Grondeise tref die gemeenskap van Nieu-Skotland in Mpumalanga. Dit, en die ou seer van die uitwissing van 'n gesin, het almal op hol: Daar's stadskind Erin wat nou haar familie moet kom ondersteun, oud-soldaat Andrew Buchanan, wie se gesin jare gelede uitsonderlik wreed uitgemoor is, die plaasadel-MacFarlanes met hul spogplase, wrokkige werkers met verbintenisse in ho plekke en die plaaslike polisiediens - nie aldag ewe bedrewe of eerlik nie, maar sersant Elsie Redelinghuys vat nie nonsens nie.
Bloedgrond handel oor een van die pynlikste dele van ons Suid-Afrikaanse geweldsituasie - plaasmoorde. En ook oor grondeise teen boere.
Ek dink nie enigiemand wat al self deur plaasmoord of enige ander geweldsmisdaad, geraak is, sal maklik lees aan hierdie boek nie. En as mens iewers 'n gelieefde op 'n plaas het, dan gru jy vir sommige van die tonele in hierdie boek. Tog laat die boek jou nie los nie, en is daar ook genoeg ander ligte oomblikke in die boek om dit nie 'n swaar depressiewe lees te maak nie.
Die boek is 'n verhaal oor verskeie mense en uit verskillende perspektiewe - ook uit die moordenaars en grondeisers s'n. En die einde is totaal onvoorsien!