Stefaans Coetzee is ’n omroeper, boekresent, pa en man. Hy het ook ’n donker verlede, maar weier om deur daardie onvergeeflike daad gedefinieer te word. Hy is ’n nuwe mens. Hierdie is sy storie, van ’n dronk pa, donker kinderhuisjare en die begeerte om te behoort wat hom in die tronk laat beland. Dit is die verhaal van hunkering na ’n nuwe begin, sy fisieke én geestelike bevryding. Dit is ’n verhaal wat vertel en gelees moet word, ’n boodskap van hoop en onbeskrylike genade.
‘Ek is Stefaans Coetzee’ Jy is. Ek sien jou. Jy is my vriend.
‘Ek is ‘n kind van God’ Amen.
‘Ek is ‘n man en ‘n pa’ Vir Dee, Manny, Dian en David.
‘Ek is nie my verlede nie.’ Nee, jy is nie. Jy is soveel meer.
Ek het nie ‘n enkele woord van hierdie manuskrip onder oë gehad toe ek die woorde wat nou op die agterplat pryk vir daardie doel geskryf het nie. Dit was nie nodig nie; ek het reeds Stefaans se hart geken en derhalwe geen twyfel gehad wat die manuskrip sou bevat nie. Nou staan ek met die finale produk in my hande. En, nadat ek dit gelees het, bevestig ek met trots: ‘Tussen hierdie bladsye klop ‘n dapper mens se ontblote hart. Trap saggies, die grond is heilig.’
Hierdie boek is vir enigeen wat al verwerp was, onwaardig bevind, of geëtiketteer was. In die skrywer se eie woorde: ‘My gebed is dat jy uit my verhaal krag sal put om die klippe waarmee jy gestenig is te gebruik om ‘n altaar te bou.’ (10)
Op bladsy 10 van hierdie aangrypende lewensverhaal, lees ek die volgende stelling: “Onthou, jy is nie wat mense van jou sê nie. Jy is nie jou verlede nie. Jy is ’n kind van God.” Dan die verklaring: “Ek is Stefaans Coetzee. Ek is ’n kind van God. Ek is ’n man en ’n pa. Ek is nie my verlede nie.” Wat volg is ’n eerlike, skreiende verhaal wat begin op die Vrystaatse goudvelde tydens die apartheidsera, waar Stefan Coetzee grootword as die kind van ’n alkoholis pa en ’n ma wat sonder groet uit hulle lewens verdwyn. Ironies dat die man wat ’n vaderfiguur in sy lewe sou word en hom aan die Israelvisie, die AWB en die Boere Aanvalstroepe sou bekendstel, hom die naam Stefaans gegee het, wat onlosmaaklik is van die mens wat hy geword het. Die verhaal is volgepak met skokkende inligting waarvan ek nie bewus was nie. Trouens, ek het die boekeman, Stefaan Coetzee, aanvanklik nie herken as die befaamde Wit Wolf nie. Ek haal my hoed af vir hom, wat sonder skroom sy stryd neerpen, en tot die gevolgtrekking kom: “Want geen doel of stryd, nie die AWB of Wit Wolwe of ANC of PAC, was of is heilig genoeg om moord te regverdig nie.” (p.79) Ek verstaan nou iets van Stefaans se passie vir boeke en skrywers, want lees is die een ding wat hom staande gehou het dwarsdeur sy tyd in die gevangenis. Hy het ’n indrukwekkende kennis van skrywers en boeke oor ’n baie breë spektrum, aanhalings en tersaaklike verwysings wat hy deurgaans bywerk met die skryf van sy lewensverhaal. Die aanbieding is onderhoudend, nie streng kronologies nie. Terugflitse na kleintydervarings, die terreuraanvalle en tyd van aanhouding word netjies verweef met die uitdagende aanvanklike parool. Om uiteindelik uit te loop op ’n hoopvolle noot, waar hy sy identiteit as eggenoot en pa vind, maar steeds, byna as konstante herinnering aan die genade wat hy in Christus deelagtig geword het, steeds Stefaans is. Onbeskryflike genade is uitgegee deur Lux Verbi, die Christelike druknaam van NB Uitgewers en is beskikbaar by goeie boekwinkels en ook direk by die skrywer, inligting op sy Faceboek blad.
’n Ware verhaal wat jou nie net diep tref nie, maar jou ook stil laat word.
Onbeskryflike Genade is nie net ’n boek nie — dis ’n getuienis van oorlewing, vergifnis en ’n onwrikbare soeke na liefde in ’n wêreld wat wreed kan wees. Die skrywer neem ons sonder verskoning, maar met groot eerlikheid, op ’n reis deur sy kinderdae vol verlange, verliese en verkeerde keuses. ’n Ma wat wegloop. ’n Pa vasgevang in alkohol. Kinderhuise, koshuise… en uiteindelik, verkeerde invloede wat gelei het tot ’n daad wat mense seergemaak het — en homself in ’n tronk laat beland het.
Maar dis nie waar die verhaal eindig nie. Dis waar die genade begin.
Agter tralies ontmoet hy nie net homself nie, maar ook die liefde van Christus. Die man wat eers gebreek was, begin leef met ’n nuwe hart. Vandag leef hy liefde — ongeag status, taal, kultuur. Geen uitsonderings nie.
As leser sit jy naderhand met trane — nie van jammerte nie, maar van bewondering. Dit is ’n rou, eerlike verhaal wat wys dat genade nie goedkoop is nie, maar kragtig en lewend.
#leefliefde is nie net ’n hashtag vir hom nie — dit is sy roeping.
“Onbeskryflike Genade” het my diep geraak. Dit het my hoop gegee dat niemand ooit te ver weg is vir herstel nie.
ek gee hierdie boek 5 sterre omdat die skrywer so rou en eerlik is, net soos in sy vorige boek. ek haal absoluut my hoed af vir hom.
ek het 'n hele journey gehad met myself voor ek die skrywer se eerste boek kon lees. ek is 'n leftie en ek moes verby alles kyk en die mens sien. as ek gedink het die vorige boek het baie met my gepraat, het hierdie een NOG meer met my gepraat. ek het nie gedink dis moontlik nie.
hy wei ook bietjie uit op onderwerpe wat baie christen afrikaners nie mee gemaklik sal voel nie. partykeer moet daai hok geskud word.
soos wat hy deur sy diepste waters gegaan het, het ek ook. soos wat hy deur mense wat hulleself christene noem behandel is, verstaan ek dit ook. nogtans hou hy sy kop hoog, al is dit hoe moeilik. hoe inspirerend is stefaans nie. dit is inderdaad onbeskryflike genade.
stefaans is nie meer die bomplanter nie. hy weet in Wie sy identiteit is.
Ek het maar langtand aan ONBESKRYFLIKE GENADE begin lees, en wel vir die volgende twee redes:
1) Stefaans se storie is welbekend aan my. Nie net is daar sy boek WIT WOLF nie, maar ook hordes artikels en dokumentere programme, waar sy storie gedokumenteer was. En veral omdat ek WIT WOLF deurgelees het, was ek nie besonder gretig om NOG ‘n keer oor dit alles te lees nie. 2) Ek is nie ‘n Christen nie. Alhoewel ek graag oplees oor die gesiedenis van godsdienste, en dan veral die geskiedenis van die Christendom, vermy ek getuienisse soos die pes. Uit die titel is dit reeds duidelik dat hierdie boek baie oorweging skenk aan Coetzee se godsdienstige idees en getuienis, wat ek hom gun, maar self geen belang by het nie.
Nou, nadat ek die boek deurgelees het, kan ek verklaar dat my vermoedens wel bevestig was. Ja, heelwat van die inligting in WIT WOLF word herhaal en ja, die godsdiens element loop sterk in die boek. Maar daar is aspekte wat in die boek se guns tel. Die boek is nie moeilik om te lees nie en vloei vining, die 200 bladsye is nie oorweldigend nie en die vertelling trek jou opnuut in. Die godsdiens tersye, is Coetzee se verhaal waarlik ‘n inspirerende verhaal. Een waarby ek glo enige mens kan baat. Die boek dokumenteer darem ook sommige ander inligting, wat nie in WIT WOLF voorkom nie. Bitter min mense rehabiliteer in Suid-Afrika se korrektiewe fassiliteite. Die teendeel is eerder waar. Die tronke is eerder soos ʾn universiteit waar mense uitstap met ʾn meestersgraad in misdaad, en beslis nie in hoe om dit te bekamp nie, maar in hoe om dit te pleeg. Teen hierdie agtergrond is Coetzee se verhaal des te meer merkwaardig, want in die tronk het hy ‘n hartsverandering ondergaan, en daar die wonderlike mens geword wat hy vandag is. Vir Coetzee bly sy verlede ʾn tweesnydende swaard. Herinneringe aan sy verlede hertraumatiseer hom, en tog is sy storie ʾn trekpleister wat mense se belangstelling in hom en sy skryfwerk lok. Dit kan nie maklik wees om so teenstrydige situasie te moet bestuur, en jou geestelike gesondheid altyd in orde te hou nie. Voeg daarby sy komplekse verhouding met sy ouers – in eie reg ʾn trauma.
Coetzee had eintlik ʾn verskriklike lewe gehad, en tog het hy telkens weer uit die stof uit opgestaan. Sy boeke het my ook verander. Ek het nog nooit aan hom gedink as die bomplanter, die bandiet en al daai dinge nie. Vir my is en was hy nog alyd net Stefaans, die man wat sy donker verlede agter kon laat en vir so baie mense as voorbeeld en inspirasie kon dien. Ek glo nie aan Jesus nie maar die Christelike analogie van ʾn nuwe mens word, is nogal sterk van toepassing op Stefaans. Ek kon maklik hy gewees het. Ek weet iets van die wereld van regse politiek. Hoeveel mense kan se hulle was op ‘n AWB rally? Ek was, hoewel net as toeskouer. Was dit nie vir my liefdevolle ouers nie, en die geleenthede wat oor my pad gekom het nie, kon ek dalk wie weet self ook ʾn pad soos Stefaans se pad gestap het. Hy is daar deur, en het ʾn sterker mens anderkant uitgekom. Daarvoor salueer ek hom. Want nie almal vermag wat hy het nie. Well done Stefaans!
Die Christelike getuienis slaan wel sterk deur, maar mens moet aanvaar dit is sy storie. Dit is wie en wat hy is. Daar is wel dele waar Coetzee vir my ietwat idealisties oorkom. Hy noem veral een spesifieke skrywer, wie se naam ek nou nie hier gaan noem nie, en dan is hy vol van lof vir die persoon, maar ek het nogal van ʾn heel ander kant van dieselfde persoon verneem deur mense wat kollegas van die spesifieke persoon was. Maar hierdie dinge is te verwagte. Mense se ervaringe verskil dramaties. Boonop is ons almal ook maar net feilbare mense. NIemand is perfek nie.
Ten opsigte van die godsdiens rafel dinge ongelukkig later so bietjie uit, veral hier na die einde van die boek toe. Coetzee skryf byvoorbeeld dat hy hoop dat sy eggenoot die dorpie Vensterdorp eendag sal kan ‘salf’ – dit glo na aanleiding van die feit dat ʾn vrou ook Jesus se voete gesalf het, en Coetzee glo die gebaar het besondere krag. Die rede vir spesifiek Ventersdorp skyn te wees Ventersdorp se status as AWB ‘hoofstad’ (die Afrikaner Weerstandsbeweging met hulle omstrede leier Eugene Terreblache het hullle hoofkantoor in Ventersdorp gehad). Coetzee delf ook so bietjie in die politiek en politieke identiteit rond. Mens kan verstaan waar Coetzee se afkeur in die konsep van Afrikaner vandaan kom. Iets wat telkens in Coetzee se boeke voorkom, is hoe hy deur sy ‘eie mense’, naamlik die sogenaamde regses, basies in die steek gelaat was en gevoel het hy is net deur hulle misbruik. Niemand was eens daar die dag toe hy vrygelaat was nie, en hy was nooit besoek deur enige van die ‘regses’ nie. Daarteenoor het hy medemenslikheid by die ‘vyande' van die volk ervaar. Hy bepleit dan voorts dat mense byvoorbeeld sal ophou kla oor slaggate in die paaie, en sal opgaan in hulle Suid-Afrikaanse identiteit. Ek het soortgelyke ervaringe gehad, myne wel buite die tronk, waar jou ‘eie mense’ jou skop wanneer jy le, en ander kulture jou veel meer liefde en genade toon. Tog voel ek nie besonder sterk oor die konsep ‘Suid-Afrikaner’ nie. Waar ‘Afrikaner’ grootliks leeg voel, voel ‘Suid-Afrikaner’ vir my baie soortgelyk leeg. Niksseggend leeg. Ek dink ook nie dit is wys om net toe te kyk terwyl dorpe en stede verval nie. Belastingbetalers het ‘n reg, trouens ‘n plig, om vir beter te vra.
Maar nietemin, alles in ag genome, ʾn besondere boek oor en deur ʾn besondere mens.
Van die ander indrukke op hierdie blad dra persoonlike sentiment ‒ liefde tussen die letters, soos bv. die van ene Trisha, wat vir my mooi is, maar wat assessering van die boek sal plooi en skeeftrek.
Sing ons, for he is a jolly good fellow, of kan die boek vlieg?
Gegewe die outobiografiese aard hiervan het dié leser gewonder of hy flair tussen die lyne kan verwag en hoeveel detail die outeur bereid is om te verklap. Ek het 'Onbeskryflike Genade' as ʼn innerlike reis ervaar met samevattende verwysings na verlede en hede, ʼn desperate poging om afstand te doen van ‘die bomplanter’. Ironies genoeg is die gewraakte daad juis die fondament van die skrywer se skryfwerk en is die dissonansie waarskynlik hier om te bly.
Die lewe het die skrywer kleintyd hard in die eiers geskop en hom net daar laat lê en bloei. Berou is ʼn leitmotif. Eendag gooi hy die bure se huis met tamaties, sien hoe ʼn swart man moet opruim, ervaar berou en vat vir die werker ʼn halwe brood. Later maak hy ʼn bom en plant dit waar mense kan seerkry. Heelwat later is hy spyt. Of dalk nie regtig nie want hy vat die pak vir die lafaard, Jan, wat hy steeds haat en eintlik daai spesifieke bom geplant het. Dis nou as ek alles reg verstaan, maar spyt kom te laat. Plot. David is min of meer die teenpool op wie die skrywer sy liefde fokus, want hier kry hy die geleentheid om self ʼn pa te wees. Die wiel het gedraai. (Indien Shakespeare reg is en ons almal merendeels akteurs op ʼn verhoog, weet ek min teatergangers stel belang om te kyk na ʼn drama waar iemand daaraan gedink het om ʼn bom te plant en toe nooit het nie. Dink net al die boeke. Die dikotomie, die paradoks, die jin & jang, die bitter en soet en dit als tegelyk in hierdie malhuis. Party rolle is moeiliker as ander.)
Party mense voer en skop ʼn hond en miskien glo daardie hond hy ontvang onbeskryflike genade omdat sy liggaam so soortvan versorg word. Stockholm. Alles in die kop. Iemand wat verklaar daar is geen onderskeid tussen wit en swart nie en dan ʼn boek oor ʼn geestelike reis na Christenskap skryf, het die kat aan die gat beet. Die mark sal bepaal. Min groepe veroorsaak soveel tweespalt as die Christen en Moslem ‒ op elke denkbare vlak van die samelewing. Moontlik verteenwoordig die reis eerder ʼn soeke na ʼn Vader-figuur, want op geestelike vlak is daar geen onderskeid tussen mense nie.
Desnieteenstaande die onderlinge meningsverskil het ek waardering vir die skrywer se positiewe uitkyk en uithouvermoë. Die boek bied, op gemaklike geselstrant, ʼn waardevolle leeservaring en outentieke blik op ʼn onvoltooide lewensreis. Miskien lê die groter waarde in die boodskap: droom groot en leef voluit!
Met die aanvangswoorde van hoofstuk 1, "Ek blameer nie my ouers of my grondpad-verlede vir my gewelddadige leefwyse nie," het 'n prentjie van 'n grondpad oombliklik in my geestesoog opgetower. Baie stof, diep gate en los sand, alles wat Stefaans moet navigeer tot waar hy homself vandag bevind, op meer vaste grond. Sy vorige boek "Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding" het ons 'n blik gebied in sy grondpad-verlede en met "Onbeskryflike Genade" begin ons aanbeweeg teerpad toe!
Hoe verwerp ‘n persoon dan ‘n onskuldige kind? is die vraag wat by Stefaans spook en sy hongerte na aanvaarding het die gevolg gehad dat hy die kinderhuis tydperk as die donkerste tydperk in sy lewe beskou … selfs erger as die amper 2 dekades wat hy agter tralies deurgebring het.
Onbeskryflike Genade skets die pad van soekende kind, na terroris, na man, na pa en skrywer. Dit is die blootlê van die grondpad wat Stefaans moes loop, die styl opdraende pad na vergifnis, na aanvaarding en na nuwe memories maak.
In sy soeke na die regte pad was daar nie plek vir vingerwys nie. “Vingerwys sou veroorsaak dat ek altyd iets of iemand soek om te blameer. (73) Geen vingerwysing nie, net vrae: • Wanneer het die hunkering na behoort so sterk in my siel geword dat die monster in my alle goed uitgewis het? (31) • Wanneer het verkeerd vir my normaal geword? (31)
Daar is ook vele punte om oor na te dink: • Jy kan nie ‘n Christen EN rassis wees nie. (84) • Geen aan jouself parool. (90) • As jy nie tyd het om ‘n blommetjie in jou tuin te ruik nie, gaan jy nie die see hoor asemhaal nie. (107)
Die dag toe Stefaans my voordeurklokkie gelui het, het ek ʼn sagtheid om hom gevoel, eerder as gesien. Daardie tipe sagtheid in iemand se energie wat jy van wéét, wat jy voel en beleef, het ek vantevore ervaar toe ek dokter Emanuel Taban by my ma se sterfbed sien staan het. Daardie energie is die tipe grootsheid wat meer is as wat woorde kan beskryf. Jy beleef dit met jou hele wese.
Hoe resenseer jy iemand se lewensverhaal sonder om te oordeel?
Tydens die lees van die boek het ek my notas versigtig gemaak, ek het uitgestel, want dit is skokkende leesstof, heeltemal in teenstelling met die mens Stefaans Coetzee wat ek leer ken het. Dis moeilik om die (geskiedkundige) woede met sy liefde te versoen. Tog is woede menslik, ons almal ervaar dit. Dis egter te verstane dat hy sy donkertes nou skerper bevraagteken as ander mense. So ook die behoefte aan erkenning en aanvaarding wat hy skerp bekyk. Die neem van verantwoordelikheid vir jou keuses, sonder om blaam te verskuif, om vryheid te vrees, aanpassing en die vrede wat tevredenheid bring is alles aspekte waaroor Coetzee besin.
Die selfinsig wat in hierdie bundel te lees is, die eerlikheid waarmee Coetzee homself bekyk en soms kruisig, die gewilligheid om te verander, dui op ʼn mens wat sy lewenspad stap, met elke klip en hindernis daarin ingebou.
Onbeskryflike genade stel Stefaans Coetzee voor as 'n deelnemer aan 'n groter geestelike gesprek wat ons almal aangaan, of ons gelowig is of nie.
Ek geniet dit om hierdie tipe verhale te lees, om meer van die mens te leer. En om die persoon se manier van dink met my eie te vergelyk. Jy kan wonder hoe jy self in sekere situasies sou optree. Stefaans se storie verskil hemelsbreed van my eie, maar tog voel ek ook baie dinge is dieselfde. En daar is gedeeltes wat my laat dink - ek ken dit, ek weet waarvan hy praat. Dis 'n boek wat 'n mens kan lees, op die rak sit en later weer afhaal en weer daardeur vluglees. Baie goed!
Excellent writing, beautiful use of afrikaans. Life lessons to take with. Definitely a book to be shared with everyone you love. Every library, big or small, should have this book on their shelf.