Op 'n snikhete somerdag in 1890 grawe 'n boer in die Bosveld, anderkant Middelburg, ’n leivoor op sy plaas. Onverwags verskyn daar ’n skedel onder sy graaf. So het hy, in die nog erge woesteny wat Rietvallei toe was, die lewensaar vir sy landerytjies deur die kopgedeelte van 'n graf gegrawe.
Vyf geslagte later probeer sy nasaat, Alwyn Baayenhoek, die vloek wat op sy familiegrond rus, ontrafel. En hoe maak hy met die grondeis wat oor Rietvallei hang?
Alles word op die spits gedryf in daardie nag toe Alwyn en Mpho na Alwyn se pa in die Tygerpoort gaan soek terwyl 'n storm opsteek. Soos 'n vader wat na 'n vermiste kind soek, so soek hy na sy pa.
Die vloek is ’n spannende en diep ontroerende roman oor die sondes van die vaders wat aan die derde en vierde geslag besoek word. En op die rand van die werklikheid dans daardie onsienlike dinge wat nie met rede verklaar kan word nie.
Johan Kruger is ’n regsgeleerde van beroep. Hy was, onder andere, as regsadviseur betrokke by die grondwetlike onderhandelinge wat in 1993 in Kemptonpark plaasgevind het. Hy en sy vrou, Hester, woon tans op hulle aftreeplasie digby die Loskopdam in Mpumalanga. Kruger is ’n veelsydige skrywer wat sy pen aan verskeie genres gewaag het. Hy het onder andere vier jeugromans, twee geskiedkundige romans, verskeie kortverhale asook ’n speurroman die lig laat sien. Hy het ook kortverhale geskryf waarvan verskeie in die Tydskrif vir Letterkunde verskyn het en ’n paar in twee kortverhaalbundels opgeneem is.In 2012 is Die vloek vir ’n ATKV-Woordveertjie benoem.
Uit die blurb: Die vloek is ’n spannende en diep ontroerende roman oor die sondes van die vaders wat aan die derde en vierde geslag besoek word. En op die rand van die werklikheid dans daardie onsienlike dinge wat nie met rede verklaar kan word nie.
Dan meen Riana Scheepers dat hierdie roman een van daardie is wat net eenkeer in 'n dekade self aanmeld. Groots, ambisieus, geskakeerd en aangrypend.
Vir my persoonlik was dit dramaties, snel-vloeiend en kompleks soos die verskillende lae van 'n ui wat een vir een afgepluk word. Elke telefoon wat lui het nuwe uitdagings gebring. Elke epos was op 'n ander spoor. Sommige tydings wou 'n mens hoor en ander ontken. Maar wegkruip was daar nie. Gewis ook nie vir die spoke van die verlede nie.
'n Boeiende spanningsverhaal wat tokkel tussen die huidige gebeure en die dié van dekades gelede wat aanleiding gegee het tot die onlangse krisis in 'n familie. Die intrige loop dik en die emosies hardloop soos verwarde vingers op en af en heen en weer op die oktawe van die psige. Die leser bly ook nie gespaar nie!
Dis terselftertyd 'n hartseer, maar ook 'n bevrydende ervaring.
'n Lekker vinnig lees. Goeie uitbeelding van gevoelens in hedendaagse Suid Afrika aangaande regstellende aksie, grondhervorming, 'n geskiedenis van kolonialisme en anglo-boere oorlog. Ietsie van die impak wat Suid Afrika se geskiedenis oor die laaste twee honderd jaar vandag op ons het.
Die hoofkarakter ontwikkel om te leer dat ons ons voorsate se handelinge binne hulle konteks moet begryp en oordeel, maar die verantwoordelikheid het om vandag reg te stel as dit binne ons beheer is.
My eerste Afrikaanse boek in 'n baie lang tyd en ek het dit terdee geniet. Vinnig, skerp en van goeie gehalte, met n baie bindende storie. Vir n slag "nuwe Suid Afrika" wat met sorg geskryf is, en 'n lekker tikkie heimwee en misterie om die pas vol te hou. Baie lekker boek!