Dienkie is alweer in die moeilikheid ... Dienkie en Lea word die teikens van smokkelaars as hulle per ongeluk sien hoe 'n kosbare beeldjie uit die Louvre in Parys gesteel word. Die twee meisies word ontvoer en moet uit 'n pakhuis ontsnap. Gelukkig het die vriendinne teen hierdie tyd genoeg vaardighede om hul uit die situasie te kry. En ... is dit nou finaal verby tussen Dienkie en Sergio of gaan hulle uiteindelik die groot stap neem om 'n paartjie te wees?
Hierdie titel is die derde boek in die reeks en volg op Losprys in Parys en Per ongeluk Parys.
Nerine Ahlers het aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, waar sy in 1985 ’n M.A.-graad verwerf. As gekwalifiseerde taalonderwyseres, hoofsaaklik in Frans, gee sy ook klas in Afrikaans en Duits op hoërskool, onder andere by St. Mary’s DSG en die Hoërskool Menlopark in Pretoria. Sy is getroud met Johann Ahlers en het twee dogters, Joekie en Rianné. Nerine Ahlers en Alet Steenkamp is as skrywerspan die skeppers van die gewilde SSS-reeks, asook die enkeltitel-tienerboeke Liefde is … en Ek+Jy. Selfone, skelms en sjokolade is in 2007 met ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon, en in 2011 palm dié gedugte duo nog ’n ATKV-Kinderboektoekenning in met Liefde is …
Hierdie roman vir jong volwassenes is die derde in die reeks wat die 17-jarige Dienkie se avonture in Parys met die lesers deel. In die eerste roman, ‘Losprys in Parys’ (Lapa, 2020) stuur haar ouers haar tydelik Parys (Frankryk, nie Vrystaat nie !) toe om ses weke by haar vriendin, Lea, deur te bring. Tydens die tweede roman, Per ongeluk Parys’ (Lapa, 2021) het sy slegs drie weke in die stad oor. En met die opening van hierdie betrokke roman, wat gemaklik alleenstaande gelees kan word, het dit gekrimp na twee weke. Nie net word Dienkie, of Amandine, soos Sergio haar noem, gekonfronteer met die dilemma van ‘n moontlike interkontinentale liefdesverhouding na haar onvermydelike terugkeer na Suid-Afrika nie; Sergio moet boonop ‘n deel van die kosbare tyd wat hulle saam oor het, by sy oupa gaan spandeer. En die verleidelike Veronique gaan saam.
Tydens Sergio se afwesigheid is die besluite aangaande die toekoms van hulle verhouding nie Dienkie se enigste uitdaging nie; sy bevind haar midde in ‘n bomdrama wat deur ‘n paar hoëhakskoene veroorsaak word; ontmoet vir Graham, wat haar hartseer oor haar ouma verstaan, ook van Suid-Afrika is en derhalwe haar gevoelens vir en keuses aangaande Sergio kompliseer, en sy en Lea beland boonop per abuis in ‘n holderstebolder avontuur met skurke op hulle spoor.
Een van die hoogtepunte van hierdie roman is ongetwyfeld Dienkie se ontluikende volwassenheid en die insluiting van ‘n besondere liefdesgedig in die teks was ‘n lekker verrassing: ‘Amandine / vanoggend / toe die wind / my pet oplig / toe spel / die son / jou naam / op my gesig’ (102)
Ek sit weereens soos ‘n platbek-padda en grinnik ná die lees van hierdie roman; die skrywer se uitbeelding van Parys, die perfekte romantiese agtergrond vir jong liefde, gekombineer met ‘n lekker spannende avontuur en subtiele humor, verseker een groot leesplesier vir lesers van 15 tot 150.
Teiken in Parys is die derde aflewering van Dienkie se avonture in Parys. Sy is deur haar ouers, albei advokate, Frankryk toe gestuur om tyd deur te bring by haar vriendin, Lea. Die bedoeling was om haar te beskerm teen gevaarlike karakters wat belang het by ’n saak waaraan hulle werk. Maar helaas, keer op keer beland sy aldaar in gevaarlike situasies. Ek het sopas besef dat ek “per ongeluk” Per ongeluk in Parys misgeloop het, maar dit doen geen afbreuk aan hierdie nuwe storie nie. Sergio is steeds op die toneel, dus is daar ’n ordentlike skeut romanse wat byval sal vind by tienermeisies wat die boek onder oë kry. Vir goeie maat word daar sommer nóg ’n oulike aanspraakmaker op Dienkie se affiniteit bygebring wanneer Graham op die toneel verskyn. Verder is daar ’n beduidende spanningslyn wat maak dat mens die boek nie wil neersit alvorens Dienkie en Lea weer veilig is nie, want natuurlik beland hulle weereens onskuldig in ernstige moeilikheid, meer as net die afval wat Dienkie teen wil en dank moet eet! Die finale wending van die storielyn gaan ek nie verklap nie, bloot die mening uitspreek dat dit die deur wawyd ooplaat vir nóg ’n Parys-sage wat hopelik sal volg. Dit is heerlik om so aan die hand van Nerine Ahlers se verbeelding, gerugsteun deur haar kennis van Frankryk, iets van Parys en Frankryk te ontdek.
“Teiken in Parys” van Nerine Ahlers is die derde boek in die oor Dienkie en haar vriendin Lea in Parys. Soos die vorige boeke is Dienkie ons brawe heldin wat weereend in ‘n situasie beland waar sy flink moet dink en braaf moet handel om veilig daardeur te kom. Met net ‘n paar weke oor voor Dienkie moet teruggaan Suid- Afrika toe besluit sy en Lea om die beste te maak van elke dag. Die Franse motorfiets entosias Sergio het Dienkie se voet onder haar uitgeslaan en hy belowe om al die lekkerste stukkies van Frankryk vir haar op te dis voor sy moet gaan. Maar Sergio vertrek onverwags om sy oupa te gaan help en Veronique gaan saam. Die meisies geniet ook Graham en sy vriende se geselskap en beland so onverwags by die Louvre waar dinge skielik verkeerd gaan. Gevul met die geure, taal, mense en landmerke van Parys is hierdie boek nie net weereens ‘n heerlike avontuur nie, maar ook ‘n boek wat die leser Frankryk laat beleef deur Dienkie se oë. Dit is ‘n lekkerlees tienerverhaal wat selfs jonger tieners sal geniet. Lees sommer die hele reeks – elkeen van die boeke kan onafhanklik gelees word maar in volgorde is die lees selfs lekkerder. Die reeks begine met “Losprys iin Parys” en die tweede boek se title is “Per ongeluk Parys”.