“Ons is die jong leeus. As ons môre teruggaan, bly ons hare hier agter. En saam met ons hare, alles wat ons voorheen verkeerd gedoen het. Ook dit wat hier op die berg gebeur. Tot môre geld hier geen wette vir ons nie. Ons kan met jou maak net wat ons wil. Verstaan jy dit? Net wat ons wil!”
As dit van my afgehang het sou ek die boek 6 uit 5 gee.
Hierdie boek is 'n monument. Die rede waarom die modernisme en die rede bo tradisie uitgestyg het. Dit verduidelik waarom die primitiewe bestaan misluk het. Dit skets 'n oorgangsfase tussen die verkalkte stelsels wat nie meer tred met tyd kon byhou nie, omdat hierdie raamwerke deur en deur tot in die wortel korrupteer is deur selfsug en magsug, maar ook naderende kontakte met hoër beskawings uit omliggende streke.
Waarom het ek hierdie boek uitgeneem?
Vir een of ander rede wou ek vas bly glo dat daar groter en hegter broederskappe en vriendskappe in kollektiewe en primitiewe samelewings heers as in die moderne individualistiese samelewings wat meer op die self ingesteld is. Behalwe ubuntu wat as 'n towerwoord teen hierdie "onmenslikheid" van die Westerse modernisme en rede geopper word, is daar ook hierdie ondersteuning in die stamgebondenheid waar selfs die geringste outjie vir sy bydrae deur die ouer en seniors beloon word, alles ten bate van die stam. In die moderne samelewing word familiebande dikwels as 'n las beskou (behalwe as daar geld betrokke is), daar word met afguns na jou prestasies verneem, die son mag nie 'n straaltjie oor jou beweeg nie... Dit wou ek vas bly glo.
Hel, was ek verkeerd. Maar voordat ek te veel teen die primitiewe stam (in die boek) uitvaar, miskien moet ek eers self kyk na die irrasionele manlikheidstoetse wat die Afrikaner en baie Westerse lande hardnekkig aan bly vasklou het dwarsdeur die dekades en eeue heen. Dikwels met weinig meriete of sin. Dit sou bewys jy is 'n man, dat jy volwasse is, troumateriaal, 'n gesiene lid in die samelewing, ens.
Jy begin kleintyd seker wedywer met jou broers en susters en maatjies op skool en na skool, maar die eintlike oorgang na manlikheid begin eers by die ontgroening in Graad 8. En die koshuise. Elke graad het sy eie bevoorregte sitplekke en seggenskap. Eers die Junior Sertifikaat, later die Senior Sertifikaat, is 'n waterskeidingsjaar. Om in die samelewing aanvaar te word, moet jy ook aangeneem word in die kerk, want tradisie wil dit so hê (of jy werklik in God glo, skeel niemand nie) - jy rammel 'n klomp paragrawe af uit die katkisasieboek en vergeet dit plotselings weer. As jy werklik hard genoeg probeer, kan jy ouderling eendag word, maar hier tel jou X-aantal jare nou teen jou. (In die charismatiese kerk waar ek heengaan kon ek sedert ek 12 was sonder enige moeite nagmaal gebruik)
Om die fisieke sterkheid mee af te meet, is daar rugby. Op universiteit word jy weer onderdompel, en uiteindelik het jy die graad klaar (party intellektuele gaan voort met hul grade (meestal egter om hul gees te verbeter, hoewel deesdae om werksekerheid), maar dit is eintlik in die manswêreld oorbodig. Jy het mos nou jou graad.). Dan het ons organisasies soos die Voortrekkers, en later die Broederbond, wat ook streng volgens die rangstelsels werk. En dan het jy natuurlik ook die polisiemag, weermag, vloot en lugmag wat, reggeraai, ook volgens range ingedeel is by jou diensplig.
Is jy steeds nie seker of jy 'n man is nie? Nee, jy hoef nie vanoggend onder die stort te gaan kyk nie. Kom ons gaan verder.
Deesdae is daar bendes waar jy opgeneem kan word - ook hier moet jy 'n takie voltooi om aanvaar te word. Om werklik sakemanne te leer ken, is daar ook elke klub en losie onder die son denkbaar waaraan jy kan behoort. Party is meer eksklusief as ander. Daar is Vrymesselary, die Tafelronde, tot lojaliteitspunte by kettingwinkels by die meer vermoëndes. Daar is dranktoetse ('n man moet sy drank kan vat) onder die gepeupel. Maar NIKS kan die deurslaggewende rol van manlikheid speel as KAPITAAL en HOERE nie. Die alfamannetjie het die meeste bronne, die meeste wywe - die reg van die sterkere - hoe sterker die ammoniak in die urine, hoe beter. Dit maak die man hubaar. Hy is absoluut verhewe bo die wet, hy is verhewe bo God en gebod.
En spoed, 180 km/h is nie vinnig genoeg nie. Maak dit Mach 1.
Ag, tog ja - veral as jy sexy met 'n Aviatorsonbril op die voorblad van die Men's Health verskyn. Die hemel help ons. Dit is seker die toppunt van manlikheid.
En tog weet ek van 'n onderwyser maar met die emosionele verstand van 'n tiener, ongeag sy militêre agtergrond: Skinderbek, onredelik, benepe, kleinlik, afgunstig, 'n genieter, haatlik teenoor ander wat beter as hy kan doen - enigiets om sy mag te handhaaf. Maar self wou hy hom nie verbeter nie. Dit is slegs sy ouderdom en "onderwyserpos" wat my hom laat respekteer het. Maar die hemel alleen weet, ek kon nie gou genoeg die hoërskool verlaat nie. Want hy was nie al onderwyser wat so was nie. Die grootste bedreiging was die dag toe 'n professor tydelik vir 'n jaar uitgehelp het. Nie een van die onderwysers wou met hom meng of praat nie, behalwe die een wat self 'n meestersgraad in Engels gehad het. Vandat ek dikwels onderwysers by die universiteit bystaan, besef ek ook hierdie groep is allermins alwetend...
Teoreties sou dit kon werk: die een wat die meeste deurstaan het, het meer ervaring. Dus kan meer verantwoordelikheid toegestaan word, dus kan die persoon 'n hoër rang beklee, sodat meer uitgerig en verrig kan word. Ongelukkig verweer hierdie verantwoordelikheid na 'n "gemaklike en sagte posisie" toe. Daar word meer gelet op die voorregte as verantwoordelikhede. In die praktyk, as jy nie die "onderdane" beskerm soos dit jou plig is nie, word die hele stelsel sinloos. Die grootste probleem is eerlikheid, objektiwiteit en regverdigheid wat dikwels ontbreek.
Ek dag dan die mens moet 'n hart van reine goud hê; die onskuld van 'n kind. Ek dag dan die grootste mens is die een met die meeste diensbaarheid aan ander (soos Loeloeraai gesê het in die gelyknamige roman, maar ook Christus self teenoor sy dissipels). Hel, ek was weer eens verkeerd. Maar Goddank ons het die rede gekry wat al hierdie standaarde openlik bevraagteken. Want enige plek waar mag betrokke is, sal daar korrupsie insluip. Dit is onvoorkombaar.
So, wat het verandering hiertoe gebring?
Mobiliteit/Beweeglikheid. Hoe meer die mans rondgetrek het, hoe minder tyd het hulle vir allerlei klubs en hegte vriendskappe. Ook begin die mense uit die verskeie vastelande besef die standaarde verskil van plek tot plek: die een manlikheidstoets in dorp X verskil van die een in dorp Y. Aangesien die een swakker as die ander is, maar dieselfde rang in 'n soortgelyke samelewing beklee, kan "internasionaal" meegeding word, hoewel die pluralisme toenemend die vraag laat ontstaan of die vooropgestelde maatstawwe nie eintlik kinderagtig is nie. Gaan dit nie eerder oor wat jy met jou hande kan verrig nie? Gaan dit nie eerder oor die tegnologie, tegniek, handel en kuns wat tot almal se voordeel kan strek nie? Beteken dit nie veel meer as om met 'n septer en ryksappel te pryk nie? Ons sien in die roman juis hoe Toko/Tanako se werk hoogs gewaardeer word in 'n ander samelewing, terwyl sy eie stamgroepie hom minag, omrede die voorvadersgeeste nie daarmee tevrede is nie, hoewel ons eintlik weet nie een van die stamhoofde kan eintlik houtwerk doen nie. Jy gebruik dus 'n metafisiese mag om jou doel mee af te dwing. Niemand mag uitstyg nie, niemand mag uitsonderlik slim wees nie (maak nie saak watter nuttige goed hy voortbring waarin die hele gemeenskap kan deel nie), niemand mag die Maaiveldcultuur en Janteloven vryspring nie. En dit is so onsinnig en onredelik!
Terug na die jeugboek.
1. Ons het hier te make met 'n ongeletterde samelewing. Niks kan in die geskiedenisboeke gekontroleer word nie.
2. Ons let op hoe leuens openlik versprei word vanaf ouers en na kinders, want elkeen wil heimlik hê sy kind moet stamhoof word. Die doel heilig die middele. Al moet ook moord gepleeg word. Dis soos 'n skaakspel waar nie alleen twee stelle teenoor mekaar nie, maar vier tot vyf konings teen vier tot vyf konings speel. Groepsamewerking? Allermins. Verdeeldheid? 'n Absolute gegewe.
3. Soos reeds gesê, loop jy jou heeltyd vas teen die Wette van die Voorvaders en Voorvadergeeste en elke ander ongeskrewe bygeloof. En Rako se pa kan geensins met die voorvaders kommunikeer nie (Rako erken dit so terloops teenoor Vasi). Wat vir jou presies uitspel: Rako se pa manipuleer dus mense soos hy hulle wil hê. En die ylende Oupa het die verkeerde ketting aan die verkeerde seun gegee: wat 'n drama is dit nou nie! Dis nou uit die graf regeer. Gesag is feilbaar. Om onnosel te wees maak jou 'n bespotting in die menslike oog. Maar as jy 'n genie is (of voordoen om iets te weet), word jy gevrees. Dit herinner my baie aan die kortverhaal "Flowers for Algernon". Maar tog staan die keiser steeds poedelnakendkaal.
4. Ek het nog nooit 'n samelewing teëgekom waar die oorgangsrites op hedonisme geskoei is nie. Net in sataniese selle kry jy dit. Orals moet jy iets van jouself opoffer sodat jy 'n man kan word. By sulke oriëntering word mense gewoonlik touwys gemaak hoe om die lewe tegemoet te gaan, oor stamopdragte, stamverantwoordelikhede, en fiksheid, ens. Eers dan sal byvoorbeeld besnydenis plaasvind (miskien om sindelikheidsredes om die opbou van smegma en geslagsiektes te voorkom, ek kan met geen sekerheid sê nie). Maar hier in die verhaal word 'n groepie uit die dorp gejaag, hul klere word afgestroop, en die berg opgejaag. Dan kan hulle 'n week lank doen net wat hulle wil op die berg, alles in 'n wettelose toestand, en "beskaafd" as "manne" terugkeer na die dorp nadat hul hare afgesny is. Kan jy enige rasionaliteit hier insien? Ek kan nie.
5. Die hegte broederlike vriendskappe en liefde kry ek nêrens in die boek nie. Daar is die kinderlike vriendskap tussen Rako en Toko, maar dit kan jy ook op enige skoolterrein vind. Daar is 'n goeie band tussen Aran en Sjal, maar ons weet 'n moontlike toekomstige wrywingspuntjie is die aantal meisies wat vir Aran aantreklik vind.
6. Die stam het geen bestaansreg of doel, behalwe oorlewing nie. Ek kan geen opwaartse kurwe bespeur nie. Daar is geen toekomsplanne ter verbetering van die hele stam nie (soos grootskaalse plaveisel of soortgelyke projekte om die modder en stof weg te hou nie). Wat die omgewing betref, is daar selfs sprake van die vernietiging van die bos: dis nou jou eie habitat vernietig, jou voedingsaar afsny... vra maar die stamme wat in die Indusvallei gebly het...
7. Orals bespeur ek vrees vir die onbekende of om die stelsel se beperkende en teenstrydige reëls te bevraagteken. Jy aanvaar dus gelate reëls wat die kiem dra om die samelewing van binne te verkanker en uit te hol.
8. Orals vind jy beplande huwelike, soos die vaders gereël het - maar ook hulle was nie gelukkig nie, want ook hulle vaders was ewe inmengerig. Dit het nie voorkom dat jy slegte vrouens en mans trou nie. Maar steeds leer die volk nie.
Is die Westerse modernisme perfek? Glad nie, anders sou daar nie esoteriese, neotradisionele, sielkundige en postmoderne bewegings daaruit ontstaan het nie. Daar sou nie ekodorpies, sekteplase, kommunes en kibboetse ontstaan het as daar nie die behoefte om nouer gemeenskapslewe was nie. Modernisme laat wel mobiliteit/beweeglikheid toe - tot aan die einde van die heelal. Daarmee moet ek met lief verneem.
'n Knap geskrewe avontuurverhaal wat afspeel in 'n primitiewe samelewing. Die titelkarakter se problematiese posisie in sy dorp is die kern van die intrige: hy is die hoofman se seun by dié se tweede vrou - of is hy? Sy deelname aan die inisiasieritueel plaas sy lewe op die spel. Is alles waarvan hy beskuldig word, waar? Waarom is hy so 'n bedreiging vir soveel mense? Die uiters spannende verhaal word op fassinerende wyse vertel, deur onder meer verskillende perspektiewe te gebruik en 'n hele paar tonele tweemaal uit te beeld. Telkens, omdat die leser meer inligting het, werp die herhaling nuwe lig op die ingewikkelde verhoudings tussen die karakters. Die verhaal laat die leser nadink oor die aard van beskawing en kultuur, oor mag en magsvergrype, oor grootword en verantwoordelikheid. Vir jonger lesers, hoewel enkele tonele van geweld en seksuele verwysings sommiges ongemaklik mag maak. Die oplossing van die verhaal laat al hierdie elemente egter in plek val.
An exciting adventure story set in a primitive society. The story is told from the perspective of different characters, providing a rich mosaic, which releases important information about the different characters slowly. It builds up to a strong climax. For young adult readers who can deal with some scenes of violence and sexual references. These elements are all integrated into the fascinating plot.