#Maalkolk – Marie Lotz
#HumanenRousseau
‘n Bejaarde man word in sy motorhuis met ‘n jaggeweer tereggestel.
‘n Jong vrou se verminkte liggaam word opgehang aan ‘n boomtak in die Magaliesberg gevind.
‘n Tienermeisie sterf wanneer ‘n pyl uit ‘n kragtige kruisboog haar keel op ‘n strand naby Port Edward deurboor.
Kaptein Alek Strauss en sy span by die FSO (Fiskale Spesiale Ondersoekeenheid) moet die uiteenlopende kolletjies verbind en ‘n gedetermineerde, koelbloedige moordenaar ontmasker en opspoor.
Strauss en verskeie ander hoofkarakters is reeds aan lesers bekendgestel in die skrywer se vorige romans, ‘Roofdier’ (Human en Rousseau, 2021) en ‘Polsslag’ (Human en Rousseau, 2022) Hierdie roman, die derde in die reeks, is in verskeie opsigte die kroon op die skepping. Die protagonis, Strauss, verdiep en ontwikkel van die voormalige seksverslaafde chauvinis tot ‘n volwaardige, veelvlakkige karakter wat empatie by die leser ontlok. Hy word soveel meer as ‘n knap ondersoeker met ‘n rokjagter-reputasie; hy is nou ook pa, seun, broer, vriend en mens. Vilakazi, Patel, en Mabuza se karakters word eweneens baie persoonlik geskets; hulle is nie bloot randkarakters in ‘n sepie nie; hulle is outentiek, oortuigend en geloofwaardig.
Die leser is van meet af aan bekend met sekere kenmerke van die ontwykende moordenaar; hy dra ‘n pet, is vaardig met ‘n kruisboog, en het ‘n sigbare litteken in sy gesig. Sy identiteit, asook sy motivering en beplanning, bly egter in duister gehul, analoog aan Jo Nesbo se ‘Killing Moon’ (Harvell Sicker, 2023).
Die tegniese korrektheid en noukeurigheid van die fynste besonderhede is, soos in die roman se voorgangers, merkwaardig. Daar is ‘n delikate balans tussen prosedurele inligting wat die kenner sal tevrede stel en oorverduideliking aan die leke-leser, en die skrywer slaag hierdie balanseertoertjie met vlieënde vaandels. Details wat op hierdie wyse subtiel by die teks ingeweef word sluit in die samestelling van polisiedossiere, die patologie van leuens, profilering, en nadoodse geregtelike ondersoeke.
Die vinnige tempo word deurgaan gehandhaaf deur die aanwending van twee vernuftige tegnieke: Eerstens word die tydslyn fyn gesny: vanaf Maandag, 20 September, tot Dinsdag, 28 September, met ‘n epiloog twee maande later. Tweedens is die skepping van die FSO as ondersoekeenheid buite die SAPD hoogs geslaagd aangesien dit die burokratiese rompslomp wat noodwendig met ‘n staatsdepartement gepaardgaan en die gemiddelde leser grensloos sal verveel en frustreer, daardeur systap.
Die onvermydelike vraag sal wees of die roman alleenstaande gelees kan word en of dit liefs as derde in ‘n reeks gesien moet word. Die antwoord sal van die leser se verwagtinge afhang: Die leser wat ‘n alleenstaande roman verkies, sal ‘Maalkolk’ ongetwyfeld maklik kan volg, maar die kieskeurige leser sal daarby baat om die drie romans in volgorde te lees sodat die karakterontwikkeling en naspel van elke voorafgaande gebeurtenis na behore waardeer kan word.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek