Jump to ratings and reviews
Rate this book

Dolos

Rate this book
Tex Texeira se wittebrood in die Caprivi word wreed onderbreek. ’n Agent van ’n geheime Mosambiekse ondersoekeenheid het die gevreesde Mecau-dwelmkartel geïnfiltreer en inligting ontdek wat só sensitief is dat hy niemand anders as Tex daarmee sal vertrou nie. Die dit betrek ’n hooggeplaaste Suid-Afrikaner. Die agent moet dringend bereik word . . . solank Tex die aandag van Islamitiese ekstremiste kan vermy. En die kruishaar van ’n sluipskutter wat die Mecau-luitenante meedoënloos uitwis.
 

315 pages, Kindle Edition

Published May 12, 2023

17 people are currently reading
26 people want to read

About the author

Jaco Wolmarans

6 books8 followers
Jaco Wolmarans is ‘n Kaapstadse vryskutskrywer, videovervaardiger en fotograaf. As voormalige joernalis het hy sy loopbaan in die Ooskaap as misdaad- en hofverslaggewer begin voor hy in die negentigers na korporatiewe joernalistiek en later vryskut-kopieskryf oorgeskakel het.

Jaco het in die laat tagtigers ‘n paar kortverhale gepubliseer, maar dit sou jare duur voor sy militêre diens-agtergrond en uitgebreide Afrika-reise sy begeerte om ‘n vollengte-boek te skryf, laat herleef het.

‘n Werkbesoek aan Mosambiek het as aansporing vir sy debuutwerk, BOS, in 2018 gedien. Die werk is wyd verwelkom as ‘n nuwe rigting in Afrikaanse literatuur: ‘n kombinasie van tradisionele spesmagte-literatuur en politieke intrige, gemeng met omgewingskwessies en intelligensie-aktitiwiteite.

Sy opvolg, die historiese roman SKAG, volg die politieke gebeure rondom die bou van Suid-Afrika se kernwapens in die tagtigers en die rampspoedige gevolge vir die land se jong demokrasie sou hierdie wapens in ver-regse hande val.

In IVOOR volg Jaco se spesmagte-karakters, Tex en Carlos, geheimsinnige betalings aan buitelandse rekenings uit die apartheidsjare. Die verhaal neem die twee terug na hul eie bloedige verlede as kleinspan-operateurs in Angola. IVOOR was ‘n ATKV Woordfeertjie-finalis vir spanningsromans in 2022.

In DOLOS skuif die aksie na Mosambiek en Islamitiese ekstremiste en heroïen-smokkel. Die karakters bevind hulself midde-in ‘n staatsgreep, en bring só al Jaco se fiksie-belangstellings byeen: die skatkis van onaangeraakte stories uit Suider-Afrika se politieke en militêre verlede, sameswering en politieke intrige.

Jaco bly in Milnerton saam met sy vrou Nicky en bestee sy vrye tyd op ‘n seilplank – verkieslik teen hoë spoed.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
17 (30%)
4 stars
30 (54%)
3 stars
4 (7%)
2 stars
3 (5%)
1 star
1 (1%)
Displaying 1 - 6 of 6 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,496 reviews85 followers
June 3, 2023
#Dolos – Jaco Wolmarans
#Tafelberg

Tex Texeira se voormalige loopbaan as spesmagte-operateur klop donderend aan die deur van die huidige tydens sy wittebrood, ‘n skamele sewe dae na sy troue met die intelligensie-analis, Helena. ‘n Mosambiekse ondersoekeenheid benodig dringend sy hulp om, gerugsteun deur die Amerikaanse DEA, ‘n diepdekkingsagent uit die Mecau-dwelmkartel te onttrek. Hy beskik oor plofbare inligting wat hy slegs met Tex sal deel. Die operasie word gekompliseer deur etlike faktore: Die kartel, onder leiding van die gevreesde Salim Abdullah Said, opereer in die onbestendige noorde van Mosambiek waar die Islamitiese ekstremistiese Al-Shababa ook toenemend septer swaai; ‘n sluipskutter wat na elke suksesvolle operasie soos ‘n skim verdwyn, is operasioneel in die omgewing, en die CIA druk hulle lastige neuse oral in.

Tex, ‘n karakter wat aan lesers van die skrywer se vorige romans bekend sal wees, is in hierdie roman nie net ouer as voorheen nie, maar ook meer weerloos in sy eie uitsprake: ‘Die hel weet, ek het genoeg gehad. Die wond teen my slaap van my vorige operasie is skaars gesond’ (34); ‘Ek is nie opgewasse hiervoor nie… Die man wat ek gaan jag, is my dekades voor.’ (52) en ‘Dis die mens wat ek destyds was. Eenvoudig, ongekompliseerd. Alles dinge wat my mettertyd verlaat het.’ (211) Hierdie uitbeelding van hom as soveel meer as ‘n geykte eendimensionele aksieheld, verseker behoudende leserbetrokkenheid.

Die gedetailleerde agtergrond van mindere karakters is eweneens uitstaande: Said is ongetwyfeld ‘n obskure kalant, maar wanneer sy agtergrond geopenbaar word, word sy optrede in die huidige weliswaar nie geregverdig nie, maar wel gemotiveer. Dieselfde – en meer – kan van die sluipskutter-karakter gesê word. Alhoewel dit nie afbreuk doen aan die feit dat hy ‘n huurmoordenaar is nie, is die insluiting van sy lewensverhaal ‘n faktor wat onwillekeurig empatie ontlok. ‘n Andersins onverbiddelike karakter word versag deur sy duidelike liefde vir boerbokke en die onverantwoordelikheid van ‘n ander word geïllustreer deur die woorde van ‘n meeloper: ‘…ek gaan hom doodmaak as hy nie self vrek nie!’ (221)

‘n Ongewone tegniek is waarneembaar in dialoogtonele: Direkte woorde van sprekers word, kontra aanvaarde praktyk, nie deurlopend in aanhalingstekens aangedui nie. Die effek daarvan is analoog aan die aanhoor van wisselende volume van sprekers en verskaf ‘n bykans filmiese dimensie aan andersins alledaagse tonele.

Kort hoofstukke met dramatiese slotsinne, gekombineer met brokkies inligting aangaande die bewegings en planne van die antagoniste wat aan die leser bekend is, maar nie aan Tex en sy makkers nie, skep ‘n moordende spanningstempo. Humor word egter nie agterweë gelaat nie: ‘…ek kry altyd die gevoel sulke staatseenhede is so geheim dat hul meubels nie eers op die staat se inventaris verskyn nie. En daarom nog minder vervang word.’ (114) en ‘Bly hier. Ek los my geweer. Moenie my skiet as ek terugkom nie. Ek gaan jou moer.’ (210) Daarbenewens verskyn omgewingsbeskrywings in prosaryke kleur: ‘Die nag kom vinnig in die bos. Die een oomblik nog vaalskemer, dan word die laaste lig uit die dag gesuig.’ (207)

‘n Lys van terme en akronieme verskyn vooraf (5) en die erkennings (329-332) is opsigself ‘n leesvreugde en verskaf fassinerende agtergrondinligting aangaande, onder andere, die titel, die navorsing wat betrokke was, die voorbladfoto en die ‘geboorte’ van Tex Texeira.

Die skrywer het homself reeds as formidabele outeur van modern Afrika-spanningsverhale gevestig met sy vorige romans, ‘Bos’ (2019); ‘Skag’ (2020), en ‘Ivoor’ (2021) en sy meesterskap in hierdie genre kan na dese geensins betwis word nie.

Bom trabalho!

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
22 reviews
June 30, 2023
Uitstekende boek!!!

Tex het soos altyd gesorg vir 'n aksie belaaide avontuur. Ek kon nie die boek neersit nie.
Jaco Wolmarans, ek sien uit na jou volgende boeke!
Profile Image for Annerle Barnard.
Author 7 books58 followers
August 8, 2023
Uitstekende spanningsverhaal. Ek het dit regtig baie geniet!
Profile Image for Rachel.
36 reviews11 followers
April 23, 2024
Wat ‘n wonderlike vonds, hierdie Jaco Wolmarans boek. Ek het dit terdeë geniet. ‘n Spanningsvolle en interessante spanningsverhaal geskoei op uitstekende navorsing. Ek soek nou my volgende Jaco Wolmarans.
Profile Image for Werner.
25 reviews1 follower
May 28, 2024
Dit is 'n baie opwindende storie. Dit lees op plekke moeilik, maar dis seker net omdat ek nie aan die skryfstyl gewoond is nie. Dis baie gefokus op die hooftema, daars nie baie afwykings nie, wat party mense seker sal verkies. Die naam van die boek is 'n bietjie misleidend. As mens die naam Dolos hoor dink mens aan die see en a hawe, maar die storie speel nie af by 'n see nie. Net aan die einde kom hulle amper met 'n see in aanraking, wat die naam meer toepaslik maak. Maar toe ek eers die boek gelees het, maak die titel vir my meer sin. Baie goeie boek. Ek sien uit na die volgende een.
Displaying 1 - 6 of 6 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.