Sean is nog altyd gefassineer deur die heelal en alles daarin. Hy lê gereeld in die aande in sy bed en dink aan al die mense wat voor hom op aarde was. Hoe almal gepoog het om die heelal te waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Die probleem is, jy weet nie wat gebeur met jou in die ander heelalle nie en die kans om hulle ooit te sien is skraal of nul. Sean hou duim vas vir ’n inter-meer-al-ruimtewurm, maar al wat nou bestaan is hierdie heelal en hierdie realiteit. Om die waarheid te sê, hy dink hy het beland in een van die heelalle van Sean wat beslis ’n fabrieksfout was. Dit tot hy vir Mika ontmoet het en hulle lewens nooit weer dieselfde sou wees nie. Altans, nie in hierdie heelal nie ...
Verbeel jou, net vir ‘n oomblik, dat daar, iewers in die onbegrensde heelal, ander weergawes van jou bestaan. Waarskynlik in ander omstandighede, dalk selfs in ander tydperke, en toegerus met ander vermoëns en keuses, maar steeds onteenseglik jy.
Die moontlikheid, vergesog soos dit mag wees, speel gereeld in Sean se kop af. Want in hierdie tyd, in hierdie leeftyd, is hy vir homself soos Halley se Komeet; ‘…ek dryf net so een keer elke vyf en sewentig of ses en sewentig jaar verby almal. Die res van die tyd is ek min of meer onsigbaar.’ (15) Sy bogemiddelde intelligensie maak van hom ‘n randfiguur in die matriekklas; hy bedryf wel ‘n uiters winsgewende huiswerksindikaat, maar tussen sy helikopter-ma en onbetrokke pa, is dit slegs sy brandende begeerte om ‘n nuwe planeet te vind wat kleur aan sy lewe verskaf.
Mika woon in dieselfde kompleks as Sean. Hulle sien mekaar soms op ‘n afstand by die skool, maar kon andersins netsowel op verskillende planete gewoon het. Haar ma verafgod haar suster, Tessa, en haar pa val in en uit by beide hulle huis en AA-vergaderings. Maar op ‘n stadium, voordat haar pa die stryd teen die bottel verloor het, het hy by haar ‘n liefde vir musiek gekweek. Nou het slegs die eggo’s van die note agtergebly en haar obsessie met Griekse mitologie en naweke se skelm vodkas is min of meer die hoogtepunte van haar bestaan.
Tydens ‘n andersins eensame wintervakansie kruis Sean en Mika se planete op ‘n ongewone manier. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie.
Hierdie splinternuwe roman vir jong volwassenes het ‘n interessante geskiedenis. Sean en Mika se verhaal was ‘n filmkonsep in 2019. Dit het nie gerealiseer nie, maar na ‘n herskryf tot ‘n kort reeks het die verfilming op 28 Julie 2020 ‘n aanvang geneem, en die nege episodes word tans op Showmax vertoon. Die roman is ‘n hervertelling van ‘n besondere vakansie; nie identies aan die reeks nie, eerder, in die skrywer se eie woorde ‘…nog ‘n moontlikheid van dieselfde storie.’ (4)
Die roman word beurtelings vanuit Sean en Mika se oogpunte aangebied. Beide tree op as eerstepersoon-vertellers, kompleet met voetnotas waarin hulle stellings kwalifiseer of uitbrei of bloot op hulle eie optredes en woorde kommentaar lewer. Die gevolg is ‘n interaktiewe leeservaring, gevul met beide humor en deernis. Mika het ‘n legendariese humeur en ‘n uitbarsting word as volg deur Sean ervaar: ‘Die dorpie se noodklokke lui. Benoude ma’s gryp huilende kinders uit hulle beddens…’ (24) Sy eie onsekerhede word ook deurentyd met fyn selfspot gegeur: ‘Haar oë lyk wasig en ek wonder of ek haar tot die dood toe verveel het. Wat gaan ek met die lyk doen?’ (65) Hy beskryf sy gevoel vir Mika sonder oordadige sentiment en met treffende eenvoud: ‘…saam met jou voel ek minder alleen.’ (110)
Musiek en lirieke veral Deon Meiring se ‘Grensbewoner’ en Koos Kombuis (wat self as karakter in die roman verskyn) se ‘Bicycle sonder ‘n slot’ speel ‘n integrale rol in die teks. Bonusmateriaal sluit ‘n skakel na ‘n Spotify Playlist in. Die leser kan die kode skandeer en self luister na die musiek waarna verwys word.
Sean en Mika se onvergeetlike vakansie sleur die leser onwillekeurig mee op ‘n evokatiewe reis. Dit mag inderdaad, soos wat die skrywer in die bedankings noem, gemik wees op ‘Al die tieners oor al die eeue heen…’ (220) maar dit sal volwasse lesers eweneens vermaak en ontroer sodat Koos Kombuis se nostalgiese ‘…onthou jy ons kuiers met koeldrank, alleen in die kaia van jeugtyd se groen?’ (28) nog lank na die lees van die slotwoorde in ‘n vergete hartskamer sal weerklink.
Hierdie is seker ’n klassieke geval van mosterd na die maal. Nadat ek Kompleks, die bekroonde werk van Louis Pretorius, geleen en elektronies gelees het, kan ek glad nie begryp waarom ek in 2023, toe dit verskyn het, nie my hande op die gedrukte weergawe gelê het nie. Dit is beslis een van die beste verhale vir jong volwassenes wat ek ooit gelees het. Die titel slaan na twee kante: die middelklas voorstedelike kompleks waar Sean en Mika woon, en dan na die kompleksiteite van die hulle lewens. Die skrywer beskryf dit die beste in ’n onderhoud met Litnet: “Op sy basiese vlak is dit waar Sean en Mika bly. Tweedens sinspeel dit uiteraard op die kompleksiteit van tienerverhoudings, maar ook jou verhouding met jouself en jou familie en vriende. Belangriker as al hierdie dinge verwys dit egter ook na die sielkundige komplekse wat in jou kinder- en tienerjare ontstaan en waarmee jy uiteindelik jou hele lewe lank worstel. En hierdie is vir my die kern van die verhaal.” Beter kan ek dit nie opsom nie, net byvoeg dat dit aan die hart ruk. Beide die hoofkarakters, wat om die beurt fokaliseer, oorleef, net-net, in gebroke gesinne. Hulle vind mekaar in sterrekyk, planete soek, musiek, kuns, mitologie en die liefde vir mekaar wat hulle oor ’n kort tydperk ontdek. Interessante aspekte is die voetnotas wat propvol inligting is en die alternatiewe heelalle wat geskets word nadat die eerste heelal hanteer is. Ek het die TV-reeks nie gesien nie, en ek is deels nuuskierig maar ook versigtig dat dit nie afbreuk doen aan hierdie skitterende boek nie. Kompleks is uitgegee deur Lapa Uitgewers.
Gedurende die wintervakansie ontwikkel twee matrikulante, Sean en Mika, gevoelens vir mekaar. Sean, wat passievol is oor ruimte en tjello speel, word bekoor deur Mika, wat 'n belangstelling in Griekse mitologie het en graag teken.
Hierdie twee ontmoet mekaar wanneer Sean in die straat val oor sy hond se leiband. En dan kom Mika hom te hulp en sit 'n pleister aan. Van daardie stadium af begin hulle tyd saam deurbring en kennis maak. Hy leer haar oor die ruimte terwyl sy hom voorstel aan die pragtige musiek wat sy geniet, en sy is 'n toegewyde aanhanger van Koos Kombuis.
Ek het die boek baie geniet. Die voetnote onderaan die boek was die hoogtepunt aangesien dit addisionele notas oor die karakters se gedagtes, gevoelens of historiese konteks verskaf het. Die karakters het my hele hart gevang. Beide van hulle het persoonlike uitdagings en onsekerhede, maar wanneer hulle saam is, vind hulle weer volledigheid in mekaar.
Albei individue is in 'n disfunksionele huishouding grootgemaak en kies steeds om veerkragtig te bly.
☄
Ek het dit baie geniet om van planete te leer. Hierdie is beslis 'n moet-lees, van begin tot einde. Ek kon eenvoudig nie ophou lees nie.
Die boek sal hoogs genotvol wees vir individue wat aanhangers is van sowel Koos Kombuis as David Bowie se musiek, sowel as diegene wat in planete en ruimte belangstel.
Baie dankie aan @lapa_uitgewers en @penguinbookssouthafrica wat hierdie resensie-kopie aan my verskaf het.
Beslis die moeite werd om te lees. Jonk en oud kan baie leer oor die denke en leefwyse van tieners of amper volwassenes. Die skrywer beweeg telkens tussen die twee hoof karakters. Om in die eerste persoon te skryf gee mens insig in die diepste dieptes van Mika en Sean se gevoelens. Uitstekend geskryf.
Mika en Sean bly in dieselfde kompleks in Stellenbosch. Dis die lang wintervakansie en albei se vriende het vrolike vakansies waar die son skyn en dit heelwat warmer is. Albei het ingewikkelde omstandighede tuis. Albei is in matriek in dieselfde skool maar hulle wentelbane kruis nie eintlik nie. Sean is van kleins af obsessief oor alles wat met die ruimte te doen het. Op 18 het hy ‘n duvetoortreksel met die sterre en planete op en teen sy dak wentel fosforsterre. Hy is die slimste nerd in die skool en het sy eie vriende wat hom ken en verstaan. Mika is omgemaklik in haar lyf, hou effe té veel van vodka en doen die mooiste kuns. Sy kan jou alles van Griekse mitologie vertel en sy dink nie sy is eintlik slim nie. Op ‘n nat en koue oggend neem Sean sy dooie hond op ‘n wandeling (nee ek gaan nie nou verduidelik nie – lees die boek!) en ploeg neer terwyl Mika op haar stoep sit. So ontmoet die twee mekaar en die wonderlikste vakansie in hul lewens begin. Die hoogtepunt van die boek is nie net die pragtige storie nie maar die skryfstyl. Ek dink in voetnotas en hierdie boek is juis so geskryf. Elke karakter gesels afwisselend met die leser met hope voetnotas onder aan wat meer verduidelik oor wat hulle bedoel met ‘n sin of frase. Ek het dit baie geniet en dit gee mens insig in die karakters. Die klankbaan van die boek is fantasties – dit trek jou in. Daar is ‘n Spotify skakel aan die begin van die boek wat jy kan volg. Ek het heerlik na die musiek van die boek geluister terwyl ek gelees het. Dit is natuurlik ook een van die lekkertes van die boek gewees – die musiek! Ek self het as student met die Voëlvrybeweging se musiek as klankbaan studeer. Koos Kombuis (of André) het in Tuks se argitektuurdepartement rondgehang met een van my mede studente. Ons het die eerste konsert vir die Gereformeerde Blues Band in Pretoria gereël – Mika word groot op die klankbaan van my studentelewe met ander bekendes soos Nic Cave wat ek ook met my kinders deel. Met ‘n seun wat ‘n altviool speler is en my grootwordjare op klassieke musiek is nog ‘n deel van die klankbaan ook baie bekend. Ja, dit is ‘n liefdesverhaal en ek is nie eintlik ‘n fên van liefdesverhale nie. Maar dis anders. Die boek het my ingeslurp en vasgevang tot diep in die nag. Dit is ‘n storie van komplekse persoonlikhede in komplekse omgewings. Van leer van liefde en verstaan van ander. Van die belangrikheid van familie al is die familie ook hoé disfunksioneel. Ek weet dat “Kompleks” een van my top boeke van die jaar gaan wees. As een van die tieners in ons huis hom klaar gelees het sal ek ook die tiener oogpunt publiseer maar ek het geen twyfel dat hierdie wonderlike boek nie ook sy magic by hulle gaan saai nie.
So n lekker kanineersit hoërskool liefdesverhaal, met n spotify playlist waarop koos kombuis n paar keer te voorskyn kom, en n storie met diepte en insig van hoe tieners die lewe ervaar. Ek het dit vreeslik geniet.