Op ’n Sondagoggend terwyl hulle ontbyt maak, vra Cara haar sielemaat en eggenoot van twintig jaar waarom hy die afgelope tyd so stil is. Sy kry ’n sielsverbryselende antwoord. Vir Cara voel dit soos die einde van alles wat vir haar betekenis inhou. Dis egter net die eerste tand van die duiwelsvurk wat haar veilige kokon deurboor. Haar hele lewe ontaard in ’n blivet, daardie optiese illusie waar twee onversoenbare perspektiewe tegelykertyd ewe daar, en nie daar is nie. Begogel, is hoe Cara voel. Êrens is daar waarhede en oral is leuens. En sy kan nie uitmaak watter een is wat nie. Om te oorleef moet Cara vasstel waarom sy die teiken is van die oormag rampe wat haar tref – en wie die hef in die hand het. Maar as rykmansdogter en fiksieskrywer wat glo in gelukkige eindes, is sy allesbehalwe toegerus daarvoor.
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
jinne, ek het dit nou baie geniet. ek is bly ek het vir almal geluister om dit te lees. bietjie later as wat almal het, maar ek het darem daarby uitgekom.
ek kon nogal vereenselwig met die hoofkarakter en het sommer in die proses 'n paar goed geleer by haar, wat goed is. :)
ek het vanmiddag die laaste stuk gele en lees en die boek het 'n paar keer uit my hande uitgeval omdat ek aan die slaap wou raak, maar ek het myself wakker gedwing, want dit was net te spannend. het darem heerlik geslaap daarna - he he.
Ek lees baie maar selde lees ek Afrikaans, die storie agter hoekom ek die boek gelees het is nogal snaaks maar te lank om hier te herhaal.
Daar is 'n paar dinge wat gepla het in die boek, vir een EFO oordrag is soos DB Bord. Dit is 'n EFO of 'n DB nie 'n EFO oorplasing etc nie.
Die boek is vrot van die anglisismes. Ek het in my mou geglimlag oor die feit dat die hoof karakter, Cara wanneer sy Kevin ontmoet by haar self dink tsk tsk tsk. wat 'n anglisisme gebruik hy nie.
Ook die storie is vreeslik overcomplicated en daar is soveel los draaitjies ens wat op die einde in minder as 30 bladsye als bymekaar getrek word sodat die leser se kop draai van al die info.
So dit klink asof ek net kritiek het oor die boek nie waar nie. Inderwaarheid het ek die boek baie geniet. Veel meer as wat ek verwag het. En ja, ek sal beslis meer van Chanette Paul se boekke koop en lees mettertyd.
Ek het sowat 'n jaar terug vir Chanette Paul ontmoet toe ek Offerlam gelees het. Sedertdien het ek op 'n Chanette-"binge" gegaan. (Volgens dr. Google is "binge" in Afrikaans "fuif" - o hete!)
Siende Blind het my weereens nie teleurgestel nie.
Op 'n Sondagoggend stort Cara se hele wêreld in duie. Haar man se skokkende belydenis het 'n hele kettingreaksie van gebeure tot gevolg. Cara spook om sin te maak uit al die rampe wat haar een na die ander tref.
Die skrywer gebruik die simbool van 'n blivet om Cara se dilemma uit te beeld: 'n duiwelsvurk, 'n optiese illusie. Die een oomblik dink jy as leser jy weet wat aangaan, net om die volgende oomblik weer te twyfel. Siende Blind is daarom die perfekte titel.
My gunsteling deel van die boek is bladsye 40 tot 42 waar Cara se reaksie op traumatiese gebeure meesterlik uitgebeeld word deur telkens die dae van die week aan 'n spesifieke kleur te koppel. (Net 'n lusmakertjie: "Woensdag is hepatitisgeel. Naarwordgeel soos die braaksel wat kort-kort in die toiletbak beland. 'n Windverwaaide geel soos die sand wat verby die son stuif... We all live in a yellow submarine..." (Bl. 42)) Ek moes na hierdie beskrywing van Cara se helle-week eers die boek neersit om dit mooi te verteer, so diep het dit gesny.
Siende Blind is 'n pragboek van die mooi voorblad tot die laaste woord. Dit het my laat nadink oor die optiese illusie van realiteit, hoe ons almal se visie gekleur word deur die spesifieke bril wat ons dra. Is ons nie maar almal siende blind nie?
Ek het van bladsy 2 af al probeer raai en voorspel wat gaan gebeur en wie is wie en ek moet erken, ek het begin snuf in die neus kry. Ek het gevoel of ek n sepie kyk en ek aan die hoofkarakter n waarskuwing wil skree. In elke Chanette Paul roman wat ek tot dusver gelees het, is daar lekker interessante feite oor mitologie en die natuur verweef in die storielyn. Ek hou van die gevoel dat ek opgevoed word terwyl ek n heerlike storie vir suiwer ontspanning lees.