Drie jaar ná die dood van Afrikaans se grootste skrywer kom ’n Nederlandse vrou na Suid-Afrika om navorsing vir ’n biografie oor sy lewe te doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling om meer oor die enigmatiese figuur vas te stel – bykans dertig jaar nadat die twee mans se weë pynlik geskei het. Onder die priemende blik van die biograaf lê die vakleerling, eens ’n aspirantskrywer en nou ’n Zen-monnik, hul vervlegte lewens bloot in die bestek van een nag. Wie was die groot skrywer werklik? Waarom was die impak van sy kluisenaarsbestaan en sy werk op die jong man so enorm? Hoekom het die skrywer hom na sy eensame sterfbed laat kom? Wat is die ware rede agter die Nederlander se biografie? Sluitstuk is ’n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening wat die roete na stilte en die skeppingsimpuls verken.
Die aanwending van ‘n sluitstuk impliseer die noodwendige bestaan van ‘n opening; ‘n bestaande leemte wat gevul moet word. Markus, nou ‘n middeljarige man, word na ‘n sterfbed ontmoet waar ‘n geskenk as ‘n sluitstuk aan hom oorhandig word. Die sterwende gewer was een van die grootste skrywers in Afrikaans. Dekades voor die sterfbedontmoeting was Markus die skrywer se vakleerling en bewonderaar, maar hulle paaie het traumaties geskei na ‘n onvergeeflike gebeurtenis.
Drie jaar later besoek ‘n Nederlandse akademikus Suid-Afrika om navorsing vir die skryf van ‘n biografie oor die skrywer te doen. ‘n Nagtelike onderhoud met Markus is haar sentrale bron van inligting. Deur middel van terugblikke na die verlede en briewe, ontvou die verhaal van ‘n naïewe jong man wat as aspirantskrywer beide ‘n mentor en vaderfiguur in die ouer man gevind het; die openhartigheid wat die skugterheid vervang het en gegroei het tot ‘n dinamiese interaksie, net om skouspelagtig van binne vernietig te word en slegs woede, ontnugtering en verbittering agter te laat.
Die narratief is veelvlakkig; die hede is in die derde persoon met Markus as die fokaliseerder, maar die vertellings vanuit die verlede word egter in die eerste persoon en in die teenswoordige tyd aangebied. Hierdie tegniek hou die verlede so lewendig en werklik soos die teenswoordige; die roof van die trauma weer opnuut afgeruk. Hy onthou dat ‘…hy gevoel het soos ‘n man wat in die oggend wakker word en besef sy huis is in die nag leeg gedra.’ (55)
Die ontwikkeling van Markus se stem is ook opmerklik; sy aanvanklike briewe aan die skrywer, sy redenasies en dialoog is ongeslyp en kinderlik, maar dit verkry ‘n elegante en gesofistikeerde aanslag wat baie aan dié van die skrywer herinner.
Sy bitterheid teenoor die skrywer is opvallend; die ontnugtering wanneer verafgoding van ‘n held wegval en ‘n mens van vlees en bloed in sy plek verskyn, opnuut op die voorgrond. Die biograaf is selfs aggressiewer in haar verwysings na die skrywer, sy beskryf hom as ‘n roofdier wat op ‘n sluwe wyse die jong Markus gemanipuleer en uitgebuit het.
Analoog aan die nie-fiksie werk ‘Monsters’ deur Claire Dederer (Sceptre, 2023) word die leser van hierdie outofiksie, tesame met Markus, uitgedaag om die geslepe jagter met die geniale romansier te versoen, om op die punt te kom waar bely kan word dat ‘…wat tussen hulle gebeur het… oplaas eenvoudig nie so belangrik is soos dit wat hulle vir mekaar gegee het nie.’ (7)
Die roman ondersoek temas van verraad, verlies en vergifnis en word as volg afgesluit: ‘In memoriam, Karel Schoeman (26 Oktober 1939 – 1 Mei 2017) Ewige gedagtenis.’ (185)
Meesterlik.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek Penguin Random House SA
Die boek hou my gevange, die vertelling is meesterlik en die woorde oorrompelend. Ek lees dit stadig want ek is bang die heerlikheid raak op. Al wat ek as leser kan sê, dit is my tipe boek en ń briljante werk.