Weduwee is ‘n verdrietige woord, ‘n toestand waarmee Cato haarself met moeite vereenselwig. Maar hier waar sy in die vliegtuig sit, is dit ongelukkig haar werklikheid. Haar man is dood, ‘n skamele drie jaar ná hul troue. Sy is op pad terug Stellenbosch toe, waar Kristina en Ben nog is. En Helen en Marcus net om die draai in Kaapstad woon. Haar ondersteuningsnetwerk. In Stellenbosch wag nie net haar vriende op haar nie, maar ook die gewilde Big Pink- teaterrestaurant. Hoe sy kans gesien het om ‘n onderneming te koop, weet sy nie, en wens dit was net ‘n nare droom. Dit help ook nie dat die vreemdeling langs haar op die vliegtuig vir haar sê daar bestaan nie iets soos beter dae nie...
Wilna Adriaanse is op 19 Maart 1958 in die Kalahari gebore. Sy het op Worcester grootgeword en matrikuleer in 1976 aan Hoërskool Worcester. Sy verwerf daarna ’n BA en BA honneursgraad in Ontwikkelingsadministrasie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is in 1981 met Deon Adriaanse getroud. Hulle het vir drie en ’n half jaar in Giyani (Limpopo) gewoon voordat hulle weer in 1985 hulself in die Kaap gevestig het. Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland. Haar eerste boek, Die wingerd sal weer bot, verskyn in 2000 by Lapa-uitgewers onder die skrywersnaam Wilmine Burger. Haar bekendste boeke is Rebecca (2004), Met ander woorde (2006), Die boek van Ester (2008), Vier seisoene kind (2010) en Dubbelspel (2014). Sy het haar MA-graad in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, en daaruit spruit haar roman 'n Klein lewe (2012). Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland,
Het jy geweet?
Sy het om middernag op 31 Desember 1999 (in die Switserse Alpe) besluit om skryf haar Nuwejaarsvoorneme te maak. Sy het in 2000 begin skryf en haar eerste boek het in 2001 verskyn.
Hierdie vrou kan skryf. Ingebed in die gewilde mileu van enkelouerskap, onafhanklike sterk vroue, en die metro-lewe, vertel sy 'n verhaal van akkers opgaar deur 'n eekhoring wie se sak swaar word om te dra, en dan tog die oes uiteindelik uitrol vir 'n lang warm winter, gevul met goedheid en genade.
Die feetjie is uit die (meer tradisionele liefdes-) feëverhaal gehaal, met die verhaal self 'n deursnee van 'n moderne jongvrou se omstandighede. Die Suid-Afrikaans gulheid en gasvryheid word gekleur met 'n reënboog van karakters, wat elkeen 'n unieke bydrae maak tot die storie.
Die belangrikste is die emosies wat die leser intrek in die storie en met die karakters laat verbonde sluit. Die einde spoel sag en volrond deur die psige van die leser. Die vermaak was daar. Die elemente van menswees ook: volmaak of onvolmaak. Maar op die ou einde onthou 'n mens 'n kleurvolle prentjie van helder baldadige kleure in 'n perfekte geheel.
'n Heerlike ontpsanningsverhaal waarin vriende en familie die simbale slaan in 'n orkes van moontlikhede, en kinders, met oorgawe, die ritme van die baskitare bekendstel.
Uiteindelik! Ek is al op die uitkyk na hierdie boek vandag hy 'n paar jaar gelede op RSG se boekvoorlesing verskyn het. Ek het dit toe probeer volg, maar dit gaan maar moeilik as mens op kantoor na so iets probeer luister. Toe ek dus verlede week die boek in 'n winkel raakloop, het ek dit dadelik gekoop!
Dit is vir my so lekker om weer 'n bietjie Afrikaans te lees. Ek was moeg vir die soetsappige liefdesverhale wat 'n mens so dikwels in Afrikaanse boeke lees. Ek is lief vir romanse, maar ek verwag in hierdie eeu darm meer van karakters as die tipiese Afrikaanse soetsappige, onskuldige en naiwe hoofkarakters.
En hierdie boek was voorwaar 'n voorreg om te lees.
Die karakters is goed ontwikkel, snaaks, en 'n mens kan nie help om lief te raak vir hulle en besorgd oor hulle nie.
Cato was met tye so 'n bietjie neulerig, maar dan moet 'n mens ook onthou dat ons haar in hierdie boek werklik leer ken in die vier seisoene, nadat sy skielik op 29 jarige ouderdom 'n weduwee is.
Ek kan nie wag om my hande op nog Wilna Adriaanse boeke te kry nie. Dit is so wonderlik om sulke moderne karakters in Afrikaans te lees. Ek kan nie wag nie, en soek dadelik soortgelyke skrywers / boeke!
Ek is mal oor Wilna Adriaanse se karakters. Ek wens ek kon hulle in die regte lewe ken en met hulle vriende wees, hulle huis toe neem. Veral Cato. Selfs met al die dwarsklappe wat die lewe haar gee, bly sy staande, soms net deur haar humorsin. Plek-plek het ek gehuil, maar meesal kon ek nie help om heeltyd te glimlag terwyl ek lees nie. Adriaanse kry die balans perfek reg... om te wys die lewe draai sy gatkant maar op ons elkeen, party soms meer as ander, maar elke las raak ligter as mens mense het of mense toelaat om jou te help dra. En om mens nog te laat glo aan happy endings.
Dit was een van die mooiste boeke wat ek al ooit gelees het. Ek is baie frustreerd met die manier waarop die boek geëindig het, en sou graag meer inligting oor Cato en Jacob se verhouding wou he, en het eerlikwaar 'n meer romantiese einde verwag. Maar anders as dit was dit een van die beste boeke tot op datum.
Dit was n goeie storie alhoewel dit op ronanse geskoei is het dit meer lyf om. Dit versterk weer die hoop dat elke slegte fase in mens se lewe het n einde en almal het hulle stories dit is net die dikte van die boek verander. Maar die beste sinne in die boek is hoe Mimi haar toekomstige man beskryf. Dit is n boek wat by n mens bly al het jy vir Cato en Jacob totsiens gese.
Vier Seisoene Kind is middelmatig. Cato is 'n lieflike karakter; mens wil graag sien dat sy sukses bereik en die verwysings na karakters in vorige boeke is lekker. Ongelukkig is die storie self redelik voorspelbaar.