“My dinkgoed het deurmekaar geraak,” sê Annelie Botes. ’n Aantal jaar gelede het ’n mediastorm om dié Kammanassiekind se kop losgebars. Dit was ’n donker tyd in haar lewe, maar sy is terug op die enigste manier wat sy kén: swart-op-wit loop sy haar spore van vyf-en-vyftig jaar na en deel met die leser dinge wat sy nie verstaan nie, wat haar bang maak en wat haar bly maak. Sy doen dit vir haar kinders en hulle kinders se kinders. “Want niemand op aarde wil spoorloos die langleer klim nie,” sê sy.
Tussenin lees ons ook hoe die tóé al rebelse Annelie as tiener verlief raak op die man wat steeds die wyse, gryse engel Gabriël aan haar sy is. Oor al die berge en dale heen vlieg dié twee saam. Moeiteloos glip sy tussen kontrasterende stories: jongliefde, oumensliefde, tye toe die liefde ontbreek het. Soms lag sy uit haar agterkeel oor Basjan-kat wat sy gebied op haar skoot gemerk het, ander kere sak sy gebroke op haar knieë neer oor Jabu se rooi baadjie ...
“Ek sukkel met die lewe,” sê sy, “niks kom ooit vir my maklik nie. Maar ek hou nooit op om te probeer nie. Die jimmele weet ...”
Ek is 'n groot Annelie fan, en Thula-thula en Raaiselkind is van my gunsteling afrikaanse boeke. Hierdie is iets heeltemal anders - helfte is 'n omverskoning/regverdiging oor haar rasse opmerking in 'n onderhoud in 2011 en die ander helfte is stukkies uit haar lewe. Sy kan skryf, dis verseker - en obviously het sy die "intense" persoonlikheid wat saam met haar kreatiwiteit gaan. Het lekker gelag vir al haar mannewales toe sy jonger was. So ver soos haar politieke opinies sal ek nie se dat ek met almal saamstem nie, maar een ding is seker ons beautiful land het baie groot probleme.
Op hierdie Vroudag lees ek Swart op Wit klaar. In Annelie se storie lees ek myself soveel kere raak. Maar nie net myself nie. Ook ander vroue wat my pad gekruis het. Sterk vroue wat soms swak is, wat soms dom dinge aanvang, wat onafhanklik is, maar tog altyd smag na 'n sterk ou gryse wat ons onvoorwaardelik sal liefhê en ons paaie sal gelykmaak, al is ons ook hoe eiewys. Vroue wat hierdie land onvoorwaardelik liefhet, wat die goed en mooi sien, maar ook sidder vir die sleg en donker. Wat nie altyd weet hoe om die regte ding te doen of te sê nie, maar wie se hart altyd op die regte plek sit. Dis vir my half simbolies dat ek vandag die boek klaargelees het. As al die vroue van Afrika 'n streep Annelie in hulle kan hê, kan ons dalk net vorentoe ons nuwe Suid-Afrika deur die drif sleep. Met deernis en verstaan vir ons andersheid in ons eendersheid as vrou.
skryf, kan sy skryf - as ek slegs 'n "rating" moes gee vir die skryfstyl, sou ek tien teen een 5 sterre toegeken het. om so "deurmekaar" te skryf en te hop na verskillende tye sit nie in almal se broek nie. ek dink sy doen dit briljant en ek het dit geensins as "deurmekaar" ervaar nie - ek dink dit was baie goed gedoen.
oor die onderwerp kies ek om myself eerder nie uit te laat nie. ek is deur ander ge'challenge' om die boek te lees, en ek het so gemaak. ek is bly ek het dit gelees. ek het gewag en probeer oopkop wees om my opinie te verander vanaf bladsy 100 af, maar na 300 voel ek nog dieselfde.
Toe ek die regswêreld dekades gelede betree het, het een stukkie raad my telkens gered. ʼn Ervare kollega het altyd gesê: “As iemand vir jou enigiets in ʼn hof sê, vra waar dit staan voordat jy reageer.” Die bedoeling was duidelik: ons regstelsel is op skrif. As dit nie swart op wit iewers staan nie, bestaan dit nie.
In die era van fopnuus en seepkissies vir Jan Alleman, het die gesegde in ʼn groot mate sy trefkrag verloor, maar daar was tog tye toe iets wat op skrif was, meer gewig gedra het as mondelinge weergawes.
Sondag 21 November 2010 sou in die skrywer se geheuebank gestoor word as die dag van die lamppale. Baie dinge kan daaroor gesê word, en is ook daaroor gesê. Alhoewel sy in hierdie outobiografiese publikasie na die voorval en die gevolge daarvan verwys, is die titel nie net ‘n woordspeling op die aard daarvan nie, dis ook ‘n verwysing na die kort nota aan haar kinders op bladsy 6: “Rudolph en Nasti, Ma los vir julle ‘n memorieboek as erfenis.”
Die dag van die lamppale was ongetwyfeld die sneller vir die boek, maar die eindproduk is veel meer. Die verwysings na die aanleidende gebeurtenis en die gevolge van dié dag, spreek veel meer van introspeksie en boetedoening as van selfregverdiging. In die skrywer se eie woorde: “Dis ék wat die stang uitgespoeg en die roer verkeerd gestuur het.” (49)
Selfs in die terugblikke oor haar lewe, spaar die skrywer haarself nie die roede nie, sy bely haar eie rebelsheid in matriek wat gelei het tot die nag wat sy ‘n onderwyseres met ‘n kussing by die trappe afgeslaan het, haar skelm plakkery in die stadsraad se raadsaal, die vele weglope agter haar geliefde aan, en die skelm rokery in haar koshuiskamer. En dit gaan selfs verder terug, as jong kind het sy verbeeldingryke wraakplanne uitgedink, soos om in ‘n put te gaan lê en te maak of sy dood is sodat haar ouers moet “...treur omdat hulle my dorpskool toe gestuur het.” (33)
Soos in 2007 in ‘Trippel Sewe’ beskryf, bely sy haar verslawing aan die dobbelduiwel, en haar hardkoppige egskeiding as gevolg daarvan: “Die teleurstelling in myself het elke aspek van my menswees oordonder. Dief. Verkwister. Liegbek. Verduisteraar. Verraaier. Drol.” (211) Dieselfde selfkritiek dryf haar na die dag van die lamppale bykans na die brug van geen omdraai, maar haar geliefde koop vir haar 900 houthangers met die opdrag: “Ek sal in die waenhuis plek maak vir die bokse. Jy beter nie selfmoord pleeg voor ál hierdie hangers oorgetrek is nie.” (213)
Miskien is, veral met die kennis van 2025, die mees akkurate samevatting van die inhoud om te sê dat dit die verhaal is van ‘n liefde wat nooit verkoel het nie. Ja, op ‘n dag het sy haar geliefde met ‘n aartappel teen die kop gegooi, hom dikwels woedend en moedeloos gehad, selfs van hom geskei en weer getrou, maar tot die einde was hy haar hangbrug oor elke afgrond, haar wyse gryse.
Die boek kom diep uit die hart van n mens wat moeilike tye beleef het nie net in haarr skryfwerk nie maar ook in die lewensomstandighede waarin sy lewe. Die rondspring van Annelie se gedagtes soos wat dit haar byval het geen afbreuk aan die vertellings gemaak nie. Die skryftrant is tipies Annelie. Sy besit die vermoë om n mens te boei. Persone wat van goeie Afrikaanse boeke hou kan beslis die boek maar lees.