Mia Steyn is nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein, aflaai. Dis toe sy ’n stowwerige boekwinkel instap dat Mia besef dis waar sy wil werk. Kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart. Die laaste kanariegeel notaboek is die jongste roman uit die pen van blitsverkoperskrywer Anchien Troskie. Niks is ooit soos dit lyk op die oppervlak nie, besef ’n mens weer met die lees van hierdie aangrypende storie binne 'n storie.
10 Januarie 1963 Mia Steyn se ouer broer, Kerneels, laai haar by ‘n losieshuis in Bloemfontein af. Daar is nie langer vir haar plek op Blesbokfontein nie, veral nie saam met haar skoonsuster, Aletta, nie. Mia se eie drome is weereens deur patriargie gekortwiek, nes destyds toe haar pa haar ‘n loesing gegee omdat hy glo ‘…’n meisiekind klim nie op ‘n hingsperd nie…’ (45) en later ook nie vir haar in sy testament gesorg het nie, bloot gesê het ‘Sy sal ‘n man moet kry wat vir haar kan sorg….’ (53) besluit Kerneels nou oor haar toekoms. Sy sal in Ant Berta se Pienk Paleis losieshuis bly en as tikster by ‘n prokureurskantoor werk, en basta met die res.
Maar die dag wat sy die deur van die magiese boekwinkel oopstoot en die klokkie aan die deur haar met ‘n geklingel verwelkom, word die begin van haar tweede lewe. Die reuk van boeke; die klanke van tikmasjiene en die kasregister; die besef dat die stroewe stilte van ‘n biblioteek niemand hier aan bande lê nie, laat haar drome herleef. Haar nuwe werk as boekwinkelassistent vir die goedige Van Geerts ontsluit haar hart; nie net vir die geskrewe woord nie; ‘Boeke wil gesien word, bespreek word, bekyk word, beruik word.’ (92), maar ook vir die vele gedaantes van liefde, van die oorweldigende, blinde verliefdheid wat dikwels met die onrus van die jeug gepaardgaan, tot die rustige stilte van wedersydse begrip in later jare.
Kort na afloop van die Covid-19 inperking arriveer Anabel Louw vanuit Bloemfontein by haar ma se huis in Jeffreysbaai. Haar ma is reeds bykans twee jaar gelede oorlede, maar sy en haar tweelingsuster, Isabel, wat in New York woonagtig is, kry nou eers die geleentheid om hulle ma se huisinhoud uit te sorteer. Die huis getuig van die gewese eienaar se gunsteling kleur: blou. Van die snoesige bobbelkombers tot by die notaboeke waarin sy altoos geskryf het, is blou die oorheersende kleur. Die uitsondering is haar heel laaste notaboek; die kanariegeel een waarvan die inhoud aan haarself opgedra is en nou deur die tweeling gelees word.
Die roman volg beide bovermelde tydslyne; Jeffreysbaai in die hede en Bloemfontein in die sestigerjare. Die verbintenis tussen Mia se lewe en die van die tweeling word soos ‘n ware Matryoshka-pop laag vir laag aan die leser blootgelê. Die onthulling geskied met tydsame detail en ondersoek die geheime wat van mekaar verberg word: tussen ouers en kinders, tussen verhoudingsmaats en ook van die self. Die mag van selektiewe geheue en die geneigdheid van die verlede se pyn om duisendvoudig in die toekom op te kom, word eweneens aan die kaak gestel: ‘Hierdie goed… bly by ‘n mens, al onthou jy nie die detail daarvan nie, al sluit jy dit in ‘n kamer van jou hart toe. Dit verander jou, ten goede of ten slegte.’ (220)
Die skrywer het weinig bekendstelling nodig, nadat sy haar eerste werk onder ‘n skuilnaam gepubliseer is, het sy welverdiende bekendheid verwerf vir haar daaropvolgende romans onder haar eie naam. Haar fyn waarnemingsvermoë wat in haar skryfwerk weerspieël word, kom ook in hierdie roman sterk na vore en die gevolg daarvan is ‘n sterk verhoudingroman wat by ‘n wye verskeidenheid van lesersvoorkeure aanklank sal vind.
My eerste boek van Anchien Troskie, maar beslis nie my laaste boek nie. Ek is totaal ingesluk deur die storie en het die skryftrant baie geniet. Werklik uitstekend.
Wanneer voorgeskiedenis ’n beduidende deel uitmaak van ’n storielyn, is dit vir my altyd interessant om te sien hoe skrywers hierdie uitdaging hanteer. Volpunte aan Anchien Troskie vir hierdie element van haar nuwe roman, Die laaste kanariegeel notaboek. Nie die konvensionele paralelle tydlyne nie. Eerder ’n storie binne ’n storie. Twee jaar nadat hulle ma, Mia Steyn, oorlede is, kry die tweeling, Anabel en Isabel die geleentheid om haar huis te kom oppak. In die eerste plek relevant en stewig geanker in hede, in die realiteit waarin ons lewe, met beurtkrag en die verwagting van swak dienslewering. (p. 13) En dan die ontdekking van die kanariegeel notaboek wat straks die laaste manuskrip kan wees van Lena Jordan. Dit is die tweede storie, “Opgedra aan: Mia Steyn – voordat sy vergeet.”(p. 18) Mia se lewensverhaal, soos dit stuksgewys oopgeskryf word in die geel notaboek, plaas die leser in 1963, in Bloemfontein van desjare, met die Waldorf kafee, die Ritz, John Orr’s, Cuthberts en Hoffmanplein waar die busse stop. En bowenal Abraham se boekwinkel, wat die spil word waarom Mia se lewe spoedig sou draai. Die lees van Mia se storie neem jou op ’n wipplankrit. Vanaf die vreugde van ’n jong meisie met ’n skrywersdroom, wat haarself daagliks bevind tussen rye en rye boeke, skrywers wat sit en werk, ’n kennismaking met haar gunsteling skrywer, tot by die onthutsing van gesinsgeweld en verlore drome. Die skrywer het geslaag om die onderskeie karakters uitstekend te tipeer, soveel so dat ek byvoorbeeld die ware skurk en die ware helde kon eien voordat al die kaarte op die tafel was. Daar is soveel diep trauma en klein oorwinnings in een boek saamgegooi dat die storie nog lank by my gaan spook.
Die Laaste Kanariegeel Notaboek is 'n boeiende roman wat die verhaal vertel van Mia Steyn, 'n jong vrou wat daarvan droom om 'n skrywer te word in die 1960’s.
‘n Geel notaboek word deur Annabel en Isabel ontdek nadat hul ma se dood. Hulle is geskok en gefasineer deur die inhoud van die boek, en lees dit saam terwyl hulle haar huisinhoud oppak.
Die roman wissel af tussen Mia se perspektief in die 1960’s en Annabel en Isabel se perspektief in die hede. Die roman ondersoek die temas van liefde, verraad, familie, vriendskap, kuns, literatuur, politiek, en sosiale kwessies.
Mia trek na Bloemfontein om as 'n tikster in 'n prokureur se kantoor te werk, maar vind gou haar ware passie in 'n stowwerige boekwinkel wat deur 'n eksentrieke bejaarde egpaar besit word. Daar ontmoet sy Louis Feldtsmann, 'n bekende romanskrywer wat haar mentor en minnaar word. Maar Mia se lewe is nie so eenvoudig soos dit lyk nie, en sy moet baie uitdagings en geheime in die gesig staar.
Die roman is geskryf in 'n pragtige en meesleurende styl, met lewendige beskrywings en realistiese dialoog. Die skrywer meng vaardig fiksie en geskiedenis, en skep 'n ryk en egte atmosfeer van die Suid-Afrikaanse samelewing en kultuur in daardie tyd. Die karakters is goed-ontwikkel en kompleks, elk met hul eie persoonlikheid en agtergrond. Mia is 'n simpatieke en herkenbare hoofkarakter, wat sukkel met haar identiteit, ambisies, en emosies. Louis is 'n charismatiese en geheimsinnige figuur, wat Mia inspireer en uitdaag, maar ook 'n donker verlede verberg. Die verhouding tussen hulle is intens en hartstogtelik, maar ook vol konflikte en misverstande.
Die roman ondersoek ook verskeie temas, soos liefde, verraad, familie, vriendskap, kuns, literatuur, politiek, en sosiale kwessies. Die skrywer skroom nie om die harde werklikhede van apartheid, rassisme, geweld, en onreg wat die land in daardie tydperk geteister het aan te spreek nie. Die roman bring ook hulde aan baie literêre werke en skrywers wat Mia en Louis beïnvloed het.
Die Laaste Kanariegeel Notaboek is 'n aangrypende en ontroerende roman wat sal aanspreek by lesers wat hou van historiese fiksie, romanse, drama, en literatuur. Dit is 'n roman wat die krag van woorde en stories vier, maar ook die pyn en tragedie wat hulle kan veroorsaak blootlê. Dit is 'n roman wat jou sal laat lag, huil, dink, en voel. Ek beveel hierdie boek ten sterktste aan vir alle lesers van goeie Afrikaanse fiksie.
Dankie vir Exclusive Books, vir die geleentheid om die boek te lees.
*Edition read: Paperback Human & Rousseau, NB Publishers
Isabel en Anabel het gereël om bymekaar te kom om hul Ma se huis uit te sorteer, 2 jaar na haar afsterwe. Isabel kom vanuit New York en Anabel van Bloemfontein en saam gaan hulle deur hul ma se goed gaan in haar huis in Jeffreysbaai. Die huis is nes hul dit onthou het, bietjie outyds, baie blou kleure deur die huis, klomp notaboekies met al haar ma se skryfwerk in van deur die jare. Hul ma was ‘n skrywer gewees en het altyd alles met die hand geskryf in blou notaboeke.
‘n Kanarie-geel notaboek word egter ontdek in haar Ma se slaapkamer en Isabel en Anabel besluit om dit saam te lees. Dit lyk asof hul ma haar eie lewensverhaal geskryf het uit ‘n derde persoon se oogpunt met haarself, Mia Steyn, as hoofkarakter. Saam lees hulle van hul ma se struikelblokke, hartseer, pyn, geheime en blydskap.
Dis egter nie net hul ma se storie nie. Anabel besef sy kan baie minder onthou as wat sy gedink het oor haar en Isabel se grootwordjare. Gekonfronteer met die harde werklikheid deur haar ma se woorde, begin die susters onthou. Hierdie onthou is ‘n seer onthou en het hulle gevorm tot die mens wat hulle vandag is. Maar sonder die onthou, is daar nie kans vir versoening en heelmaak nie.
My gedagtes: Beslis een van die mooiste en hartseerste boeke wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Ek kon nie die boek neersit nie en het ‘n week blaaskans gekort na ek dit klaar gelees het. Dis min boeke wat dit doen en ek kan dit beslis aanbeveel (tensy jy trigger warnings het, want daar is heelwat in die boek).
Die sondes van die vaders word soms aan hulle kinders toegereken, maar die kinders hoef dit nie noodwendig uit te leef nie.
Anschien Troskie is self ʼn sprekende voorbeeld van hierdie filosofie. Sy het bekendheid verwerf met Dis ek, Anna, wat sy onder die skuilnaam Elbie Lötter geskryf het. Sy het daarna voortgegaan om onder haar eie naam te skryf. Eers was daar Die staat teen Anna Bruwer deur Anschien Troskie as Elbie Lötter en daarna volg verskeie romans onder haar eie naam.
Vrede en vergifnis teen ongeregtigheid is nie maklik nie. Tog kan die leser besef dat dit haalbaar is as dit uit die oë van ʼn gesoute skrywer wat self deur ʼn helingsprosesse moes werk, beleef word.
Patrone wat herhaal word in families is nie ongewoon nie, maar dinge is nie altyd voorspelbaar hoe dit gaan uitspeel nie. Die skrywer hanteer onverwagse kinkels meesterlik, selfs vir siniese lesers.
Hierdie is ʼn verhoudingroman met ernstige temas sonder swaarmoedigheid, wat by ʼn wye lesersmark aanklank sal vind. Die aanbieding van ʼn tema wat nie meer nuut is nie, is egter vars soos ʼn reënbui, met ʼn donderslag nou en dan.
Achien is 'n ongelooflike skrywer. Beslis weer 'n treffer! Aangrypende storie van liefde, verlies en familiebande... Mia Steyn se storie sal jou beslis aanraak.