'n Hoogs oorspronklike, opwindende en soms grieselige roman met al die elemente van 'n spanningsverhaal - misdaad en moord, geld, seks, liefde en selfmoord - in Steve Hofmeyr se kenmerkende bondige en spitsvondige styl
Steve Hofmeyr is een van die gewildste vermaaklikheids-kunstenaars in Suid-Afrika. Benewens sy loopbaan as sanger, liedjieskrywer en akteur, is hy ook bekend daarvoor dat hy op uitgesproke wyse sy mening oor politieke en kulturele kwessies lug. As akteur het hy bekendheid verwerf vir sy rolle in TV-reekse soos Agter elke man en verskeie films en sepies, insluitende Egoli. Hy het reeds ’n menigte toekennings ontvang, onder meer Geselsprogram-aanbieder van die Jaar, platinumstatus vir CD-verkope wat die tweemiljoen-merk oorskry het (EMI), en ’n SAMA-toekenning vir grootste verkoper van musiek in Suid-Afrika oor alle genres heen. Sy outobiografie, Mense van my asem, was ’n topverkoper in 2008, en sy vier romans is gunstig deur kritici ontvang.
Desmond Faure (Danie Fourie in 'n vorige lewe) sit by die graf van 'n Duitse vrou, die loop van 'n rewolwer teen sy voorkop, gereed om die sneller te trek. Hoekom? Wat soek hy hier en hoe het hy hier gekom? Hoe het daar R50 miljoen in sy bankrekening gekom en hoekom gee hy dit alles weg?
Dit is hier naby die einde wat Desmond in Kapabel begin om sy storie aan die leser te vertel.
Ek het my gate uit geniet met hierdie boek. Dit is 'n boeiende verhaal wat homself stukkie vir stukkie ontknoop. Daar is tonele wat jou sal laat gril, ander wat jou met deernis vul. Kom ons sê maar net Desmond se paadjie maak 'n klomp interessante draaie, en in Steve Hofmeyr se bekwame hande en op die man af skryfstyl het dit my moeiteloos meegesleur.
Die boek bevat wel sterk taal (as waarskuwing vir die wat weier om boeke te lees met sterk taalgebruik), maar niks wat nie perfek in lyn is met die karakters nie.
Hierdie boek slaan jou tussen die oë! Dit was absoluut briljant. Steve Hofmyer se skryfstyl is so uniek en amper ook alledaags.
Ek het Danie Fourie/Desmond Faure se storie so geniet, dat ek letterlik nie die boek kon neersit nie.
In hierdie spanningsverhaal volg ons n wesrandse skelm op sy oorlewingsreis. Dit word met oorgawe vertel en daar is hope spesiale en hoogs spanningsvolle oomblikke.