Jump to ratings and reviews
Rate this book

Oop Deure

Rate this book
Lana en Elma Lourens is twee susters wat om verskillende redes tydelik in ʼn tuinwoonstel op ʼn plaas by Tesselaarsdal in die Overberg gaan bly. ʼn Broer en suster, André en Christine Maritz boer saam op die groenteplaas. Gou raak die vier mense betrokke by mekaar en smee vriendskappe wat verdiep, maar ook meer gekompliseerd raak wanneer Lana en Elma noodgedwonge langer op die plaas moet aanbly. Asof daar nie genoeg intrige is nie, daag Elma se vriendin, Retha, ook op en tante Aletta, ʼn boervrou in die distrik wat haarself aangestel het as ʼn moederfiguur vir André en Christine, sukkel om haar neus uit almal se sake te hou.

Dié verhoudingsroman gaan oor vriendskappe in verskeie vorms, en komplekse familieverhoudings wanneer uiteenlopende mense saamgegooi word in ‘n situasie waarin hulle hulself dalk nie normaalweg sou bevind nie. Hedendaagse romantiese verbintenisse en die vloeiendheid van seksualiteit is ook deel van die verhaal.

Oop deure is soos Oor en Weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen saam geskryf. Oor en weer is uitstekend ontvang deur lesers en resensente en was ʼn finalis vir ʼn ATKV Woordveertjie in 2021.
-
'n Eietydse verhaal deur die suksesvolle kombinasie van twee skrywers wat dit regkry om die stoom uit die blaaie te laat trek. Opwindend, relevant en 'n bietjie stout. 'n Verhaal met vrymaking as tema. Nie net vir die karakters nie, maar ook vir die leser.
- Juliana Coetzer

Paperback

Published September 1, 2023

3 people want to read

About the author

Analize Viljoen

4 books5 followers
Analize is in Parys in die Vrystaat gebore, en het van kleins af 'n liefde gehad vir lees. Sy het die kinderboeke wat sy by die biblioteek uitgeneem het soveel keer gelees dat sy hulle uit haar kop geken het teen die tyd dat hulle moes teruggaan. Toe sy Trompie, Saartjie en Uile gelees het, het sy al geweet sy wil eendag boeke skryf.

Analize het in die filmbedryf gewerk en het al in vyf lande gewoon. Sy is passievol oor reis, die buitelewe, en stories.

Sy woon tans in Gordonsbaai in die Weskaap, waar sy kos van baie lande kook, skryf, boekgeprekke hou en mense aanlyn Engels leer praat. Sy swem graag in die see, en stap met haar honde op die strand. Die see hou haar kop reg. Soort van. Sy dink daaraan om 'n groentewinkel oop te maak.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
1 (50%)
4 stars
1 (50%)
3 stars
0 (0%)
2 stars
0 (0%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 2 of 2 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,449 reviews81 followers
Read
October 25, 2023
#OopDeure – Analize Viljoen & Trisa Hugo
#Naledi

In plaas van om ‘n resensie of lesersindruk te skryf, het ek hierdie roman se terugvoer anders benader. ‘n Groep van 20 mense, ‘n mengelmoeskardoes van vriende, skrywers, uitgewers, lesers en resensente, het vrae aan die skrywers vir my gestuur. Ek het dit anoniem aan hulle voorgelê en hulle antwoorde individueel verkry. Ek hoop julle sal die lees daarvan soveel geniet as wat ek die samestelling geniet het.

Hulle weet steeds nie wie watter vrae gevra het nie – die deelnemers kan self besluit of hulle wil bieg oor hulle aandeel – maar ek ‘tag’ elkeen wat deelgeneem het.

Diegene wat nog vrae het kan gerus Maandagaand inskakel wanneer Jean Ootshuizen met die skrywers gaan gesels, kyk op die Boekemakranka-blad vir besonderhede.

PERSOONLIK
1. Op watter stadium het jy besluit om 'n skrywer te wees en wat was jou pad na publikasie? Watter raad sal jy (terugskouend) aan jou jonger self gee? Wenke uit jou ervaring, vir aspirantskrywers?
T: Ek het as jong kind een dag in die spieël gekyk en ʼn baie bekende volwasse vrou met lang hare, so losweg agteroor gegooi, het teruggekyk. Dit was nie ʼn bekende haarstyl van die tyd nie, alles was mos so perfek geblaas. Die gevoel was dat sy bekend was in die kunswêreld, nie ʼn spesifieke rigting soos skrywer nie. Skrywers was onbereikbaar. Gode. Tog het die prentjie in my kop gebly. My eerste gepubliseerde stories was helaas onder ʼn skuilnaam, in die Loslyf, waarvoor ek nooit betaal is nie.
Ek het maar laat in my lewe regtig ernstig begin skryf, om ʼn lewe te maak en kinders groot te kry, was eers prioriteit. In Kleinmond met die gastehuis wat ons bedryf, het ek vir die eerste keer me-time om aan skryf te spandeer. Verder skryf ek omdat dit vir my lekker is, nie omdat ek voel ek moet iets bewys nie.
Raad aan my jonger self – Glo in jouself, glo jy is ook goed genoeg.

A: Ek wou ‘n skrywer wees vandat ek kan onthou. Ek het op skool al stories en gedigte geskryf, en was maar nog altyd besig om iewers aan iets te skryf. Vir aspirantskrywers kan ek net sê, skryf is soos enige iets anders. Oefen, hou waarby jy goed is, en moenie opgee nie. Vervelig, maar waar.

2. Het jy enige formele skrywersopleiding? En wat is elkeen se gunsteling genre om vir ontspanning te lees?
T: ʼn Slypskool of twee het gehelp, maar die beste leerskool was redakteurs met rooi penne. En dan verskeie skrywers-handleidings, tesourus, AWS, Skryf Afrikaans A_Z, en so aan. Ek lees graag historiese romans, kortverhale en romans. Ek gaan nie groot op wetenskapsfiksie, toekomsfiksie of krimi’s nie. Iets moet waar sou kon wees.

A: Ek het ‘n kursus of twee gedoen in draaiboekskryf want ek was voorheen in die filmbedryf. Ek hou daarvan om iets van alles te lees, maar ek het ‘n sagte plek vir verhoudinsgromans.
Dit hang maar af van die bui waarin ek is, en ek glo nie ek sal ooit net een genre kan lees nie. Dis juis die verskeidenheid van boeke wat ander wêrelde oopmaak.

3. Watter vraag wil jy die graagste hê moet deur ‘n onderhoudsvoerder of leser aangaande die boek aan jou gevra word?
T: Wonder jy soms wat van jou karakters geword het na die boek se einde?

A Ek weet nie eintlik nie. Die onderhoudvoerders vra almal al reeds sulke lekker vrae. Ek sal wel graag by die lesers wil hoor of hulle al Christine se cocoa gemaak het.

DIE PROSES
1. Watter program gebruik julle om saam te skryf? En hoe werk dit?
T: Google Docs waar ons al twee op een dokument kan skryf, kommentaar lewer en presies kan sien wat die ander een nou tik.
A: Ons skryf op Google Docs. Jy kan die dokument met iemand deel en elkeen kan presies sien wat gebeur, terwyl dit gebeur. Ons los vir mekaar kommentaar, en soms tjip ons in terwyl die ander een besig is. Trisa sal bv. ‘n stuk dialoog skryf, en dan antwoord ek sommer as die ander karakter, of sit iets by.

2. Hoe verdeel julle die werk, skryf elkeen alleen aan ‘n hoofstuk ? Hoe besluit twee mense saam oor die plot? Werk julle volgens ‘n vooraf raamwerk? Word die verhaal toegelaat om generies te ontvou of werk julle streng volgens ‘n voorafbepaalde struktuur?
T: Anders as met Oor en weer waar ons elkeen ʼn hoofkarakter se perspektief geskryf het, het ons al twee aan Oop Deure aan al die karakters geskryf. Die een wat tyd gehad het, het geskryf. Ons het net ʼn baie wye raamwerk van omtrent twee sinne gehad toe ons begin het. Karakters is baie eiesinnig, en foeter hulle eie koers in. Dan werk ons daarmee! Dis eintlik in geheel teen my geaardheid, maar ek vind dat dit in my kortverhale ook so gebeur. Ek het ʼn aanlyn kursus gedoen oor hoe om ʼn geraamte van die storie te bou en toe begin om ʼn Excel spreadsheet op te stel, maar dit het nie eers vir Hoofstuk 1 gewerk nie.

A: Elkeen skryf tot sy klaar is met ‘n stuk. Soms het een van ons laat die aand vir die ander een gesê ek sal more hier aangaan want ek het die idee in my kop. Ander kere het ons gesê gaan gerus aan en doen verder wat jy wil. Soms het ons iemand in ‘n hoek vasgeskryf dan moes die ander een weer aangaan en die karakter daar uitkry – of inkry! Dit het redelik generies gebeur. Ons het ‘n vae idee gehad van waar elke karakter gaan opeindig, maar geen idee gehad hoe hulle daar sou uitkom nie. Op ‘n manier werk dit soos die lewe. Jy weet nooit regtig wat kom volgende nie, en as jou medeskrywer iets laat gebeur dan hanteer jy dit maar en gaan van daar af aan. Ons reageer ook gereeld op mekaar se sinne of idees as deel van die boek.

3. Wie is die ongeduldigste/stadigste/grootste kritikus/swakste speller? & Wie is die meer kreatiewe wat leiding neem met plotbeplanning? Wie het die beste taalvaardighede?
T: Ons het al twee sterk punte wat die ander een aanvul. Analize is beslis beter met kontinuïteit en redigering as ek. Ons al twee maak doodseker van feite, datums en plekke voor ons oor iets skryf. As Analize bv iets skryf oor die verbouing van kanola, of ek oor die trekker se ratte, vertrou ons mekaar dat huiswerk behoorlik gedoen is daaroor. Na Covid het ek regtig erg gesukkel om te fokus, vir omtrent twee jaar. Skryf is eintlik wonderlike terapie, want dit dwing mens om te fokus op wat reeds gebeur het in die verhaal, en dat jy moet aansluit daarby en sinvol verder gaan. Ek sê altyd, een plus een is meer as twee met ons skryfwerk. Saam is ons plot sterker as wat een van ons dit individueel sou doen.

A: Trisa het beslis beter taalvaardighede! Ek dink nie een van ons is juis ongeduldig of stadig nie, hoewel ek soms wou hê Trisa moet nou net aangaan met die storie dat ek ook kan uitvind wat gebeur. Ek dink ek is die grootste kritikus, of die een wat die meeste wou verander. Ek dink ons al twee het gesê as ons dink iets werk nie, en dan het ons saam besluit wat om te doen en hoe om dit te verander.

4. Het julle tydens die proses julle vir mekaar vererg of koppe gestamp? Hoe hanteer julle spanning/konflik tussen mekaar en tydens die uitgewersproses en ander rolspelers? Hoe kry julle dit reg dat ego’s nie in die pad van die skryfproses kom nie?
T: Nee wat, as ons verskil oor iets in die storielyn, het ons bloot gekyk wat gaan die beste vir die storie werk. Ek kan nie dink dat ons ooit regtig verskil het oor iets in die proses nie, ons het heeltyd grootliks saamgestem oor wat op ʼn sekere tyd waar moet gebeur. Klein verskille oor die storie, maar nooit ergernisse nie.

A: Daar was nie konflik nie. Ons verskil soms wel, maar dit was altyd vir ‘n goeie rede en die voorstelle om iets te verander was elke keer goed gemotiveerd. Ek kill baie maklik my darlings as iets nie werk nie. Party goed is eintlik makliker want twee koppe is beter as een.
Die moeilikste deel van die uitgewersproses is om te wag vir terugvoer, maar met Naledi was die terugvoer blitsvinnig, en die proses seepglad.

5. Watter eienskap van jou skryf-vennoot admireer jy die meeste en hoe vul daardie eienskap jou skryfstyl aan? Hoe bly julle – as skryfspan – op dieselfde golflengte: hegte vriendskap, liefde vir boeke, of iets heel anders?
T: Analize se kreatiwiteit om die karakters in situasies te laat beland, en dan natuurlik haar vermoë om te redigeer. Sy gebruik lieflike beelde en skep atmosfeer met musiek in haar skryfwerk.

A: Die golflengte moet iets daarmee te doen hê. Ek bewonder Trisa se vermoë om ‘n storie te maak uit enige gebeurtenis, en sy kan lekker fyn humor in iets ingooi. Sy is ook die een wat die administrasie bymekaar hou en gestruktureerd werk. Boonop het sy heerlike resepte, al kan sy nie juis hoeveelhede gee nie.
Ek dink as dit by mensekennis kom het ons dalk baie dieselfde idees oor mense en hul stories. Ons hoef nooit dinge vreeslik vir mekaar te verduidelik nie. Na ‘n paar paragrawe weet ons genoeg van ‘n karakter wat die ander een geskep het, om te kan aangaan. Ek hoef min te sê, en sy verstaan net. Dit help ook dat ek enige iets vir haar kan sê.

DIE ROMAN
1. Vertel ons asseblief van die voorblad. Wie het dit ontwerp en wat is die motivering daaragter? Waarom is daar rissies op die voorblad - dui dit op die skrywers se persoonlikhede?
T: Dis Analize se ontwerp. Sy sê tot my verbasing, ek het opgekom met die rissie-idee, maar in ʼn ander tipe situasie. Ek het gedink dis haar idee. Ons is mos al twee hotties, so dit klink my dis ʼn spanpoging!

A: Ek het die voorblad ontwerp, en dit was aanvanklik Trisa se idee dat daar iewers ‘n rissie op moet wees. Dit dui op die karakters se persoonlikhede. Die kleure en posisies is strategies. Wanneer jy lees gaan jy verstaan. 🙂

2. Oop deure is ‘n tradisie wat oor millenia dui op ‘n verwelkoming van almal. Enige een is welkom. Hoe het julle op die titel besluit? Op watter stadium van die proses het julle op die titel besluit? Wie het die titel gekies?
T: Die titel was aanvanklik Agter die plaashek, in die sin van what happens in Vegas, stays in Vegas. Madri wat die manuskripontwikkeling gedoen het, het gedink dit gee ʼn gevoel van maak toe, bly weg. Toe sê sy nee, gooi oop die deure. En siedaar! Dit het dadelik reg geklink.

A: Ons het in die inperking begin skryf, toe almal agter toe deure was. Ons het dit Agter die plaashek genoem, juis oor die inperking. Toe sê Madri Victor, wat die manuskripontwikkeleing gedoen het, dit klink of julle iets wil wegsteek, en eintlik is die teenoorgestelde waar. ”Maak oop die hek!” Ons het toe lank gedink oor alternatiewe titels, en eendag het Oop deure net in my kop gekom, en toe hou ons almal daarvan.

3. Is daar enige karakters, temas of plekke wat oorvloei vanaf ‘Oor en weer’ na ‘Oop deure’?
T: Daar is ʼn gasverskyning van ʼn paar karakters, ja. Ook die twee uit Analize se Kleur en Karamel. Dis half logies dat ons karakters in die werklike lewe vriende sou wees, want ons skryf karakters wat jou vriendin of buurman sou kon wees.

A: Billie en Manda kom maak ‘n vinnige draai, ja! Dit was heerlik om hulle weer te sien. Hanri en Lily van Kleur en karamel het ook iewers ‘n eiertjie te lê...

4. Ons samelewing is een van hoë heinings en veiligheidshekke. Breek julle bewustelik in die psige in?
T: Miskien eerder op ʼn psigologiese as op ʼn konkrete vlak. Oop en eerlikheid op alle vlakke, wat dalk ook in ʼn mens se omgewing sou manifesteer. So ja, dis ʼn uitstekende vraag. Skryf ʼn skrywer ooit op ʼn bewustelike vlak oor al die onderliggende goed? Ek twyfel, maar is tog self telkens verbaas as ek klaar is met ʼn kortverhaal, hoe daar van my eie onbewuste prosesse en denkpatrone, selfs bagasie en ander hebbelikhede, ingeskryf is.

A: Ja, absoluut. Ons probeer doelbewus om ons karakters so realisties as moontlik te hou, met foute en skandes en goeie punte en redes vir hul optrede. Van die lekkerste terugvoer vir my is as lesers sê ‘n karakter is iemand met wie hulle vriende sou kon wees.

5. Wat is jou gunsteling paragraaf/toneel in die teks en hoekom?
T: Daar is so baie! Een van myne is waar oom Jan en tannie Aletta vir Lana ontmoet. Ook die waar Dirk vir Elma ontmoet. So dit lyk my daardie reaksie wat mense op mekaar het, speel vir my ʼn rol. Al is dit nou nie die tipiese boy-meets-girl nie.

A: Die slottoneel, want dit verskuif hopelik ‘n grens of twee. Ek dink nie dit was al voorheen gedoen in Afrikaanse populêre fiksie nie. Daar is nog ‘n toneel wat ek nie dink al voorheen gedoen was nie, maar ek kan nie nou die storie weggee nie... (Kyk hoe knip my oog.)

6. Wat is die onderliggende temas?
T: In kort - Vriendskap in al sy vorme, komplekse familieverhoudings en die vloeiendheid van seksualiteit.

A: Aanvaarding, van ander en jouself. Bevryding, en om jou plek in die lewe te vind.

7. Watter karakter of toneel of verwikkeling, het dit nie tot in die finale boek gemaak nie? Het julle rondgespeel met die lot van die karakters of was dit vooraf haarfyn beplan?
T: Niks was regtig beplan nie, wat nog te praat van haarfyn... Skaafwerk en skuif was baie! Die einde se klem het net verander, maar niks dramaties nie.

A: Baie rondgespeel. Tannie Aletta was in en uit in die slottoneel, meer as een keer. Op die ou end het ons besluit realisme wen. Of dalk moet ek maar erken ék het dit besluit. Op die laaste dag voor die finale manuskrip moes in wees, was ek nog onseker, en Trisa het daardie dag baie hooi op haar vurk gehad. Sy het gesê wat ek ook al besluit, is reg.
Ons het ook op ‘n stadium teruggegaan en Lana gaan verander, want ek het gedink sy is soms net té kwaai.

8. ‘Oop deure’ word as ‘n verhoudingsroman bemark. Hoe onderskei julle dit van ‘n romantiese liefdesverhaal?
T: Nie alle verhoudings is immers van romantiese aard nie? Daar is ook die verhouding tussen sibbe, ouers/kinders, bure, werksmense en dit is wat ons doen. Ons beeld die verhoudings tussen mense uit. As hulle nou so tussendeur romanties wil raak, gooi ons die deure vir hulle oop!

A: Dit gaan oor meer as romantiese liefde. Daar is ‘n hele klomp onderlinge verhoudinge en vriendskappe ter sprake.

9. Beskryf jou ideale leser.
T: ʼn Gewone mens soos ekself, wat kan assosieer met doodgewone karakters, wat vir die leser bekend voel.

A: Iemand wat nie verwag dat hulle eie siening van die wêreld die enigste een is wat reg is nie. Iemand wat kan oopkop wees en eerder kyk na wat ‘n karakter motiveer as om te oordeel wat hy of sy kwansuis “verkeerd” doen. Dan beslis ook die tipe leser wat eerder boeke koop as steel.

10. Watter raad het julle vir skrywers wat 'n karakter se seksualiteit moet omskryf, sodat dit steeds outentiek voorkom vir die leser, ten spyte van die leser se eie seksuele oriëntasie?
T: Skryf oor wat jy ken en self doen of sou wou doen. Of voor kans sien. Moenie skryf oor iets wat jy nie kan beskryf nie.

A: Meeste mense weet hoe dit voel om seksueel aangetrokke te wees tot een persoon en glad nie tot ‘n ander een nie. Dis waaroor jy dan skryf. ‘n Straight vrou is by voorbeeld tog nie aangetrokke tot alle mans nie, en ‘n lesbiese vrou ook nie tot alle vroue nie. So, of jy nou van borste of baarde hou, die gevoelens bly dieselfde. ‘n Skrywer wat dus meer van bruin oë hou, hoef nie veel navorsing te doen oor hoe dit voel om van iemand met blou oë te hou nie.
Wat dalk moeiliker kan wees, is die fyner nuanses van ‘n soort van ‘n subkultuur. In Kleur en karamel het ek tong in die kies verwys dat daar gereeld ‘n magstryd tussen lesbiese vroue is oor wie gaan braai. Dis sulke goed wat belangrik is om uit te vind, maar dis deel van ‘n skrywer se werk. As jy nie self ‘n boer is nie maar jou verhaal speel op ‘n plaas af, dan vind jy uit hoe boere praat en optree. Of as jy oor ‘n speurder skryf vind jy uit hoe speurders praat en optree. Uit ‘n skrywersoogpunt is seksualiteit maar dieselfde.
Profile Image for Tertia.
14 reviews7 followers
September 30, 2023
Oop Deure is die 2de boek wat Trisa Hugo en Analize Viljoen saam geskryf het. Oor en Weer, die eerste een, was ‘n wenner en Oop Deure is net so goed. Dit maak vir heerlike ontspannings leesstof, ‘n moderne romanse met ‘n paar kinkels en heerlike humor tussenin. Die karakters is gerond, glad nie vervelig nie en deur die verhaal geloofwaardig. Trisa en Analize skryf vreeslik goed saam, hul is duidelik “in sync”.
Displaying 1 - 2 of 2 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.