan die van Mevrou Smit tydens haar vorige lewe. Indien Mevrou Smit die eintlike slagoffer moes wees, beteken dit dat iemand uit haar verlede haar opgespoor het. En, indien sy nie was nie, wil sy nietemin weet wie vermetel genoeg was om ‘n lyk op haar nuwe kombuis se vloer te los. ‘Sy moes geweet het die dooie vrou gaan alles bedonder.’ (69)
Aronspoort as ruimte waarteen die roman afspeel, word op evokatiewe wyse beskryf: Die huise is oud, die erwe groot; daar is vrugtebome en leivore; antrasietstowe en sementdamme; rooi sonsondergange en grondpaaie. Die dominee en dokter geniet ex officio aansien en gesag; die Spar se voormalige rol as algemene handelaar is steeds sigbaar onder die nuwe laag verf; daar is rusies oor water en mineraalregte; die tennisklub en koffiewinkel is die plekke van sosiale samekoms en toeriste se tariewe vir dienste en produkte verskil van die van die inwoners.
Die vereistes van ‘n ‘cozy mystery’; ‘n subgenre van misdaadfiksie wat teen die agtergrond van ‘n klein, intieme gemeenskap afspeel en waar tonele wat geweld en seksuele aktiwiteite insluit slegs as agtergrondmusiek dien, word dus van meet af aan bevestig. Tipies van die genre is die ondersoekers dikwels amateurs wat die amptelike ondersoekers bystaan; die boosdoeners is nie reeksmoordenaars of psigopate nie; pleeg die moord(e) met wraak, gierigheid of jaloesie as motief en word met min of geen geweld in hegtenis geneem. Die ondersteunende karakters word dikwels komies uitgebeeld; moorde word nie op grusame wyses gepleeg nie en wonde en beserings word nie grafies beskryf nie.
Subkarakters sluit gewoonlik in: iemand met intieme kennis van die gemeenskap, overgesetsynde: ‘n kleindorpse skinderbek. In hierdie geval die dominee se skoonma met haar ongewone idiomatiese uitdrukkings. Daar is ook ‘n grillerige posmeester; ‘n verwaande pastoriemoeder; ‘n naïewe konstabel; ‘n wulpse dame gefokus op Operasie Manvang; ‘n eksentrieke omgewingsbewaarder en, op ‘n meer positiewe noot, ‘n aantreklike blou-oog dokter en ‘n vriendelike baba-ystervarkie. Die sinopsis sal Suid-Afrikaanse lesers onwillekeurig herinner aan Sally Andrew se bekende Tannie Maria, maar die verskille tussen haar en Mevrou Smit, is heelwat meer as die ooreenkomste. Mevrou Smit is beslis niemand se tannie nie en is ‘n ramp in die kombuis, heel anders as die moederlike Tannie Maria wat ‘n voorslagkok is en kos as liefdestaal gebruik. Tannie Maria is ook ‘n minsame, sensitiewe karakter, terwyl Mevrou Smit nie skroom om ‘n wildvreemde vrou in die straat trompop te vra of sy onderklere aanhet nie.
Die skrywer is welbekend vir haar kinderboeke en jong volwasse romans; hierdie roman vir volwassenes is prettige, ontspannende leesstof, selfs vir lesers wat normaalweg van raaisel- en speurromans wegskram.
“Die persoon wat hier sit, ’n vrou van ’n sekere ouderdom (darem nog nie só oud nie?) met vaal hare, ’n vormlose hemp, sandale met sokkies en met ’n ystervark op een voet, is vir haar heeltemal vreemd.” (p. 86). Buiten die ystervark, wat eers heelwat later bygekom het, is dit in ’n neutedop hoe mevrou Smit die leser se wêreld en die plattelandse dorpie, Aronspoort, binnekom. Met die nodige minagting van reëls en geregsdienaars, en ’n kort humeur. “Haar neusvleuels sper en sy haal diep asem. Tel tot twaalf. Tien is nie genoeg vir haar nie.” (p. 7) Terwyl ek grafiese geweld in boeke grootliks afgesweer het, is ’n “cozy mystery” soos hierdie roman van Elizabeth Wasserman, so reg in my kraal. Eerder as bloed en moord wat tot in grusame detail beskryf word, lê die sukses vir my in die skitterende taalgebruik van die skrywer en haar vermoë om ’n karakter – eintlik ’n dorp vol karakters – te skep wat boei van die eerste bladsy af. Elke uitspraak en gedagte van mevrou Smit, as fokaliseerder, spreek boekdele oor haarself en haar omgewing. “Plastieksakke. Die plek is sowaar agter die klip. Het die mense hier nog nie gehoor dat plastiek tot openbare vyand verklaar is nie? En met goeie rede.” (p. 12) Mevrou Smit se uitwyk na Aronspoort was bedoel om haar onsigbaar te maak, wat met haar geaardheid eintlik glad nie haalbaar is nie. Ook om haar verlede agter te laat, met nuwe identiteit en voorkoms, en agt kilogram wat toe eintlik nie te sleg aan haar lyf sit nie. “Sy maak ’n nota om die perskepitte in vrede te los en nooit die hekkie se skarniere te olie nie. Mevrou Smit hou nie daarvan om bekruip te word nie.” (p.13) Elizabeth Wasserman, wat bekend is vir haar Speurhond Willem-reeks en ’n rits jeugromans, bewys haar veelsydigheid as skrywer uitstekend met hierdie boek vir volwasse lesers. Ek sal bepaald in die ry staan vir ’n volgende boek as Mevrou Smit se aspirasies om amateur speurder te wees na dese nie uitgewoed is nie.
Dit was heel wat makkelijker te lezen dan mijn vorige boek in Afrikaans, Wonderboom.
De cover ziet er een beetje chicklitty uit, maar het is toch vooral een cosy mystery. "Mevrouw Smit" is op de vlucht voor haar verleden en duikt onder in een klein dorpje. Ze heeft zichzelf een nieuwe naam en een nieuw uiterlijk aangemeten, zodat ze door kan gaan voor een "tannie", wat hier blijkbaar betekent een oudere vrouw met overgewicht die er slonzig en onaantrekkelijk uitziet.
Ze is nog niet in het dorpje aangeland of de eerste dode is al gevallen, en er volgen er nog meer. Heeft de moordenaar het misschien op hààr gemunt? De politie ziet haar eerder als een verdachte, dus mevrouw Smit moet zelf op onderzoek uit.
Ondanks de doden die in rap tempo vallen, vond ik het verhaal pas tegen het eind echt op gang komen. Toch las het lekker weg. Het enige wat me stoorde was de fixatie op het uiterlijk van mensen, wat vooral tot uitdrukking kwam in veel fat-shaming en slut-shaming.
Mijn favoriete personage was het jonge "ystervarkie" (stekelvarken), dat mevrouw Smit als huisdier opgedrongen krijgt. Het beestje, genaamd Hester, neuriet als ze het naar haar zin heeft, en dat deed me opeens denken aan "Stekelvarkentjes wiegelied" van Annie M.G. Schmidt. Misschien neuriën stekelvarkentjes inderdaad.
4.5⭐️ Snoesige speurverhaal in die mooiste Afrikaans. Dit was nou pure escapism (ontsnapisme?!). Mevrou Smit is skreeusnaaks. Sy is n madam met n verlede en nou is sy incognito in n klein dorpie waar moeilikheid haar agtervolg soos n skaduwee. Uitstekende taal gebruik, GEEN VLOEKWOORDE NIE (baie respek vir skrywers wat deesdae dit regkry om nie krutaal te gebruik nie). Lees hierdie boek van Prof Wasserman as jy van ligte lekkerlees fiksie hou.
Die Fantastiese Mevrou Smit – Elizabeth Wasserman.
Teen hierdie tyd weet almal al dat daar vir my geen lekkerder leesstof as ‘n krimi is nie. Alhoewel die regtige donker “Nordic Noir” tipe boeke my heel gunstelinge is, is die teenpool daarvan, ‘n sogenaamde “Cozy crime” kort op die hakke daarvan. “Die Fantastiese Mevrou Smit” geskryf deur Elizabeth Wasserman kan ook in hierdie kategorie geplaas word. Jare terug het Mma Ramotswe (Alexander McCall Smith se No 1 Ladies detective) en haar avonture my vir ‘n hele lange reeks bekoor en meer onlangs die nimlike Tannie Maria (Sally Andrew se foodie joernalis). Mevrou Smit is egter geen moederlike Mma of Tannie nie. Nee, sy is Mevrou Smit en basta met die res. Dit is juis hierdie houding van haar wat die boek uiters genotvol en haar heel uniek maak.
Mevrou Smit se aankoms in Aronspoort is alles behalwe stil en diskreet soos haar plan was en sy bring haar eerste aand in haar nuwe tuisdorp in die polisieselle deur. Dit is egter nie die einde van haar dramatiese bekendstelling aan die dorp en sy mense nie. In die kombuis van haar nuut aangekoopte huis lê die lyk van ‘n wulpse blondine – een wat herinner aan hoe Mevrou Smit gelyk het voor sy ‘n paar kilogram, vormlose klere en Birkenstocks is haar lewe toegelaat het. Ja, Mevrou Smit steek beslis iets weg en sy sal boonop haar eie onskuld moet bewys in hierdie nuwe vreemde omgewing.
Aronspoort is soos enige klein en fraai dorpie gevul met burgererwe, leivore, ongewone troeteldiere en talle tipiese karakters. Daar is die dorp se flerrie (wel nou vermoor), die vreeslik fromele dominee en sy ewe formele mevrou dominee, die aantreklike dokter en die lokale skinderbek wat in hierdie geval ook Mevrou dominee se ma is. Die dorp moet natuurlik ook ‘n bymekaarkomplek of twee hê waarvan die een se eienares die dorp se poppie is – boonop een wat lekker kan bak en kook. Heerlike ander karakters vul die tafereel aan – onder andere ‘n vraatsige geoloog en ‘n sonder frilletjies groen kampvegter. Die dorp se skoonheidsdeskundige wat ook ‘n binneversierder is bied die nodige eerste vriendskaplike skakel na die mense van die dorp. ‘n Oulike ystervark voltooi die prentjie. Wie sou nou kon dink dat ‘n ystervark so oulike troeteldier is en kan neurie?
Kort voor lank lyk dit asof dit nie die enigste moord is om op te los nie en Mevrou Smit moet ook versigtig in haar spore trap om haar eie verlede te hou by presies wat dit is – die verlede. Sy vind ook dat sy miskien nie so stomp staan teenoor die manlike geslag soos wat sy gedink het nie en dat dit baie moeilik is om gesigloos in die platteland te verdwyn. Ook dat mense orals eintlik maar net mense is en tog altyd die kapasiteit het om te aanvaar.
Ek hoop dat daar nog ‘n paar moorde in Aronspoort gaan plaasvind want dit sal heerlik wees om weer saam met Mevrou Smit ‘n moord of twee op te los. Ek het die boek verskriklik geniet en kon hom skaars neersit oor die naweek. “Die Fantastiese Mevrou Smit” is sowaar ‘n fantastiese boek.
Mevrou Smit ry Aronspoort in. Sy het hierdie plattelandse dorpie gekies as haar nuwe blyplek – of is dit nou, skuilplek? ‘n Nuwe begin, ‘n nuwe identiteit, nuwe vooruitsigte.
Hierdie vurige vrou slaap toe nou sommer die eerste aand al in die tjoekie. En stap in haar nuwe blykplek in, net om ‘n lyk in haar kombuis te kry. Bliksem, wat ‘n begin!
Die karakters in “Die Fantastiese Mevrou Smit” is so kleurvol soos die voorblad van die boek. Die stereotipiese plattelanders, kompleet met ‘n Mevrou Dominee and ‘n aantreklike dokter. Maar wag, is daar tog meer as wat die dorp se skinderbekke raaksien?
Mevrou Smit draai nooit doekies om nie, en sy is duidelik nie daar om vriende te maak nie, so ek het haar karakter vreeslik geniet! Seker omdat ek wens dat ek ook so selfversekerd in my opinies kan wees.
Natuurlik krap sy waar dit nie jeuk nie, is nie bang om op tone te trap nie, is eintlik vrek ongepoets en laat haarself glad nie intimideer deur die plaaslike ‘hooggeplaastes’ nie. En natuurlik, sy is Mevrou Smit, niemand weet eers wat haar voornaam is nie?
Ek is dalk effens oorsensitief, maar al wat my gepla het, is die feit dat die ekstra gewig en vetrolletjies om Mevrou Smit meer na ‘n “Tannie” te laat lyk, soms beskryf is asof ekstra kilogramme direk verteenwoordigend aan “minder aantreklik” of “slonserig” is? Maar dit is seker net ek!
Daar was gedeeltes in die boek waar ek letterlik hardop gelag het, soos die:
“Wat drink jy?” vra Anderson se knapie nuuskierig. “Aperol. Wil jy ‘n slukkie hê?” “Nee dankie. Dit lyk soos Oros!”
Dan is daar wyshede:
“Hulle sê ‘n ma is slegs so gelukkig soos haar ongelukkigste kind.”
En skerp waarhede:
“Die dorp se kerk is werklik mooi en die argitektuur het haar vir ‘n paar minute besig gehou. Die ou gebou het ‘n statigheid wat verlore gegaan het in die ontwerp van al die ander kerke waarin sy al was. Seker nie vergelykbaar met katedrale in Europa nie, nee. Minder prag en praal, meer erns. Dit is ‘n gebou wat mense kan aanspoor om hulle sondes te oordink. Nie te bieg daaroor nie, want bieg is ‘n ander saak. Dit sit nie in protestante se bloed om te bieg nie. Hulle huigel en swyg.”
Ek het erens gelees dat ‘n “cosy mystery” as ‘n “knussie” beskryf word in Afrikaans – en ek hou nogal daarvan. Hierdie “knussie” is die ideale manier om net te ontsnap. Dis pret, bekoorlik, vermaaklik, maar met ‘n moord (of meer) wat opgelos moet word, en die vrae oor Mevrou Smit se (donker?) verlede, natuurlik nie altyd net grappies en giggel nie. O ja, moenie vergeet van die spook en die ystervark nie.
“Die Fantastiese Mevrou Smit” is presies die tipe boek wat my opgewonde maak en motiveer om meer in Afrikaans te lees!
Hierdie is die skrywer, Elizabeth Wasserman se eerste volwasse roman. Asseblief Elizabeth, ons is reg vir ‘n volgende Mevrou Smit!
Aronspoort sal nooit weer dieselfde wees nadat Mevrou Smit haar intrek daar geneem het nie. Sommer met die intrapslag vryf sy almal verkeerd op en bring haar eerste nag in die aanhoudingselle by die polisiestasie deur. En dit is maar net die begin van baie drama in haar nuwe tuisdorp, hier waar sy so graag net wou kom ‘wegraak’ het. Asof ʼn nag in die selle nie reeds erg genoeg is nie, stap mevrou Smit die volgende oggend haar nuwe tuiste binne en vind die liggaam van die vermoorde eiendomsagent, Suzette Pelser, op haar kombuisvloer. Is dit blote toeval dat die vermoorde redelik baie na ʼn jonger en maerder weergawe van mevrou Smit lyk? Of het die moordenaar dalk die verkeerde vrou vermoor? Die verhaal spring met ʼn uitstekende openingshoofstuk weg wat die leeslus en nuuskierigheid lekker prikkel. Reeds op bladsy 9 besef die leser dat mevrou Smit iets het om weg te steek: ‘Sy het ʼn plan en moet daarby hou.’ Bladsy 10: ‘Die bril is blote vermomming. Hier sal sy veilig wees.” Wie is die geheimsinnige mevrou Smit werklik en waarvoor hardloop sy weg, of kruip sy weg? Aronspoort word geskilder as ʼn tipiese klein dorpie met die egte kleindorpse mentaliteit. Daar is ʼn aantreklike dokter, ʼn grillerige posmeester, ʼn onbevoegde konstabel, ʼn formele dominee en mevrou Dominee wat dink die son sak wanneer sy gaan sit. En dan is mevrou Dominee se ma nog die grootste skinderbek van die kekkelklub op die dorp. Die wulpse slet is wel vermoor, maar skinderstories oor haar lê die dorp vol. Voeg hierby nog ʼn troetel ystervarkie en ʼn krokodil en jy het ʼn goeie mengelmoes van karakters wat die verhaal kan voortstu. Die kekkels kom elke dag by Kekkel-en-Kraai bymekaar waar hulle al die nuutste skindernuus deel. En natuurlik is mevrou Dominee deel van die groep – haar ma is immers die hoofkekkel in die verhaal. Ek moet darem ʼn lansie breek vir die kekkels, want mevrou Smit sê: ‘Hulle is bitsige skinderbekke, maar hulle is barmhartig. (bl 86) En maak die barmhartigheid hulle nie sommer dadelik meer aanvaarbaar nie? Wasserman se cozy mistery sorg vir ure se prettige leesgenot en laat die leser na die tyd met ʼn genotvolle sug agteroor sit. Hierdie is beslis lekker ligte leesstof om korte mette van ʼn luilekker Sondagmiddag te maak.
Mevrou Smit was met die eerste ontmoeting nie eintlik iemand wat ek graag beter wou leer ken nie. Sy skel op 'n ou tannie wat oor die straat stap en toe die polisie vir haar vra of sy nugter is, pluk sy haar botteltjie brannas uit en vat 'n sluk reg voor die arme polisieman. Vir die res van die boek doen en sê sy die een belaglike ding ná die ander. En hoekom het sy nie ‘n voornaam nie? Hoekom maak sy of sy ‘n “tannie” met los klere en lelike skoene is? Wie is sy eintlik? Wat kom soek sy op Aronspoort? Hoekom lê daar ‘n lyk op haar kombuisvloer toe sy die eerste keer haar voete in haar nuwe huis sit? Is die dokter met die mooi blou oë vriend of vyand? Kan ‘n mens regtig ‘n ystervark as troeteldier hê? Wat van die warmbloedige joernalis wat van die Italiaanse krygsgevanges afstam? En die grillerige posmeester met die krokodil? Wie is mevrou Smit regtig? Wat soek sy op Aronspoort? En hoekom raak mens so geheg aan so ‘n dwarsbedonnerde karakter? En hoekom glimlag jy dwarsdeur die hele boek, al word die lyke al hoe meer? Jy sal maar self vir mevrou Smit moet ontmoet om uit te vind. Ek waarborg jou jy sal die boek met ‘n glimlag toemaak.
Sjoe, het die boek my nou 'n effe rukkie gevat om te lees. Dis nie dat ek nie van moordstories hou nie, maar meer dat ek nie 'n groot Afrikaans leser is nie (ja ek weet, ek is gereeld gesê my voorouers draai om in hulle graf daaroor 😂).
Ek het gesukkel om van Mevrou Smit te hou. Die vrou - hoewel sy goeie redes het vir haar houding - was net so ongeskik! Ek kon nie glo sy praat so met sommige mense nie.
Die storielyn nie sleg was nie (ek kon wel nie die moordenaar uitwys nie) en ek sal definitief meer van die stories lees net om bietjie meer in Afrikaanse stories te kom.
’n Prettige lees. Ek het veral die karakterisering van Mevrou Smit geniet; sy is uniek en geneig om drama te vind (of selfs te skep). Die konstante refrein van verwysings na haar as “Mevrou Smit” het seker ’n doel gedien, maar teen die einde van hierdie knussie is dit bietjie holrug gery. Die oplossing van die raaisel het vir my té skielik gekom, en sonder genoegsame opbou. Daar was ook ’n paar los storiedrade wat nie heeltemal afgehandel is nie. Maar algeheel was dit ’n lekkerlees ervaring.
Mevrou Smit is nie 'n katjie wat sonder handskoene aangepak moet word nie. Sy is vindingryk en uitgeslape. Boonop is sy nie op haar mond geval nie. Dis 'n storie met moord, basaar en 'n mooi dokter, met 'n ligte hand opgedien - misdaadverhale hoef mos nie altyd wroegend en swaarmoedig te wees nie. Ek hoop daar is 'n opvolg - want ek is seker mevrou Smit kan nog vele avonture hê.
Belaglik. Niemand in hierdie day en age verwys na hulleself as Mevrou so en so nie. Nie eers as Mevrou Dominee nie. Nie eers in die mees snobistiese en verouderde plekke in Suid-Afrika nie. Het n funky oulike storie verwag maar die hoofkarakter gee my n pyn😒 DNF. Sal nooit weer iets optel van hierdie skrywer nie. Sy weet duidelik nie hoe gewone mense met mekaar praat nie. Heeltemal out of touch met reality. Sommer vies vir myself omdat ek geld op hierdie snert gemors het
Die storie is goed geskryf, maar daar is steurende stereotiperings wat afbreuk doen. Mev Smit se karakter is gekompliseerd, interessant en soms wispelturig. Kleindorpie-karakters is wel goed beskryf.
Waar begin ñ mens... Mev Smit as ek eendag groot word wil ek jy wees. Jy is my spirit animal. Braaf, goeie sin vir humor, sarkasties wat kan verkeerd gaan.
Ek is Engels en geniet elke nou en dan 'n Afrikaanse boek. Ek is so bly die boek was by ons boekklub voor gestel want ek het dit vreeslik geniet. Mevrou Smit is awesome - ek love haar karakter in die storie - sy vat geen nonsense nie ek is eerlik. Die boek is een wat jy nie maklik kan neersit nie.
Dit was een van die beste boeke wat ek in' n lang tyd gelees het.
Die eerste boek in die reeks het ek gemaklik en vinnig deurgelees. Die skrywer hou jou net genoeg op jou tone dat jy nuuskierig bly, sonder om moeg te raak van te veel spanning.
Alhoewel sommige gedeeltes ’n bietjie lankdradig gevoel het en dalk kon verkort word, was dit oor die algemeen ’n lekker leeservaring. Ek is beslis reg om die volgende boek in die reeks aan te pak!