Kyk my in die oë is die eerste in sy soort in Afrikaans. 'n Reguit en insiggewende storie van een mens se pad met bipolere gemoedstoornis. Die verhaal speel af teen die agtergrond van 'n besige nuuskantoor waar Elsabe as joernalis werk, onder andere tydens die moord op Marike de Klerk. Elsabe vertel openhartig hoe die siekte (en mense se reaksie daarop) haar in 2001 platgeslaan het, en hoe sy weer opgestaan en begin loop het – tussen inrigtings, hospitale, breinskokterapie en stereotipes deur. Haar raak beskrywings laat lesers verstaan hoe dit voel om manies "mal te wees". Die titel sal van waarde wees nie net vir diegene wat self aan die siekte ly, hul vriende en familie, en mense in die gesondheidsektor nie – dit is ook 'n meesleurende ware verhaal van wanhoop en 'n nuwe begin.
ek is al vir jare facebook vriende met elsabe en het haar so leer ken. sy is 'n wonderlike mens en ek was nog altyd mal oor haar - sy het 'n 'anderste' persoonlikheid en is net wie sy is. sy het selfs al op 'n persoonlike vlak na my toe uitgereik, wat ek baie waardeer het. ek sal dit nooit vergeet nie.
baie mense het vir haar gesê dat sy haarself te veel gaan blootstel deur haar pad met bipolêre siekte te deel, maar ek dink dit was die beste ding wat sy kon gedoen het. nog meer mense moet hierdie boek lees. die stigma teenoor geestestoestande is al beter, maar dis maar nog steeds daar. ek dink dis baie keer dat mense hulleself nie inlig daaroor nie, en ook 'n vrees het vir die onbekende. sommige mense is sommer net veroordelend en besef nie die skade wat hulle aanrig deur opmerkings en skinderpraatjies nie.
ek haal my hoed af vir elsabe vir wat sy alles in haar lewe bereik het. so ook haal ek my hoed af vir carol, elsabe se vrou, wat ek ook deur facebook leer ken het. sy het deurgaans by elsabe gestaan en alles in haar vermoë gedoen om uit te vind van die siekte en wat sy kan doen om haar by te staan.