Hierdie vrou kan skryf. Ingebed in die gewilde mileu van enkelouerskap, onafhanklike sterk vroue, en die metro-lewe, vertel sy 'n verhaal van akkers opgaar deur 'n eekhoring wie se sak swaar word om te dra, en dan tog die oes uiteindelik uitrol vir 'n lang warm winter, gevul met goedheid en genade.
Die feetjie is uit die (meer tradisionele liefdes-) feëverhaal gehaal, met die verhaal self 'n deursnee van 'n moderne jongvrou se omstandighede. Die Suid-Afrikaans gulheid en gasvryheid word gekleur met 'n reënboog van karakters, wat elkeen 'n unieke bydrae maak tot die storie.
Die belangrikste is die emosies wat die leser intrek in die storie en met die karakters laat verbonde sluit. Die einde spoel sag en volrond deur die psige van die leser. Die vermaak was daar. Die elemente van menswees ook: volmaak of onvolmaak. Maar op die ou einde onthou 'n mens 'n kleurvolle prentjie van helder baldadige kleure in 'n perfekte geheel.
'n Heerlike ontpsanningsverhaal waarin vriende en familie die simbale slaan in 'n orkes van moontlikhede, en kinders, met oorgawe, die ritme van die baskitare bekendstel.