Jump to ratings and reviews
Rate this book

Wildvreemd

Rate this book
Die heuningboer se stomtaal pla my min. Nog nooit was dit vir haar nodig om te beduie sy sal markdag wag by die Ruig se rand nie. Vandat ek haar ken, daag ek net op en sy is daar. Met haar heuning en haar kerse, haar kaal voete en stiltes. Soms sal sy roep om te laat weet sy is naby – soos ’n uil, of ’n jakkals. Maar nooit sal sy ’n woord voor my praat nie. Net een slag, jare gelede, een môre, het ek haar hoor huil. Toe sy die flesse aangee, het ek die vars bloed onder haar vingernaels gesien, haar handpalms, rooi gevlek, soos herfsblare. Aaneen het sy gehuil, sag soos ’n reëntjie. Maar ek het nie gevra nie; sy sou nie kon sê nie.

Nege jaar tevore het die vrou haar intrek in die Ruig geneem. Een maal per maand stap sy dorp toe om haar heuning te verkoop; dan trek die vroue wat haar gewaar hul asem skerp in. Sy vergiftig seuntjies, sê die mense. Die merk aan haar keel, dis waar die hiëna haar gebyt het; daarom is sy stom, sê hulle. ’n Gevaarlike vrou is sy; ’n heks; ’n hoer. Mal . . . Nege jaar ná haar aankoms stap sy nog ’n keer dorp toe, dié keer gedryf deur haar werklike bemoeienis, ’n alleenstryd teen wildstropers. Die hele dorp hou asem op. Dan breek daar ’n veldbrand teen die berghange uit . . . en dis asof almal se vrese en begeertes, ou wrokke en verlangens self in vlamme uitbars.

257 pages, Paperback

First published January 1, 2011

2 people are currently reading
28 people want to read

About the author

Carina Stander

11 books15 followers
Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ’n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria werk sy ’n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Ná ’n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ’n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, Onthou.

Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ’n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif Lééf en finalis vir die AKTV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole. Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg en word in 2013 ook in Nederlands vertaal (Uitgeverij Athenaeum). Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ’n kinderboek deur ’n kleuter. Carina woon in die Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
26 (43%)
4 stars
21 (35%)
3 stars
9 (15%)
2 stars
3 (5%)
1 star
1 (1%)
Displaying 1 - 9 of 9 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,488 reviews85 followers
January 5, 2023
#Wildvreemd – Carina Stander
#Tafelberg

‘Op ‘n dag verlaat die siel die lyf. ‘n Figuur klim uit ‘n boom en gaan soek sy eie woonplek.’ (183)

Sy was nege jaar gelede Angelina. Nou, vandat sy in Die Ruig woon met haar bye as geselskap en beskerming, is sy ‘Honey’ of ‘Bosvrou’. En dis by monde van diegene wat haar skramsweg goedgesind is. Vir die res van die afgeleë Limpopo-gemeenskap is sy ‘Skarlakenvrou’; ‘Onmens’; ‘Vrekbek’; ‘Mensdier’ en ‘mal’; ‘heks’; ‘hoer’. Die beweerde allesweters fluister dat ‘n hiëna haar aan die keel gebyt het, daarom praat sy nie; dat sy klein seuntjies vergiftig; dat sy swaksinnig is. Selfs met Braam Botha, saam met wie sy een maal ‘n maand ‘n geleentheid na die boeremark kry om haar heuning en kerse te verkoop, het sy nog nooit gepraat nie. Wel een keer gehuil; die dag wat daar vars bloed onder haar vingernaels was. Sy het ‘…oorlog verklaar tussen taal en stilte…’ (18)

Wildstropery en die plundering van die natuur is sentrale temas in wat gedeeltelik as ‘n eko-roman geklassifiseer kan word. Dis egter veel meer; dis die verhaal van ‘n gemeenskap wat met hulle eie vooroordele en vrese gekonfronteer word toe ‘n verwoestende bosbrand uitbreek.

Brenda, Braam se verbitterde vrou met die donker geheim van die dag in die spens, se wegkruip agter haar onsekerhede word ontbloot deur die sagtheid van liefde, veral die van haar kleinseun, Ebro, die laaste band met haar vervreemde seun: ‘Haar arms trek my nader en hou my vaster en vaster, totdat ek onthou van ‘n rusplek waarna ek my lewe lank nog soek.’ (131) Jacobus Lasarus, enigste Botha-seun, het homself so ver van sy herkoms verwyder dat hy selfs sy naam prysgegee het: ‘Dis sy eie verdriet wat hom weggevat het van alles wat hy liefhet.’ (129) Maraai se jarelange ontkende mishandeling (‘Eintlik is ek sonner makeer…’ – 39) deur die man wat belowe het om haar te beskerm, Jan Mampoer, kom tot ‘n keerpunt wanneer hy en haar geliefde kleinkind, Groentjie, verdwyn en sy alleen met haar twee uiteenlopende seuns, Jan Rats en Jan Pampoen agterbly.

Zack van Aarde van Natuurbewaring is in sy eie stryd betrokke. Sedert sy vrou, Jala, se afsterwe, is hy alleen-ouer vir sy dogter, Ingrid, die kind wat haar ma se bruidsluier op haar troufoto wou afkrap om te kon sien hoe die vreemde tannie lyk wat nou eintlik haar ma is. Beide van hulle ervaar ‘n onverklaarbare, maar nuuskierige deernis teenoor die geheimsinnige byeboer, die stom bosvrou. En dan is daar jong Wouter Hartman, delikaat gebalanseer op die ragfyn grens tussen die wreedheid en sagtheid van die jeug.

Die roman bestaan uit vyf dele: ‘Daar was ‘n brand’; ‘Vier maande na die vuur’; ‘Heuning na die reën’; ‘Ou bloed, jong bloed’ en ‘Vlees teen vlees’. Verskeie karakters vertolk beurtelings die rol van eerste persoon verteller; ‘n tegniek wat suksesvol aangewend word om die leser van eensydige beoordeling te weerhou en die geleentheid gee om subjektiewe motiewe en motiverings, wat andersins verborge sou gebly het, te ontleed. Saam met die karakters besef die leser dat daar soms ‘…net sestig meter tussen wond en wonder…’ is (136) en dat mens dikwels op die plek waar jy spreekwoordelik gesterf het, moet oorleef.

Angelina herinner sterk aan een van Clarissa Pinkola Estės se ‘Women who run with the wolves’ en die (vertaalde) aanhaling op bladsy 5 is besonder gepas: ‘Nag na nag word ons gebore en herbore uit dieselfde wilde droom, en ons keer terug na die daglig met growwe hare in ons greep, ons voetsole swart van die klam aarde…’

Carina Stander is deesdae alombekend as skrywer van ‘Die bergengel’-reeks (Protea Boekhuis); hierdie is haar debuutroman wat reeds in 2011 gepubliseer is, maar ek was, tydens die lees daarvan, toenemend oortuig van die feit dat haar fenomenale talent reeds hier, meer as ‘n dekade gelede, duidelik sigbaar was. Dis ongelukkig nie maklik bekombaar nie, maar diegene wat wel gelukkig genoeg is om ‘n kopie te kan bekom, sal nie onaangeraak gelaat word nie. As evokatiewe natuurroman is dit vergelykbaar met die werk van Dalene Matthee en ek is dankbaar dat De Wet Theron (Theron Books) vir my ‘n eksemplaar kon opspoor.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
Profile Image for De Wet.
279 reviews24 followers
June 25, 2020
Ek lamenteer nou die feit dat 'n boek soos hierdie uit druk uit is.

Die hele storie in Wildvreemd word deur ek-vertellers oorgedra - nege van hulle, as ek so vinnig tel, maar dit kan meer wees. Aanvanklik maak dit die boek moeilik omdat jy nie lekker weet wie is wie en waar hulle inpas nie, maar jy leer gou. Wees net bietjie geduldig.

'n Langhaar donkerkop vrou bly op haar eie in 'n ruigte langs die Limpopo-rivier. Sy voer 'n alleenstryd teen wilddiewe deur hulle strikke te verwyder en boer met heuning om haarself aan die lewe te hou. Sy is 'n bosvrou (een van die meer vleiende name wat die gemeenskap aan haar toedig).

Hoe kom sy hier? Wat is haar storie?

Die mense in haar omgewing reageer op verskillende maniere teenoor haar. Die jong Ingrid vind haar fassinerend. Die wildbewaarder Zack ontwikkel 'n obsessie met haar en sit elke aand buite haar huisie, te bang om iets aan die wilddiewe te doen omdat dit tot aktiwiteit kan lei wat dié vrou uit die Ruig forseer. Brenda Botha dink haar man Braam verneuk haar met die bosvrou.

Daar is 'n vernietigende brand en 'n kind raak weg.

Hierdie is maar net 'n paar van die karakters en intriges wat die leser moet ontrafel deur vele voetspore in die wildernis te volg.

Wildvreemd is so bietjie van 'n Alexander Strachan ontmoet Dalene Matthee ervaring. Meer toeganklik as die een, minder toeganklik as die ander, wat net 'n lekker diep leeservaring tot gevolg het sonder om jou oë oormekaar te laat kyk.

Soos altyd skilder Carina met haar woorde en maak jou moeiteloos deel van die Waterberg se omgewing en natuurskoon. Sy stel 'n fyn waarnemingsvermoë ten toon, veral met betrekking tot menslike gedrag; in hierdie geval mees pertinent hoe mense teenoor 'n buitestaander optree, iemand wat die reëls breek en nie in die gemaklike boksies pas nie. 'n Andersheid wat sonder skroom bedreiging en onheil word vir dié wat dit nie verstaan nie.

Lieflike boek.
Profile Image for Anne-Marie.
261 reviews25 followers
January 27, 2019
Wildvreemd is 'n verhaal wat op jou groei soos mos. Stadig-stadig trek dit jou in en jy raak verstrik in die lieflike taalgebruik en hou asem op dat die Byeboer vrou okay gaan wees. 'n Verruklike lees.
Profile Image for Julia.
568 reviews19 followers
August 10, 2016
wat 'n ongelooflike boek. ek het nie eers baie verwag nie, want ek weet so min van die boek maar ek is eintlik bly, want ek het geen verwagtinge gehad nie.

die taal en die woordgebruik en die storie - alles was fantasties gewees. ek het ook baie gehou van die onvoorspelbaarheid, wat altyd vir my 'n groot ding is.

sjoe - ek sal nog meer van hierdie skrywer se boeke wil lees. dit was nou voorwaar 'n fees. hoop sy skryf nog 'n paar boeke.

Profile Image for Trisa Hugo.
Author 10 books34 followers
January 26, 2019
Enige boek wat ek aangrypend genoeg vind om te herlees, kry 'n ***** by my.
4 reviews
October 17, 2018
Die verhaal van die wildvreemde byeboer (en wildvreemder dorpsmense) word in kort hoofstukke vertel, afwisselend deur die boer, die boer se vrou, die plaaslike rugbyheld, matriekmeisie Ingrid, Ingrid se pa die wildbewaarder en haar dramastudent-penvriend. En natuurlik die enigmatiese byeboer, "Honey". So bietjie soos Jodi Picoult: afwisselende vertellers elkeen met sy eie styl en ritme, en kompleet met 'n paar skokkende kinkels heel aan die einde van die kabel. Maar die skryfstyl is meer poëties as Picoult s'n. Of miskien is dit omdat dit so lekker is om sulke móói Afrikaans te lees, dat ek dit as poëties ervaar het. Die Byeboer sien: "Buite die oop venster is die volmaan nou 'n heel heuningkoek en die sterre 'n swerm bye." "Stilte is 'n oergeluid," op bladsy 1 en bladsy 223, is ook die titel van een van Carina Stander se gedigte, lees ek in 'n onderhoud. Jip, die skrywer is 'n digter! Wildvreemd was in 2011 haar debuutroman, en ek hoop sy skryf nog.
Die finale ontknoping was effens onbevredigend. Ek bly besorg oor die onuitgeklaarde lot van een spesifieke (en deur my geliefde) karakter/verteller. Maar dit is 'n pragtige, 'n wonderlike boek, maklik 'n 7.5 uit 10.
Profile Image for Amica Swanepoel.
21 reviews2 followers
May 21, 2019
Pragtig, liries, poëties. ‘n Storie met goeie intrige. Die dialoog tussen Ebro en Ingrid was vir my effe pretensieus (dalk aspris so), ook Wouter en Ingrid as karakters nie baie relatable vir my nie... maar buite dit is Wildvreemd ‘n knap geskrewe debuut en pragtige storie
Profile Image for Carlize Oberholzer.
14 reviews1 follower
December 27, 2015
Stunning, ek is so moeg vir Afrikaanse skrywers wat TE hard probeer om iets modern te skryf. Die was perfek!
Profile Image for Louisa Mackay.
139 reviews2 followers
October 5, 2025
'n Storie wat ek gevind het gedurende 'n tyd waar ek dit die nodigste gehad het. Dankie, Carina.
Displaying 1 - 9 of 9 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.