Jump to ratings and reviews
Rate this book

Van vrees na vrede: Hoe my ongeneeslike kanker my leer leef het

Rate this book
As jy met 'n terminale siekte gediagnoseer is, het jy twee Bly lê of jy staan op en doen wat die siekte en die wêreld nie van jou verwag nie. In hierdie dapper, praktiese boek ondersoek geliefde skrywer Madelein Rust hoe om te leef, nou dat sy besig is om dood te gaan. Sy benader haar komende dood op ’n praktiese manier en gee tot 'n lys Bybelverse om jou te versterk en te troos. Madelein trek as't ware die dood se angel, vir haarself maar ook vir die siek persoon en hulle geliefdes.
 

210 pages, Kindle Edition

Published April 7, 2023

6 people are currently reading
7 people want to read

About the author

Madelein Rust

20 books40 followers
Madelein Rust se liefde vir die geskrewe woord begin in die klein skoolbiblioteek van Brandwag Primêr in Bloemfontein, waar sy pousetye die een boek na die ander verslind. Sy slyp haar skrywerstande reeds op skool, waar sy uitblink in stelwerk en opstelkompetisies. As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.

Sy waag haar hand aan romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, Joy, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n Neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
13 (68%)
4 stars
6 (31%)
3 stars
0 (0%)
2 stars
0 (0%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 4 of 4 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,510 reviews87 followers
April 22, 2023
#VanVreesNaVrede – Madelein Rust
#LuxVerbi

Liewe Madelein,
Ek het oor die jare al jou boeke gelees, indrukke en resensies daaroor geskryf, in boekgesprekke daaroor gesels en kan met trots sê dat elkeen van jou boeke ‘n plek op my rakke gevind het. Maar nou, met hierdie een, vind ek myself geheel en al onbekwaam om enigiets wat naastenby as ‘n lesersindruk of resensie kan deurgaan, te formuleer. Ek glo nie dat absolute objektiwiteit bestaan nie, maar ‘n poging daartoe moet minstens aangewend word wanneer so-iets geskryf word en, na die lees van hierdie betrokke boek, weet ek dit sal ‘n onbegonne taak wees: Daar is geen manier waarop ek soveel rou eerlikheid met gewaande objektiwiteit kan of wil beantwoord nie. Dus: repliek in die formaat van ‘n brief; van my hart aan joune.

Ek is seker jy het al en sal steeds terugvoering kry wat jou salueer vir die moed en selfopoffering wat jy moes openbaar om oor so ‘n persoonlike reis te kon skryf, en tereg ook so, maar ek wil graag verder as dit gaan en wegspring met my antwoord op jou uitgesproke wens op bladsy 154: ‘Miskien was hierdie boek die laaste ding wat ek moes doen. Dalk is daar iemand daar buite wat krag kon put uit ‘n sin of kon lag vir iets of vir die eerste keer ná die diagnose kon huil. Dit sal my hart so bly maak, my siel so aanraak.’ Ek kan bevestigend antwoord en, meer nog, ‘n aspek byvoeg: Jou boek het my hart in ‘n groot mate retrospektief heelgemaak.

Ek was nie die pasiënt nie, my ma was. Aanvanklik longkanker en chirurgie, vier jaar later metastase: sekondêre breinkanker. Radiologie volg op verdere chirurgie in November 2016. MRI in Februarie 2017 skoon en toe, Mei 2017, is haar Osama terug met ‘n weermag. Ons groet haar op 3 Junie 2017. Wanneer ek jou reis lees, voel ek my eie oordeel oor myself oor die foute wat ek met haar versorging gemaak het, effens skiet gee. Daarom het ek groot waardering vir jou insluiting van riglyne aangaande pynbestuur, palliatiewe sorg, hoe om ‘n hospies te benader en boedelbeplanning. Dit sal die pad vir andere makliker maak.

Jou afskeid van Shai het my sterk aan my eie afskeid van my geliefde Delarey herinner. Hy was 15 jaar my hartsperd, daardie een wat my siel ken, die een wat my van myself gered het. In Julie 2021 moes ek hom laat gaan; sy Osama het te sterk vir hom geword. Squamous cell carcinoma. Hy was 19 jaar oud. Toe lees ek van jou kinders se perdryvideo op bladsy 94 en jou woorde op bladsy 130 laat my asemloos van aandoening: ‘Ek kyk gereeld na die video van die kinders se perdry-ekskursie en dan verbeel ek my dat ek die majestueuse diere se spiere onder my kan voel beweeg nes vroeër toe ek self nog kon perdry, dat ek daardie unieke salpetergeur inadem en weer eens één word met die dier onder my.’

My wens vir jou is dus: As jy voor my daar kom, mag Delarey jou inwag. Mag jy weer dit wat jy hierbo beskryf, saam met hom ervaar. Mag julle saam jubel, op ‘n vrolike galop, oor julle Osamas wat finaal verslaan is. Jy sal hom maklik herken: die groot, swart perd met die sagte oë.

Dankie. Vir jou.
Liefde,
Anschen

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers
Profile Image for Rina Coetzee Gous.
147 reviews8 followers
June 22, 2023
Van Vrees na Vrede – Madelein Rust.
Ek het die wêreld se respek vir Madelein Rust as skrywer. Vir krimi verslaafdes soos ek is haar werk reg bo-aan die lys van lekkerlees krimis. Vir my persoonlik is sy die beste van die beste. Daarom was dit vir my ‘n groot eer om met haar te gesels oor “Moederland” laas jaar by die pragtige “The Bookkeerper Shop” waar sy genoem het dat sy besig is met “Kanker Schmanker” se opvolg. Die rolstoel ( wat ek nou weet heet Zacharia) was daar maar soos altyd was Madelein fyn versorg en het pragtig gelyk. Dit is ook deel van wie sy is en wat deurskemer in albei haar boeke oor haar stryd met kanker – ‘n ware dame in elke sin van die woord. Met die lees van “Kanker Schmanker!” het ek bewus geword van die wonderlike meelewende mens wat Madelein is. Van haar positiewe ingesteldheid en net hoe lekker sy ‘n storie reg uit haar hart uit kan vertel. Van haar durf en moed en swaarkry met ‘n lag wat deurskemer deur die moeilikste oomblikke.
“Van Vrees na Vrede” is Madelein se brutale eerlike boek oor haar tweede stryd met kanker. Die stryd waar sy weet die kanker is ongeneeslik en sy is besig om te sterf. Haar stryd met die pyn en die hartseer raak ‘n mens diep. Maar nooit voel jy asof sy haar storie sonder hoop en vreugde vertel nie. Heerlike humor deurspek die boek. Haar deernis met die ander om haar raak jou hart en haar waarneming van die mensdom is vlymskerp. “So leer jy meer oor die aard van die mens, vind jy medemenslikheis by vreemdelinge en begin jy ‘n vars waardering koester vir die aard van die siel, die goedheid wat daaruit voortspring.” skryf sy op bladsy 44 oor ‘n manskollega wat koffie aandra by die werk.
Wat my ook opval is die besondere verhouding wat deurskemer met haar geliefdes – of hulle nou mense of diere is en hoe oulik sy almal se karakters en eiesoortige “goeters” beskryf. Ek het hardop gelag vir haar seun se bynaam, “Vis”, bloot omdat ons een seun se bynaam in ons gesin ook “Vis” of “Vissie” is. Wat ‘n toeval is dit nou?. Haar beskrywing van die tekens dat haar dogter kuier in terme van dit wat sy graag eet en drink op die langpad is so tipies van wat in huishoudings gebeur en dan die absolute wonder van die humor wat gesinne deur swaar tye dra soos op bladsy 112 waar die gesin wonder wie gaan koffie maak: Tanya: “Ek is jammer, ek kan nie. My ma het kanker. Juan: “Ek is jammer, ek kan ook nie, my vrou het kanker.” Nico, verontwaardig: “My ma het dan ook kanker!” Ek: “Nou, laat ek maar koffie maak. My ma is oukei.” Die besondere liefde en verstaan van die katkinders in haar lewe praat met my hart as diereliefhebber. Ek is vas oortuig dat diere weet wanneer ons siek is en waar die siek of seer is en duidelik verwys Madelein ook daarna in haar vertellings oor haar katkinders. Ek glo vas alle troeteldiere is terapiediere – mens moet net ontvanklik wees om daai terapie te verwelkom.
Die gedeeltes van die boek wat midde in die COVID19 afsonderingstyd afspeel het my ontstel. Nie net hoe dit pasiente in die hospitaal se leiding soveel meer gemaak het nie maar ook hoe dit die personeel so afgestomp het en party van hulle van hul menslikheid ontneem het terwyl ander weer uitgestyg het. Gelukkig balanseer die humor waarmee die skrywer duidelik haar lewe vul altyd deur. So word die vyand, haar tumor, “Osama” gedoop wat elke keer my laat glimlag by die lees van die naam. In die vroeë dae van televisie in Suid- Afrika is oorsese reekse mos vertaal in Afrikaans – en om een of ander rede was “asshole” met “aartspoephol” vertaal. Wel, Osama herinner my altyd aan daai aartspoephol woordjie want dit is eenvoudig wat hy en sy trawante is.
“Van Vrees na Vrede” is ‘n boek wat ‘n mens besonder diep raak met die rou eerlikheid waarmee sy haar storie deel. ‘n Mens besef ook dat jy nie jou gesondheid en jou lewe soveel waardeer soos jy dit behoort te waardeer nie. Dat ons elkeen ‘n emmerskoplysie behoort te hê want jy mag dalk eendag nie als meer kan doen as jy besef hoeveel jy nog wil doen nie.

Bo alles is dit ‘n boek oor vrede en berusting vind met God wat jou dra. Oor die besef van God se liefde vir jou deur alles deur. Die boek is ‘n getuienis van geloof soos min ander. Die Bybelversies bo aan elke hoofstuk vul dit aan en die baie nuttige bronnelys met Bybelversies agter in die boek maak dit baie toepaslik vir elke persoon wat hul eie styd, wat ookal dit is, veg met ondersteuning van die Vader. Madelein deel ook haar baie nuttige navorsing agter in die boek wat van onskatbare waarde is vir een en elkeen van ons. Dit is ‘n besondere boek om te lees en ‘n baie intieme kykie in die hart en lewe van iemand wat die dood in die oë staar. Lees die boek gerus – moenie vir ‘n oomblik dink dit gaan jou swartgallig en bedruk los nie. Die boek spreek van hoop en bo alles vrede.


Profile Image for Amanda.
1,174 reviews
May 8, 2023
Madelein skryf ter inleiding: “Dis asof die siekte ’n lewende entiteit geword het – een wat my biografie, Kanker schmanker! gelees en besluit het dat ek heeltemal te nonchalant oor hom is. En ek was dalk.” (p. 9) Hierdie is die eerste van die brutaal eerlike stellings wat die skrywer maak. Sy huiwer nie om te vertel van haar vrese, haar pyn, haar verlies aan waardigheid, selfs nie haar verleenthede nie. Sy gee aan die gewas en aan haar rolstoel name, en hulle word as’t ware karakters in die verhaal.
Die skrywer het die wonderlike vermoë om my tegelyk te laat lag en huil, soos met haar vertelling oor die valslag voor die beenbiopsie. (p.24). Ook die moed van haar oortuiging om die onvermydelike sonder skroom uit te spel: “Ons almal is tog maar op pad na die graf. Ongeag wie jy is en oor hoeveel goed, geld en geleerdheid jy beskik, elke oomblik neem jou nader aan die dag waarop jy sal moet afskeid neem van die dop waarin jou siel gehuisves word.” (p. 89)
In lyn met haar selferkende hardkoppigheid, spreek sy haar uit teen bejammering. “Vir my voel dit nog steeds asof kanker my eerder groeikans bied, om nog lesse te leer wat my siel louter. Jammerte beteken dat mense nie mooi verstaan van hierdie lewenslesse nie. … Wat ’n vermorsing van tyd, wat ’n verkwisting van leed!” (p. 147)
Madelein vul die verhaal van haar kankerreis aan met praktiese raad oor voorbereidings en wenke oor reis, jou testament, palliatiewe sorg en ander belangrike voorbereidings wat vir die terminale siek persoon gemoedsrus kan gee. Daar is ook ’n bronnelys met nuttige materiaal. Wat opgeval het, was dat dit begin met teksverse, so ’n omvattende lys dat dit kan dien as ’n bybelstudie. Dit spreek onderwerpe aan soos onder andere, gesondheid, hartseer, krag en lyding.
Bravo aan hierdie dapper skrywer wat, medikasie en kroniese erge pyn ten spyt, voortbeur en steeds haar formidabele repertoire van suksesvolle titels aanvul, waaronder Van vrees na vrede, wat sopas deur Lux Verbi gepubliseer is.
Profile Image for Niekie Bushby.
65 reviews
May 5, 2023
Madelein se talent vir skryf en stories vertel kom weereens na vore in hierdie eerlike vertelling van haar pad met kanker (vir 'n tweede keer). Of jy iemand ken met kanker of nie, dis 'n boek wat almal maar kan lees, want iewers op jou lewenspad gaan jy wel iemand teëkom daarmee, en dan weet jy effens wat dit behels en kan jy die nodige empatie (nie jammerte) hê met die pad en die persoon.

Veg moedig voort, liewe Madelein!
Displaying 1 - 4 of 4 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.