#DiePynlikPatetieseLeweVanLottieBrooks &
#DieVerbysterendeBestieBlapseVanLottieBrooks – Katie Kirby
#PenguinRandomHouse
Epistolêre romans vir jong volwassenes se gewildheid kan nie betwis word nie. Die dagboekformaat van trefferrreekse soos Jeff Kinney se Diary of a Wimpy Kid en Rachel Reneé Rousseau se Dork Dairies is onweerlegbare bewys hiervan. In beide gevalle is ‘n jeugdige dagboekskrywer aan die woord en die formaat skep per definisie intimiteit deur die daarstelling van ‘n driekantige vertrouensverhouding tussen die skrywer, die dagboek en die leser. Illustrasies vorm ‘n integrale deel van die tekste en dit sou nie ongegrond wees om beide reekse as grafiese romans te beskryf nie.
Katie Kirby se Lottie Brooks-reeks volg ‘n soortgelyke uitleg, maar die illustrasie-teks-verhouding fokus op die teks. Die illustrasies is ingesluit as addisionele vermaak, eerder as ‘n integrale deel van die romans. Die verteller verduidelik die rede agter die eenvoud van die lynsketse as volg: “Ons loop nie kaal rond nie. Dit vat net só lank om klere te teken, en ek het nie die krag daarvoor nie.” (7)
Lottie is elf-en-‘n driekwart jaar oud en aan die vooraand van haar hoërskoolloopbaan wanneer haar dagboek open op Woensdag, 11 Augustus. Sy ervaar sosiale angstigheid op verskeie vlakke: Haar beste vriendin en haar gesin het pas na Australië geëmigreer, haar jonger boetie is ‘n wandelende verleentheid, puberteit ontwyk haar, en sy besef dat iets so onbenullig soos die verkeerde keuse van ‘n pennesakkie van haar ‘n randfiguur kan maak: “Solank ek iemand het om pouses by te sit sodat ek nie my toebies in rekordtyd moet afsluk en dan in die toilette moet wegkruip totdat die skoolklok lui nie.” (19)
In haar eerste dagboek (11 Augustus tot 16 Januarie) moet Lottie die vreesaanjaende werklikheid van hoërskool navigeer sonder die bystand van haar beste vriendin, haar eerste bra-aankope trotseer, die nuus van haar ma se swangerskap hanteer en ‘n ontluikende eerste liefde ervaar. Humor staan sentraal in elke uitdaging en verlig die andersins gewigte onderwerpe: “Wel. ‘n mens gaan nie eintlik saam iewers heen nie... ‘n Mens sê maar net vir mekaar dat julle uitgaan en vertel vir ander jy het nou ‘n boyfriend of ‘n meisie, maar meestal ignoreer julle mekaar.” (134)
Haar tweede dagboek open op 21 Januarie en sluit af op 2 Mei, en hier val die fokus ongetwyfeld op verhoudings, insluitend beide vriendskappe en romantiese aantrekkingskrag, wat afspeel teen die agtergrond van klein jakkalsies soos jaloesie, manipulasie, groepsdruk en boeliegedrag: “En dan is daar ek – iewers in die middel, besig om die gaping te probeer oorbrug.” (180)
Die reeks het oorspronklik in Engels verskyn as The Extremely Embarrassing Life of Lottie Brooks (2021) en The Catastrophic Friendship Fails of Lottie Brooks (2022) en die Afrikaanse vertaling is meesterlik gedoen deur Zelda Bezuidenhout.
#Uitdieperdsebek