Emma reis na Clarens om haar man se as te strooi. Terwyl sy by tante Vera tuisgaan, daag ’n geheimsinnige koevert op waarvan die inhoud Vera angsbevange maak. Dit blyk dat sy jaarliks anoniem só gedreig word voordat daar op iets wat vir haar kosbaar is toegeslaan word. Wie koester ’n wrok teen Vera? Waarom? Sal Emma antwoorde vind voordat die teisteraar se wraak toeneem? Met die spannende ontrafeling van ’n skrikwekkende raaisel word temas van skuld, straf, boetedoening en vergifnis ondersoek.
Die debatte en argumente aangaande skuld, verweer en straf is so oud soos die mensdom self: ‘Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee…’ (Genesis 3:12) Elke oortreder beroep hom- of haarself op verminderde aanspreeklikheid, mededaderskap, regverdigingsgronde, of ‘n totale ontkenning van aanspreeklikheid met die hoop op versagtende faktore by vonnisoplegging of ‘n ongekwalifiseerde vryspraak. Themis mag in die Griekse mitologie geblinddoek wees terwyl sy die skaal van geregtigheid balanseer, maar inderwaarheid is objektiwiteit slegs ‘n strewe en vervaag die lyne tussen straftoemeting en wraak dikwels.
Vera ontvang reeds sedert 2013 jaarliks vroeg in Junie ‘n koevert met skynbaar onverwante items wat telkens ‘n voorspel tot persoonlike onheil simboliseer. Deurgaans egter daarmee saam ‘n pêrel, die simbool van trane en ook die tradisionele geboortesteen van die maand Junie. Emma reis na Clarens in Junie 2020 om die as van haar oorlede man, Simon, daar uit te strooi en is woonagtig by Vera wanneer die gebruiklike koevert opdaag. Met Emma as katalisator is daar ‘n verskuiwing van die akkusatoriese aard van die sinistere waarskuwings na inkwisatories; die getuienis word geopenbaar en geëvalueer om die wie en waarom van die selfaangestelde regter te ontbloot.
Aanvanklik is Vera ‘n donker, ontoeganklike karakter: ‘Haar sinne is klein kapsules inligting en teenstrydighede sonder enige saambindende logiese draad’ (49) maar haar weerloosheid word toenemend ontbloot: ‘Mettertyd verwag niemand iets goed van jou nie, en mens gebruik dit as ‘n soort toestemming om moeilikheid te maak. ‘ (87) met wie deernis ontwikkel word wanneer sy met ‘n tragiese trots verklaar dat haar ma trots was op haar suksesvolle suster, ‘…maar sy was liėf vir my.’ (96)
Emma gaan self ook gebuk onder ‘n skuldlas; haar eens geliefde se gru-dood soos ‘n Damokles-swaard bokant haar kop. Die ontrafeling van die raaisels wat Vera omring is terselfdertyd die sneller vir die ondersoek na haar eie gewaande skuld. Emma identifiseer as ‘sondaar’ (13) maar is nietemin verontskuldigend wanneer sy die aard van haar ‘sonde’ beredeneer, alhoewel sy later bely: ‘Daar is ‘n verskriklike, ononderbroke lyn van oorsaaklikheid…’ (28)
Die roman ondersoek temas van skuld in al sy verskyningsvorme, aandadigheid, straf, en vergifnis, insluitend die kritiese vrae: Wat is die gepaste straf wanneer die omvang van die berou die omvang van die skuld oortref ? En: Is ‘n herstel van die versteurde balans enigsins moontlik aangesien geen daad ongedaan gemaak kan word nie ?
Om hierdie besondere roman in ‘n genre-boksie te probeer forseer, sou beide kortsigtig en onnadenkend wees. Spanning en raaisels gee aanleiding tot eksistensiële vraagstukke; die aard van die menslike natuur, veral die Calvinistiese oortuiging van die neiging na sonde, die onderskeid tussen persoonlike wraak en die herstel van ‘n wanbalans in geregtigheid, en die invloed van skuld (guilt) op skuld (debt) word krities aangespreek in ‘n boeiende, toeganklike formaat, en die trefwydte van temas sal ongetwyfeld verseker dat die roman by ‘n eweneens wyd uiteenlopende groep lesers byval sal vind. ⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers
Hierdie was 'n MEESTERSTUK! Van bladsy 1 tot die einde. Briljant. Ek was stomgeslaan deur hoe maklik en vinnig hierdie uitstekende riller lees. Ons ontmoet vir Emma, en dan haar man se tante, Vera. Vera is 'n moeilike antie met n kleurvolle en interessante verlede, 'n verlede wat haar nou oënskynlik begin inhaal... hope naelbyt-oomblikke met 'n meesterlike verteltrant geskryf. Ek is obsessed met hierdie boek!!!! Well done PP Fourie! I salute you🫡 Lees gerus as jy van geheimsinnige kopkrapper-rillers hou!
Ons skulde deur P. P. Fourie is 'n boek wat jou sal laat dink, voel en wonder. Dit is 'n verhaal oor skuld, vergifnis, liefde en wraak, wat in 'n spanningsvolle raaiselroman verpak is.
Die boek begin met 'n proloog wat die leser dadelik in die greep kry.
“Skuld is 'n swaar las om te dra, maar dit kan ook 'n kragtige dryfveer wees om te verander.”
Emma is 'n navorser en projekbestuurder van 'n internasionale nuustydskrif, wat haar man, Simon, verloor het nadat sy hom van haar ontrouheid vertel het. Sy reis na Clarens om sy as te strooi, maar daar wag haar meer as net rou. Sy ontmoet Simon se tannie Vera, wat ook 'n donker geheim met haar dra. Vera ontvang elke jaar 'n koevert met 'n foto en 'n paar voorwerpe wat haar aan 'n traumatiese gebeurtenis in haar jeug herinner. Wie stuur hierdie koeverte en waarom?
“Vergifnis is nie iets wat jy net een keer doen nie. Dit is 'n proses wat jy elke dag moet herhaal, totdat jy vrede het met jouself en die ander.”
Emma besluit om die raaisel op te los en kom agter dat Vera se verlede verweef is met die van ander mense in die dorpie.
Fourie skryf met 'n vlymskerp pen en skep geloofwaardige karakters wat menslik en feilbaar is. Hy roer temas aan soos vergifnis, boetedoening, geloof en geregtigheid, sonder om moraliserend of sentimenteel te wees. Hy gebruik ook kunswerke, musiek en boeke as verwysings om sy storie te verdiep en te verfraai.
“Wraak is 'n bitter drankie wat jou siel vergiftig. Dit maak jou blind vir die mooi dinge in die lewe en laat jou net haat en woede voel.”
Ons skulde is 'n boek wat jou nie maklik sal los nie. Dit is 'n meesleurende leeservaring wat jou sal verras, ontstel en ontroer. Dit is 'n boek wat jy nie wil misloop nie.
Die boek het ook baie lof ontvang van kritici en lesers. Volgens [LitNet], "Fourie se roman is een van die beste Afrikaanse spanningsromans van die afgelope tyd". Volgens [Netwerk24], "Ons skulde is 'n roman wat jou sal laat dink oor jou eie skuldgevoelens en hoe jy dit hanteer".
Ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie. Ek het, deur die loop van die storie, letterlik almal verdink. As jy hou van spanningsromans met 'n sielkundige inslag, dan is Ons skulde die boek vir jou. Dit is 'n boek wat jou sal uitdaag om jou eie skuld te konfronteer en om te besluit of jy kan vergewe of nie.
Met dank aan Exclusive Books vir die geleentheid om die boek te lees.
Soms tel ek ’n boek op wat só boei dat nodige aktiwiteite agterweë gelaat word, want die verhaal moet gelees word, die intrige op ’n punt gedryf word, die raaisels opgelos word. Presies só het ek Ons skulde ervaar. Die proloog is angswekkend en uiteraard het ek begin opsies oorweeg, maar die uitkoms daarvan word eers baie later duidelik. Dit skep deurentyd ’n tipe van afwagting, juis omdat mens besef dat dit belangrike inligting moet wees. Die storie ontvou vervolgens in afdelings onder opskrifte van drie vroulike hoofkarakters. Die skielike dood van Emma se man stuur haar lewe in ’n onverwagte rigting. Sy gaan Clarens toe om sy as te strooi en gaan tuis by sy tante, Vera, wat al vir jare, sedert 2013, deur ’n onbekende man geteister word. Vermoedelik ’n persoon met wie Vera ’n verhouding gehad het in haar wilde jare sedert sy in Clarens kom woon het. Jaarliks ontvang Vera ‘n koevert met ’n foto, twee pêrels en soms ’n verdere item. Kort daarna gebeur iets traumaties met Vera, iets wat dan, terugskouend, verband hou met die koevert se inhou. Emma merk op: “Dit kom al nader aan jou. Die gevaar. Dit stroop jou elke keer van meer en meer, van alles wat jou definieer.” (p.106) Die komplot is haarfyn beplan, die leidrade goed verskans en die storielyn meesterlik en baie spannend aangebied. Die sentrale tema is uiteraard die van skuld, wanneer Vera, met die hulp van Emma as klankbord, haar misstappe en vergrype van die verlede ondersoek in ’n poging om die aanslag op haar menswees te verstaan. En die finale konfrontasie te probeer vermy. Die slotwoorde gryp terug na die titel van die boek. Dit kom enersyds as ’n verrassing, andersyds as die logiese voltrekking van die aangrypende verhaal.
Baie dankie aan NB Publishers dat hulle vir my ‘n kopie van hierdie boek gestuur het in ruil vir ‘n eerlike resensie. Alle opinies is my eie.
Ons Skulde volg vir Emma wat Clarens toe gaan nadat haar man dood is. Hier leer ken sy vir Vera, haar man se tannie, asook Danie, die jong man wat by Vera bly en haar uithelp. Dit is ook hier waar Emma leer dat Vera jaarliks koeverte ontvan met subtiele dreigemente. Terwyl Emma en Vera soek na antwoorde, voel dit asof die gevaar nader en nader kom.
Daar is min wat mens kan sê oor hierdie boek sonder om dinge weg te gee, maar wat ek wel kan sê is dat ek dit vreeslik geniet het! Ek het my tyd gevat en net ‘n hoofstuk of twee ‘n dag gelees, veral omdat dit so swaar verhaal is. Wees gewaarsku: van die dinge wat in hierdie verhaal gebeur is nogals ontstellend!
Ek het regtig nie geweet waarheen die storie gaan nie, so ek het gevoel asof ek saam met Vera en Emma probeer “uitfigure” wat aangaan. Daar was baie dele van die storie wat my geskok het, en en het die einde nie sien kom nie.
Die boek was ook baie goed geskryf, en ek was beïndruk met hoe progressief dit was in vergelyking met ander Afrikaanse boeke wat ek al gelees het. Die boek spreek baie dinge aan wat huidiglik in Suid Afrika aangaan, en dit het my oor baie dinge laat dink asook die boek meer realisties laat voel. As jy iemand is wat hou van ‘n spannende boek wat jou op jou tone sal hou en rillings by jou rug laat afloop, is die ‘n MOET lees!