Op haar een-en-dertigste verjaarsdag besluit Roxy: van nou af wil sy ’n lipstiek-lewe hê, ’n roekelose skelrooi lipstiek-lewe. Want een-en-dertig is die eerste tree ondertoe. Van hier af is dit al die pad afdraand.
Só ’n lewe behoort nie ’n probleem te wees nie; almal dink in elk geval sy is “flirty” en uitgesproke – grotendeels weens haar blog wat sy onder die skuilnaam Jessica Rabbit skryf. Haar kollega Zander dink sy is Jessica Rabbit in lewende lywe: so sensueel dat sy ’n nat lap aan die brand kan steek. Maar Roxy voel allesbehalwe sensueel. En sy het ’n geraamte of twee in haar kas wat haar flankeerdery en verhoudings elke keer beduiwel.
Wanneer Zander se pa, die bekende motiveringspreker Adam Muller, op die toneel verskyn, raak Roxy se lipstiek-lewe nog meer deurmekaar. Zander wil hê sy moet voorgee dat hulle twee uitgaan, en Adam keur dit duidelik nie goed nie. Daar is kleine Janneman wat haar diep in sy kleuterwêreld en -hartjie intrek. En ná al die jare verstaan Roxy en haar ma mekaar nog steeds verkeerd. Nee, méér as net verkeerd. Die enigste sekerheid in Roxy se nuutgevonde lipstiek-lewe blyk Oumalot te wees – totdat dié ook in raaisels begin praat.
Of dit nou waatlemoenrooi, skelrooi, posbusrooi of kersierooi is – Roxy se lipstiek begin al meer na oorlogsverf lyk. . .
Kristel Loots bly knus agter die boereworsgordyn in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy hier – en elders – raakloop. “Gewone” voorstedelike vroue, soms met voorskote om die geronde heupe, ander tye weer modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat vir niks skrik nie. Of oor “anderste” vroue, verskillende vroue, vroue met issues. Want menswees en veral vrouwees en die vele fasette daarvan fassineer haar. Vroue is stunning en dikwels die hoeksteen wat huis en haard aanmekaar hou en elke vrou het ’n storie.
Wat 'n heerlike, prettige boek! Daar is ook genoeg erns in en 'n lekker kinkel in die storie om dit net lekker lyf te gee. Ek het die boek vreeslik geniet, eintlik het ek Roxy vreeslik geniet :-)