Geskeide Lillian Henderson se beste vriendin, Elzibi Cronjé, beplan ’n familiefees en vra of haar drie ongetroude broers tydens die Kerstyd by Lillian kan tuisgaan. Tot haar argwaan daag Louis, die oudste van die drie ongetroude broers, ’n week te vroeg by haar huis op.
Sy laat hom goed verstaan dat hy nie heeldag op haar bank kan sit en niks doen nie, en steek hom in die werk. Sy sleep hom saam winkels toe, laat hom pakkies dra, geskenke toedraai en haar in die kombuis help. Louis is egter ’n regte ou knorpot en hou haar op ’n afstand, maar ten spyte daarvan kan sy hom net nie uit haar gedagtes kry nie.
Louis woon boonop in die Kaap en is met sy werk getroud. Daar is nie plek vir ’n vrou in sy besige lewe nie. Op háár beurt glo Lillian nie in langafstandverhoudings nie. Die grootste stryd tussen die twee is om seker te maak hul vakansieromanse eindig nie in een van hul slaapkamers nie.
Dina Botha is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Sy het vier kinders waarvan twee nog skoolgaande is. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekende romanskrywers se boeke verslind en gehoop om eendag self ’n skrywer te word. Ná skool het sy egter haar droom om joernalis te word gebêre en ’n IT-kwalifikasie behaal. Twintig jaar later het haar passie vir skryf weer opgevlam en sy het die keer die moed gehad om haar droom met mag en mening na te jaag. Sy het in 2014 haar werk bedank en is nou voltyds ’n skrywer
Ek het gehoop dat ons nie die laaste gehoor het van die inwoners van die spoglandgoed waar Elzibi en Luca mekaar gevind het nie (Hand aan hand, Romanza Mei 2023). Inderdaad is dit nou Elzibi se boesemvriendin, Lillian, wat uit haar gevestigde roetine gekikker word wanneer Louis op haar drumpel verskyn. Daar is van meets af aan ’n magstryd tussen dié twee. Sy erken dat sy ’n ryk en bedorwe vrou is, en nie verskoning maak daarvoor nie. Ten alle koste wil sy altyd die laaste woord inkry. Op sy beurt is hy ’n tipiese alfawolf, heeltemal sonder ’n sosiale lewe en gewoond om sy wil te laat geld. Ek sou normaalweg nie van so ’n held gehou het nie, maar die omgee en bedagsaamheid wat hy toon, het my oorgehaal. Wanneer hy mettertyd insien dat hy dwaas was om hom van sy familie af te sluit, kry hy nog punte by. Die wisselwerking tussen die twee bring bepaald die beste in mekaar na vore en sorg vir ’n heerlike tonekrul romanse. Dit gaan nie ’n probleem wees indien jy Hand aan hand nie gelees het nie. Ek het die detail daarvan grootliks vergeet, maar hierdie opvolg staan gemaklik op eie voete.