Wanneer haar bejaarde ma verdwyn, besluit Katrien om die paaie van haar kinderjare n te ry. In die padkampe het haar saggeaarde pa, 'n padskraperoperateur, die lewe vir haar uitgel . Daar het haar ma se probleme ook begin.
Christine Barkhuizen Le Roux ontbloot haarself in hierdie autobiografiese fiksie. Dit verg moed om dit te doen. Die padmaakproses en die harde lewe wat haar pa, in besonder, maar ook hulle hele gesin in die algemeen beleef het, was interessant, insiggewend en hartroerend. Haar ma se geestesversteuring, soos wat algemeen so aanvaar word in hedendaagse psigoanalises, het die gesin in 'n groot mate beïnvloed.
Sy onderneem 'n fisiese reis om haarself te vind, asook meer van die gesin se ervarings te ontleed en vrede te maak. Dit word 'n introspektiewe reis wat die leser toelaat om tot 'n eie slotsom te kom.
Vir my was die boek 'n dubbeldoor ervaring. Aan die eenkant was ek 'n medereisiger na die wortels van haar menswees, vasgevang in 'n ligte fisiese reisjoernaal, met dieperliggende emosioneel-belaaide elemente, en aan die anderkant 'n waarnemer van 'n kreatiewe skryfkuns oefening waarin die regte knoppies gedruk was om die roman as 'n roman te laat werk.
Die padmakery was 'n groot pluspunt. Hoe dit gedoen was: die gevare; die beplanning; die uitvoering, die uitdagings; en die opofferings. Dit laat 'n mense agter met 'n groot dankbaarheid vir die mense wat daarvoor kans gesien het en dit laat werk het. Daar is byvoorbeeld bergpasse in hierdie land wat die asem wegslaan, soos byvoorbeeld die Baviaanskloofpad (nie in die boek vermeld nie); of the Swartbergpas, en talle ander Kaapse bergpasse. Colossus of Roads by Patricia Storrar and Gunther Komnick, is 'n goeie keuse om die padmaker, Thomas Bain, se toewyding daaraan te geniet.
Wat Christine hier met haar leser deel, is die spanne kundige werkers wat gewone plaaspaaie en ander nasionale paaie tussen dorpe min of meer anoniem, volgens haar, kom neerlê het. Fassinerende leesstof. Ek verskil met hierdie siening, want in ons munisipale distrik, wat eens die tweede grootste in Suid-Afrika, was, was die padmakers bekende en geliefde lede van die gemeenskap - boots an' all. Bygesê, hulle was permanent gestasioneer, kon huise koop, en hulle kinders was in een skool van begin tot einde. Die pa was wel weg vir baie weke en kon slegs naweke, of sporadies huis toe kom.
Soos Susan Coetzer se Uil In Die Ysbos het ek tog die gevoel gekry dat die warm, emosiebelaaide oomblikke versigtig, baie versigtig, gebruik was om die menslike elemente te verlig, maar dat dit ook moes plek maak vir 'n tydskrif-artikel steriliteit. 'n Uitgebreide artikel formaat, soortvan.
Die einde was emosioneel belaai, maar nie heeltemal so oortuigend nie. Min lesers het die sielkundige agtergrond om die einde ingelig te interpreteer. Miskien was ek as leser nie goed genoeg ingebed in die verhaal om enigsins emosioneel betrokke te kon voel nie.
Ek volstaan maar by drie sterre. Vir my as leser, was dit nie rerig 'n roman nie—eerder 'n brug tusen 'n memoir en 'n tydskrifartikel. Maar haar warm persoonlikheid en empatie met mense wat emosioneel swaardra aan hulle lewensverhaal, was ooglopend. Haar empatie het hier en daar nie ingeskop nie, soos byvoorbeeld met die lastige gastehuis eienaar wat op sy ouderdom nog kans sien vir flirtasies. Dit sou my ook grensloos geïrriteer het. Sy toon haar weerloosheid, maar ook intense energie om vorentoe te beweeg. Sy is wenner-materiaal, soos wat sy op die ou einde bewys het, ten spyte van (maar ook as gevolg van) haar ma wat haar ouboet en haar jonger sussie meer voorgetrek het t.o.v aandag en aanmoediging.
Die ontkoping van haar ma se 'geestesversteuring', 'n vorm van Muncshausen sindroom, was baie insiggewend. Ek was baie bly vir die hoofkarakter se onthalwe dat sy uiteindelik tog wel meer insig kon kry en kon vergewe.
Die reis deur die Wes- en Noordkaap was...temagedrewe... en ek aanvaar dit so.
Ek wens daar was meer drama, en 'n groter poging om karakters se stories uit te bou, met minder autobiografiese versigtigheid om gevoelens te spaar. Dis maar altyd 'n waagstuk om in hierdie formaat 'n storie te wil vertel. Aan die anderkant is haar eerlikheid bewonderenswaardig en bring dit empatie vir 'n mens wat wortels moes groei maar weinig geleentheid gegun was om dit te doen weens die gesin se swerwersbestaan. In die werklike lewe was sy 'n wenner wat haar eie gesin, haar man en haar kinders, se verhaal nuut en anders bepaal het.
Hierdie was nietemin 'n persoonlike reis vir haar om uiteindelik haar eie einde te kon bepaal.
Ek het Christine se boeke bietjie agterstevoor gelees: eers ‘Getuie’, toe ‘My naam is Prins’ en nou ‘Padmaker’. Ek is dus ietwat mosterd na die maal hiermee en gaan nie die hele sinopsis weer herhaal nie, bloot my eie indrukke.
Ek sal sommer met die deur in die huis val: hierdie boek gaan saam met my ouetehuis toe. Katrien se reis terug na haar eie kindervoetspore het op vele vlakke met my geresoneer. Ons klim nie almal letterlik in ‘n kar en ry die verlede binne nie, maar elkeen van ons ruik op ‘n stadium iets (soetsuurdeeg, ‘n primus-stofie, moerkoffie, boerseep......) wat gister weer helder voor ons laat staan. Ons almal sien op ‘n stadium iets wat ons met ‘n skok laat besef: dit wat ons as massief gesien het (‘n vertrek, ‘n dam, ‘n boom, ‘n plaas.......) is eintlik nie naastenby so groot en indrukwekkend (of vreesaanjaend nie). En ons almal praat op ‘n stadium met iemand wat iets van ons verledes onthou wat ons self lank reeds vergeet het.
‘Padmaker’ is ‘n reis - na die verlede en die self. Daar is nie regtig ‘n bestemming nie; veel eerder ‘n berusting. Hierdie boek gaan ouetehuis toe saam met ‘Women who run with the wolves’ (wat toevallig ook deur Katrien gelees word). Dis ‘n eerlike, opregte vertelling - van een hart na ‘n ander. 5 sterre van my.
Goeie boek, met baie gesag en insig geskryf. Al wat my begin onderkry het is die nimmereindigende gewroeg. Ek het ook by tye so bietjie simpatie verloor vir 'n karakter wat beheer oor haar voertuig verloor elke keer as sy na 'n boodskap op haar selfoon kyk, maar tog hou sy aan om dit te doen. Dis sulke mense wat onskuldiges laat seerkry. Ek gee nie om in watse sieletoestand jy is nie, trek van die bleddie pad af as jy weet jy laat jou kar skeef ry die oomblik wat jy jou oë van die pad af haal, Katrien.
Kry ek nou sommer so bietjie frustrasie-ontlading in, haha.
Die boek bied andersins fassinerende insigte in die wêreld van padkamp-mense en grootword met 'n ouer met sielkundige probleme en die bagasie waarmee dit die kinders los. Nie ligte leesstof nie, maar iets met die tipe diepte wat vir baie mense veel betekenis en waarde kan hê. I liked it. 3 sterre.
Katrien se reis na haar verlede, is baie meer as die ontdekking van hoe haar verlede haar menswees gerig het. Die leser maak die reis mee as ’n eie pad wat gemaak word. Ons lees van haar lewe as padkampkind, en deur haar reis leer ken ons haar, haar eie verhouding met haar kinders en haar man, en ook haar eie onvermoëns. Sy sien haar paadjies letterlik toegegroei na die huise waar sy as kind gewoon het, en moet onderskei tussen verbeelde werklikheid en haar realiteit. Haar dogter Juli som haar ma se verbeelding mooi op: “Op die ou end skraap ma net ’n klomp verbeelde goed op ’n hoop.”
Sy leer ken die traumas waardeur haar pa gegaan het, en ontwikkel begrip vir haar ma se patologie en hoe dit haar ouers se verhouding affekteer. As kind het sy gevoel haar ma sny haar vlerke af, maar haar eie verhouding met haar dogters is ook nie perfek nie. Die boek laat my besef hoe ons ook maar ons eie onvermoëns aan ons ouers wil toeskryf, en veilig voel as ons kan vasklou aan die bande van die verlede.
Katrien sien haarself ook as ’n soort padmaker, en sy onthou haar pa se woorde, “Padmaak is ’n saamwerkding.” Haar eie optrede laat soms min ruimte vir ander, haar optrede teenoor man, kinders, en ook ander mense. Katrien leef op haar eie eilandjie. Is dit ook ’n teken van wat haar pa gesê het: “Liefde is soos ’n aflosstokkie, my kind. ’n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.” ’n Baie hartseer aspek van die boek, is die wete dat beste bedoelings nie altyd so verstaan word nie, en soms ook onverdiend gestraf word. So is die lewe mos ook maar.
Op haar reis kom haar pa se woorde na haar toe terug, is dit vir haar ’n inspirasie. “Sien jy,” het hy gesê, “as ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat.” En: “Kyk ’n bietjie rondom jou, Katrien, daar is soveel dinge wat vooraf moet gebeur, wat net reg moet loop om die stuk pad eindelik begaanbaar te maak.”
As ons padmaker Japie Badenhorst se woorde ter harte neem, sal ons daardie lewenslesse met vrug op ons eie lewens kan toepas. As ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat. Inderdaad, ja.
Op die buiteblad word dit genoem: ‘n Deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind en die afdruk wat een geslag op ‘n volgende laat.
As sy reg onthou, was dit dieselfde aand dat haar pa vertel het van die ingenieur wat ook ‘n dominee en sosiale werker was, dat hy dié ding gesê het wat sy nou eers verstaan: ‘Liefde is soos ‘n aflosstokkie, my kind. ‘n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.”
Twee maande na die verdwyning van haar bejaarde ma besluit Katrien om die paaie van haar kinderjare na te ry. Haar reis neem haar terug na die padkampe waar haar saggeaarde pa, ‘n padskraperoperateur, met sy stories oor die padwerke die lewe vir haar uitgelê het. Daar het haar ma, met haar verbete stryd teen die armoede van die kampe, se probleme begin. Katrien se opsoek van die mense en die plekke wat haar gevorm het, is meer as net ‘n herinneringstog. Dit is ‘n poging om haar ma te verstaan en om haar eie weg vorentoe te vind. Op die oop pad onthou sy weer haar pa se woorde: “Om te weet waarheen jy op pad is, moet ‘n mens onthou waar jy vandaan kom.”
Christine Barkhuizen le Roux is op Vryburg gebore en woon deesdae op ‘n plaas naby Barrydale. Haar debuutdigbundel, dimensie, het in 2000 verskyn. In 2006 het ‘n kortverhaalbundel, Waar koek en wyn ontbreek, en ‘n tweede digbundel, roset, gevolg. Verskeie van haar gedigte is in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings, onder andere Groot Verseboek, opgeneem. PADMAKER is haar eerste roman.
Die boek was een van dié op my lysie vir 2010 waarby ek nie uitgekom het nie, en gelukkig kon ek dit toe vir Kersfees bestel. Ek het haar kortverhaalbundel ‘n jaar of twee gelede onder oë gehad en hoewel ek nie veel kan onthou nie, onthou ek dat my indruk gunstig was. Vir iemand wat in soveel genres kan skryf, het ek in elk geval groot bewondering. Dat sy talentvol is, is nie te betwyfel nie.
Ek dink Padmaker sal enigiemand aangryp wat belangstel in die verwikkeldheid van menslike verhoudings en sommer van die mens as sulks. Dis nie ‘n prettige storie nie, maar die hartseer en onbegrip tussen mense word gebalanseer deur die krag van die liefde tussen mense wat met bande van bloed gebind word. Ook tussen die dogtertjie en haar moeilike ma (wie se moeilikgeit sy nou ‘n naam kan gee en kan begin verstaan) bly die liefde altyd ten spyte van die onbegrip en wrywing. Die beskrywing van die SA landskap waardeur sy ry, met die klem op die wonderlike plekname, word aangrypend gedoen. Enigiemand wat die land liefhet, sal aangeraak word daardeur. Ook die mense wat sy op haar reis ontmoet, word in fyn detail beskryf. ‘n Mens kan nie anders as om te wonder tot hoe ‘n mate dit ‘n outobiografiese werk is nie. Die taal is deurgaans pragtig en die hoofkarakters word gebalanseerd beskryf – niemand is net goed of net sleg nie.
As jy hou van verhale wat dieper delf en nie skrik vir hartseer nie, is dit die boek vir jou. As jy in die bui is vir ‘n ligte, plesierige ontsnapstorie – hou verby.