Dana Snyman is volksbesit. Met Die binneland in verken dié geliefde skrywer ons land en sy mense vandag. Dana reis landin, op soek na sekerheid en lig. Hy rou oor dié wat weggeval het, soos die ikoniese Fred Mouton. Hy gesels met Pipo die clown, die karwag wat Adriaan Vlok onthou en oom Bok Horn wat ’n leeu uitoorlê het. In die nadraai van die pandemie, met beurtkrag, oorlog in Oekraïne en die politiek, begin mense moed opgee, ook oor hulself. Maar Dana vind hoop, liefde – en geloof.
Dana Snyman is an award-winning South African journalist, writer and playwright.
Snyman was born in Stellenbosch and matriculated from Nylstroom High School. He later followed a journalism course at the Pretoria Technikon before joining the Afrikaans newspaper Beeld as a crime reporter.
Three years later he became a journalist at Huisgenoot magazine, where he worked for ten years. As of 2007, Snyman is the travel editor of Weg! magazine.
His first book, Uit die binneland (From the interior) was published in 2005 and his second, Anderkant die scrap (The other side of the scrap), in 2006. Both are collected short-short stories and schetches.
Snyman's first play, the one-man comedy Die Uwe, Pottie Potgieter (Yours Truly, Pottie Potgieter), was first performed in 2006 and was the runner-up for the AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroes Award for new texts in the same year.
Nuwe skoene is meestal ‘n uitdaging. Almal ken die gevoel wanneer die knel van nuutheid en aanpassing verlig word deur die gemaklikheid van ‘n sagte pantoffel. Dis dikwels ook die geval wanneer ‘n nuwe boek oopgeslaan word, daar is ‘n kort tydperk van oriëntering, van gewoond raak, van gemaklik word. Dis nie die geval met ‘n skrywer soos Dana Snyman nie; sy boeke open met die toeganklikheid en troos van die bekende, ‘n lees-tuiskoms.
Sy nuutste reis is, soos die titel ook aandui, op ‘n letterlike vlak die binneland in. Maar, ook op ‘n metaforiese vlak, die binneland van die mens in; sy eie, asook die van die leser. Dis verhale en herinneringe wat spreek van verlies, nostalgie, herinnerings, en afskeid.
Daar is odes aan bekendes wat nie meer hierdie ondermaanse met ons deel nie: Gerrie Coetzee, Adriaan Vlok, Jimmy Abbott, Vincent van Gogh, Sol Plaatjie, Harry Kalmer, Fred Mouton, Nathaniel Nakasa, Jochem van Bruggen, en Eric Hoyland, beter bekend as Tickey the Clown. Nostalgie wat saamgevat word as: ‘In die kerksaal van my hart eet ek ‘n begrafnisbroodjie en ‘n frikkadelletjie…soos ná ‘n begrafnis.’ (19) Maar ook aan minder bekendes soos Dawid Hoesaar, die noemnaam van Diä!kwain, Oupa wat vertel het hoe hy ‘…in ‘n snuifmyn in Siberië gewerk het, ook hoe hy met nagmerries geteel en ‘n stokperdjiefabriek gehad het.’ (24), die bedroefde verliefde wat, om sy verdriet te besweer, 19 stoptekens met sy Mahindra omgestoot het, die Jerusalemganger en hulle profetes, Mietjie Gouws, en Oom Bok Horn wat vier leeus van ‘n koedoe verjaag het om vleis vir potjiekos te kry.
Die verhale ontbreek ook nie aan satire en kritiese sosiale kommentaar op aangeleenthede soos die onwettige verspreiding van elektroniese publikasies, die ongeëergde snobisme van die begeerte na ‘n ou huisie op die platteland, en die moderne beheptheid met selfhelpghoeroes en hulle geykte aansprake nie.
Oudergewoonte is dit egter die deernis en ontroering wat draal, lank na die laaste glimlag reeds verdwyn het: Daar is die droefheid van ‘n eertydse passer-en-draaier wat ‘n geliefde stoomlokomotief moet opsny vir skrootyster; die reuk van Deep Heat wat herinner aan die wreedheid van skoolboelies wat ‘n bejaarde man op ‘n fiets met ‘n eier uit die veiligheid van ‘n skoolbus bestook, die onderliggende tragedie verbonde aan Laika se ruimtevlug en Saal 22 van 1 Militêre Hospitaal, en Andrė: ‘Diensplig het iets in Andrė laat breek toe hy 19 jaar oud was.’ (13)
Die skrywer bevestig sy status as meesterverteller deur die verskeidenheid van narratiewe – beide eerste, tweede en derde persoonstemme verskyn as vertellers – en sy uitstaande vermoë om iets so alledaags soos tydsverloop in terme van gebeurtenisse aan te dui. Hy vertel hoe hy ‘n storie oor ‘n gebreekte vinger saamgeflans het uit snippers wat hy deur die loop van ‘n aand in ‘n kroeg aangehoor het en dui die tydsverloop aan met verwysing na waarmee hy besig is terwyl hy luister. Aanvanklik sê hy, analoog aan Abba se ‘The day before you came’ se aannames wat nie meer met absolute duidelikheid onthou word nie: ‘Ek het seker maar ‘n whiskey en water bestel…’ maar uiteindelik ‘…het die stemme in my kop begin bymekaarkom terwyl ek my brandewyn en Coke drink…’ (12)
Dis waarskynlik die skrywer se mees intieme bundel ooit. Hy skryf roerend oor sy eie navolging van sy geliefde Anette se laaste reis in 2017 en spreek haar steeds aan as ‘my lief’. Die bundel word aanbeveel vir ‘Ons wat ons hiervandaan soos ‘n geboortevlek met ons saamdra.’ (77) Skop uit die knellende skoene, glip jou vertroude pantoffels aan en reis saam, die binneland in.
Die boek het baie beskrywings gegee van plekke en dinge wat ek self onthou en beleef het. Dis 'n heerlike boek om te lees. Dana weet beslis hoe om mens se aandag te behou met sy manier van skryf. Beslis 'n gesoute skrywer wie se werk ek kan aanbeveel.
Sommige mense is al moeg vir Dana se stories. Party beskuldig hom selfs daarvan dat hy, deur middel van sy stories, eintlik maar net besig is om terug te verlang na die jare van wit bevoorregting en apartheid. Toe dinge nog lekker was vir witmense. Dat sy boeke ’n soort resepmatigheid aan dit het, is seker nie heeltemal onwaar nie. Tog verveel sy skrywes my nooit. Inteendeel. Dit is ook al tot vervelens toe herhaal, maar dit is die eg Suid-Afrikaansheid, die taal, die kultuur, en alles wat daarmee saamgaan. Die heimwee is daar, nie vir die redes wat die kritici sê nie, maar eerder na dinge soos die onskuld van die jonger self, die stemme wat heen is. Die binneland in is weer ’n wenner, ek het die boek baie geniet.