Nairobi is haar skool se hoofmeisie en haar lewe is agtermekaar – of so lyk dit vir almal wat haar ken. Sy het doenlysies en sit nooit ’n voet verkeerd nie.
Maar dit is juis haar obsessie met beheer wat maak dat haar kêrel haar op haar agtiende verjaardag, voor almal by die skool, afsê.
Haar ma gee vir haar haar oorlede tannie se hangertjie as geskenk. Nadine, haar ma se suster, het in haar agtiende lewensjaar spoorloos verdwyn, en hierdie verlies hang soos 'n donker skadu oor Nairobi se ma en ouma – eintlik oor die hele gesin.
Wanneer Nairobi die hangertjie aansit, verskyn haar tannie in haar kamer. Sy raak gaandeweg 'n gerusstellende aanwesigheid vir Nairobi, totdat Nairobi besef dat sy kan help om antwoorde te kry oor wat in haar tannie se laaste ure gebeur het.
As sy die raaisel kan ontrafel, kan sy dalk haar gesin help heelmaak – en haarself bevry van die beheer wat haar ouers oor haar uitoefen, en wat sy self aangeleer het.
Cliffordene is a writer, dreamer, and proud dog mom (and assistant) to Lola and Ramsey. She is from the small town of Barkly West in the Northern Cape and has been writing love stories by hand since she was 15 years old. She began her professional career at Volksblad after completing her BA Honours degree in Journalism at North-West University, Potchefstroom, in 2013. She currently resides in Potchefstroom and works for her alma mater. She enjoys reading, appropriate sarcasm, and is addicted to popcorn and a good cup of coffee. She enjoys writing short stories, and more than 30 of her short stories have been published in LitNet, Vrouekeur, Kuier, Huisgenoot, and various anthologies.
Salig is diegene wie se eendjies in ‘n netjiese ry stap. Orde, struktuur, en voorspelbaarheid is immers die basis van sekuriteit. Die realiteit het egter die manier om vere in alle rigtings te laat fladder; die bestaande roetines omver te werp en nuwe hanteringsmeganismes te noodsaak.
‘n Spook het dieselfde effek op Nairobi se lewe gehad.
Die gehoorsaamheid van haar eendjies was die resultaat van haar streng skedules, lysies en beplannings. Elke oomblik van haar lewe was fyn beplan; dit was immers haar matriekjaar. Op haar agtiende verjaarsdag verskyn die kat wat haar eendjies verwilder in die gedaante van haar tannie, Nadine. Van ‘n blye weersiens was daar egter geen sprake nie; Nadine het verdwyn toe sy sewentien jaar oud was. En nou is sy ‘n spook.
Soos Norton se vorige romans vir jong volwassenes (Om jou te ken - 2022, Ek sal vir jou veg – 2024, en Hoe haal ek nou asem? – 2025) is die sentrale tema die hoofkarakters se kennismaking met ‘n omgewing wat toenemend antagonisties en onvoorspelbaar blyk te wees: “Spoke bestaan en die wêreld is nie meer dieselfde nie.” (196)
Benewens Nairobi, die hoofkarakter en primêre eerstepersoon-verteller, word newekarakters soos haar vriende Erin, Grant en Kai, se reaksies op die uitkring van die spookverskyning ook ondersoek. Nadine deel die kollig as sekondêre eerstepersoon-verteller en verteenwoordig self ‘n verwarde 17-jarige – die ouderdom waarop sy verdwyn het – in die konteks van die teks.
Nairobi het ‘n komplekse verhouding met haar ouers; ‘n direkte gevolg van Nadine se destydse verdwyning. Haar pa is ‘n oorbeskermende polisiebeampte en haar ma ‘n beheervraat onder die dekmantel van die onderhoof van ‘n skool. Addisionele komplikasies spruit daaruit voort; bydraende faktore tot Nairobi se sosiale isolasie ten spyte van haar leiersposisie by die skool, “Dan praat ek nie eens van haar ouers wat niemand vertrou nie. Niemand se kind is ooit goed genoeg vir speurder Ben se kind nie.” (167)
Haar ma blameer Nairobi se Ouma Patty vir Nadine se verdwyning en Nairobi se kontak met haar is derhalwe ‘n twispunt: “Ek verdien ‘n verhouding met Ouma... Ek verraai nie vir Ma nie.” (8) Nairobi se teenreaksie op haar omgewing is kompulsiewe beplanning, wat tot frustrasie by haar vriende lei: “Alles moet net om jou beplanning draai. Jy besluit wat ons doen, wanneer, en hoe laat ons dit moet doen.” (31) En diegene wat nie frustrasie ervaar nie, bejammer haar: “Arme sy, haar antie het mos verdwyn.” (45)
Die roman is ‘n kombinasie van genres; uiteraard is dit ‘n spookstorie, ”Nadine se teenwoordigheid is soos hael teen die venster. Ek wonder of dit vir ewig winter is in die dorpie tussen lewe en dood.” (49), maar geen riller nie. Die spookkarakter se verskyning het nie wraak as motivering nie, bloot ‘n soeke na wat met haar gebeur het omdat sy dit self nie kan onthou nie en daarsonder nie rus – letterlik en figuurlik – kan ervaar nie. Hier betree die teks die gebied van ‘n raaiselroman met Nairobi en haar vriende as amateur-ondersoekers. Die verhoudingsaspek en die karakters se individuele reaksies op onverwagte kinkels en uitdagings, bly egter deurgaans sentraal.
Kai, nes Nairobi, ken buitestanderskap: “Kai wat met die helm gebore is. Kai wie se familie bekend is vir hulle geloof in die bonatuurlike. Sy ouma is ‘n vroedvrou en kruievrou.” (45) Die andersins gemoedelike Erin ervaar ook isolasie wanneer sy, ten spyte van haar begeerte om ‘n spook te sien, uitgesluit word van kommunikasie met Nadine, maar in die geval van beide hierdie jongmense word die anders wees nie toegelaat om ‘n tussentredene wig te word nie en word dit eerder aangewend as motivering vir eenheid. Op hierdie vlak is dit ook ‘n onbetwiste verhoudingsroman wat die krag van vriendskappe en emosionele bystand sterk beklemtoon.
Die genrewisseling is ‘n metafoor vir die lewenswisselings van die karakters en verteenwoordig ‘n teks waar die gebrek aan netjiese rye as ‘n positiewe groeipunt omhels word, selfs terwyl die eendjies in elke denkbare rigting hardloop.