Voor die ontstaan van Tír na hÓige, die fae-ryk, was die fae as slawe en gevangenes van die mense aangehou. In hierdie tyd word daar ’n profesie gemaak: ʼn Faedogter sal gebore word uit beide die Winter- en Somerryk. Sy sal die enigste een wees met die vermoë om haar opeising as Volbloedfae te stop en sal ook kan kies aan watter ryk sy opgeëis word. Sy sal met die menskoning trou en oor mense heers waarna sy alle mense sal uitwis.
Melody is die kind van die profesie. Sy word groot as wisselkind; ’n faedogter wat tussen mense grootgemaak word. Toe Melody die mense se troonprins, Donohue, ontmoet lyk dit of haar toekoms reeds uitgelê is. Gaan sy die pad van die profesie loop, of wag daar ’n ander toekoms op haar?
’n Beeldskone Nagmerrie speel af voor Hartklop, die eerste boek in hierdie opwindende nuwe fantasiereeks.
Ek wens daar was boeke soos hierdie toe ek ‘n tiener was!
Die wêreld en die karakters is heeltemal uniek in terme van Afrikaanse fantasie en dit was so lekker om in my moedertaal te kan lees sonder om ‘n woordeboek nader te trek.
Baie van die plot twists was voorspelbaar maar daar was defendetief’n paar wat ek nie sien kom het nie, veral die einde.
Die storielyn was baie vinnig siende dat hierdie net ‘n novella is maar ek het verseker gesmag na meer inligting in terme van die verhoudings, karakters en die wêreld.
Hierdie was defendetief nie ‘n tipiese “happily ever after” boek nie en ek’s mal daaroor.
Ek kan nie wag om boek 1 van die reeks in te vaar nie.
Ek het heerlik aan Sunel Combrinck skrywer se novella, ʼn Beeldskone nagmerrie gelees.
ʼn Beeldskone nagmerrie is die voorstorie van Sunel Combrink se Die ontwaking van winter-reeks en dit word dus ook bemark as die storie voor die storie.
In ʼn Beeldskone nagmerrie kom ons agter hoekom sekere fae in Hartklop (boek een) van die reeks, is soos wat hulle is.
Ek was vasgenael in Melody en Donohue se storie en ek moet bieg, ek het baie simpatie en empatie met hulle en ek sal hulle na dese amper enige iets wat in die volgende boeke mag gebeur, vergewe. (Of dan ten minste verstaan.)
Ek het eerste Hartklop gelees en toe ʼn Beeldskone nagmerrie omdat dit die volgorde is waarin dit gepubliseer is, maar ek sou nogal sê as jy nog nie een van die twee gelees het nie, om dit andersom te lees.
Alhoewel die reeks gemik is op tieners, beveel ek dan ook onomwonde die twee boeke aan vir enige iemand wat van high fantasy hou.
Soos wat dit maar in fantasie gaan, neig sommige tonele ietwat na die donkerkant en is daar tonele van geweld. Die tonele is egter nie te grafies nie en volgens my opinie absoluut noodsaaklik vir agtergrond.
Ek moet bieg, ek is totaal begogel deur die reeks tot dusver en ek wag met ʼn opgewonde hart vir volgende aflewering.
Ek sou raai die boeke is geskik vir tieners van so vyftien jaar en ouer. (Alhoewel ek my verbeel die skrywer het genoem dis gemik op sewentien jaar en ouer)
Die reeks word deur Lapa uitgewers uitgegee en behoort in die meeste boekwinkels, sowel as op Kindle beskikbaar te wees.
’n Beeldskone Nagmerrie speel af voor Hartklop, die eerste boek in hierdie opwindende nuwe fantasiereeks.
In hierdie boek vat Sunel ons terug na die begin. Waar die oorlog uitgebreek het, hoekom die Fae so gehaat is, en ook hoe Melody en Donahue se tragiese liefde begin en geblom en vergaan het.
Net soos Hartklop skryf Combrinck 'n aangrypende verhaal waarmee almal hulself kan vergelyk op een of ander manier. Met vinnige flitse tussen die twee hoofkarakters se lewe, die novelle die ideale naweek of langpad tydverdryf vir enige tiener. En ek is 100% eerlik as ek se dat julle nie die een wil mis nie.
'n Beeldskone Nagmerrie is beskikbaar by jou naaste boekwinkel vanaf 1 April 2023.
Donohue, kroonprins van die menseryk, is van klein af teen fae gewaarsku, veral deur sy pa, Koning Alastor. Daar word gefluister dat fae wreed is, wraaksugtig, gevaarlik, en dat ‘n faekoningin gebore sal word wat die fae sal lei om hulle menslike juk af te gooi en die mensdom uit te wis. Alastor se vrees vir hierdie profesie noop hom om drakonies teenoor fae op te tree, maar sy seuns, Donohue en Kian, begin hierdie standpunt betwyfel toe Donohue sy hart op ‘n kruisfae, Melody verloor.
Melody word as pleegkind deur die Beckett-gesin grootgemaak. Sy is bewus van haar status as kruisfae en worstel om haar teenstrydige magte onder beheer te hou en die bestaan daarvan weg te steek. Haar ontmoeting met Donohue is egter die begin van ‘n sneeubal-effek wat beide fae en mense se toekoms onherroeplik sal verander.
Hierdie fantasieroman vir jong lesers is die tweede in die ‘Hartklop-reeks’, maar is die proloog van sy voorganger ‘Die ontwaking van winter’ (Lapa, 2022). Dis die verhaal van Tír na hÓige, die faedimense, se oorsprong, nog voor die tyd van skepe aan die Kaap, gedurende die heerskappy van ‘n koninkryk genaamd Kasteelhoogte, en kan derhalwe alleenstaande gelees word. Dis in wese ‘n deernisvolle verhaal van jong liefde, maar tonele van geweld en wreedheid beklemtoon die erns van die konflik tussen fae en mense.
Die uiteensetting van die faeklassestelsels en -spesies wat kortliks in die eerste roman ter sprake kom, word baie duideliker hier uiteengesit; juis omdat die geskiedenis daaragter die kern van die verhaal uitmaak. Dit baan die weg vir ‘n heerlike nuwe fantasiereeks in Afrikaans, iets waarvan daar hopeloos te min is.
Twee aspekte is egter problematies: Eerstens is dit nie duidelik vir watter ouderdomsgroep die reeks geskik is nie; dis toeganklik en eenvoudig geskryf, maar die grafiese wreedheid, alhoewel relevant en toepaslik, maag jong lesers afskrik. Daar is wel ‘n waarskuwing teen gewelddadige tonele ingesluit, maar laat nietemin onsekerheid oor ouderdomstoepaslikheid.
Die epiloog verklap genoeg inligting om ‘n volledige opvolgroman te regverdig, maar op ‘n bykans afgejaagde en terloopse wyse. Dis hierdie leser se persoonlike opinie en hoop dat ‘n opvolgroman wat Melody se opkoms en ondergang, asook die geskiedenis van die uitgestorwe Herf- en Lenteryk en meer inligting oor die fassinerende Gruwelryk sal verskaf, ook die lig sal sien.
“'n Beeldskone Nagmerrie” is 'n jeugfantasieboek, ‘n novella wat die oorsprong van die fae-wêreld, Tir na Hoige, vertel. Die boek is die tweede in “Die ontwaking van winter” reeks maar kan alleenstaande gelees word. Veral ook omdat dit die proloog van die eerste boek is – so dit berei jou voor op “Hartklop (Die Ontwaking van Winter, #1)”.
Die storie volg die lewe en liefde van Melody, 'n kruisfae-wisselkind wat in 'n menseryk grootgemaak word. Sy ontmoet Donohue, die seun van die wrede koning, en raak verlief op hom. Donohue se pa, die koning van Kasteelhoogte, hou fae aan as slawe en gevangenes. Melody en Donohue se liefde is verbode en gevaarlik, want 'n profesie voorspel dat Melody die fae sal lei om hulle menslike onderdrukkers te verslaan.
Die boek is 'n spanningsvolle en emosionele leeservaring wat die leser in 'n magiese wêreld inlei. Omdat dit ‘n novella is (120 bladsye) is die pas vinnig. Die skrywer gebruik Keltiese mitologie en Afrikaanse kultuur om 'n unieke en fabelagtige verhaal te skep. Die verwysings na die geskiedkundige en historiese Kaap was uniek en slim gebruik. Die karakters is goed uitgewerk en die konflik tussen fae en mense is realisties en roerend.
Dis ‘n deernisvolle verhaal van jong liefde, wat veg vir die verlossing van ‘n wrede boelie. Die boek bevat ook tonele van geweld en wreedheid wat sensitiewe jong lesers kan ontstel.
‘'n Beeldskone Nagmerrie’ is 'n uitstekende bydrae tot die Afrikaanse fantasiegenre en 'n moet-lees vir liefhebbers van avontuur, romantiek en die magiese.
Hierdie boek speel af voor Lumi gebore is. Hierdie is die Winter Koningin Melody se storie hoe sy en die Gruwel Koning Donohue mekaar ontmoet het. En hoe als vir hulle skeef geloop het. Hierdie boek vat jou op 'n baie intresante avontuur waar jy nuwe karakters ontmoet. En sommer 'n paar keer jou hart uithuil vir Melody.
As jy van Sarah J Maas se boeke hou sal jy definitief hierdie ene geniet. In my opinie, sal ek 'n Beeldskone Nagmerrie eerste lees voor Hartklop. Dan sal jy alles beter verstaan. Hierdie is 'n moet lees.
Hierdie was rerig 'n baie mooi storie. 5 sterre vir hierdie beeldskone nagmerrie!
'n Beeldskone Nagmerrie is op die rakke vanaf die 1ste April