#LaasteKans – Marita van der Vyver
#Tafelberg
‘To drink in the last chance saloon…’ ‘n Laaste kans om iets reg te stel. Die uitdaging is natuurlik om te weet wanneer dit, minstens waarskynlik, inderdaad die laaste kans is. Ons glo mos eerder daar is altyd nog ‘n more, nog ‘n geleentheid.
Die groep vriende se vorige samekoms is vasgevang op ‘n kleurfoto, gedruk op glanspapier. Op 1 Januarie 1995 was digitale bewaring kwalik meer as wetenskapfiksie. ‘n Kwarteeu later, tydens hulle volgende samekoms, is alles anders; dis die tyd van bleskoppe en boepense, plooie en rekmerke. 14 Maart 2020 sien dus heel anders daar uit, die eertydse volwassenes is nou bejaardes, die kinders het self ouers geword, nuwe gesigte het bygekom. ‘It was the best of times, it was the worst of times….’ Die reünie was terselfdertyd ‘n weersiens en ‘n afskeid, die wêreldwye pandemie wat sou volg, bytende aan die hakskene.
Die herontmoeting soos beskryf in hierdie roman volg op die wegbreek van ‘Wegkomkans’ (Tafelberg, 1990). Die lees van laasgenoemde is egter geensins ‘n vereiste vir die lees van die opvolg nie. ‘n lys van karaktername met ‘n kort herinnering hoe en waar wie inpas, is beide ‘n inleiding vir diegene onbekend met hulle, en ‘n herinnering vir diegene wel bekend met hulle.
Daar is nostalgiese terugblikke na die verlede; die onbeantwoorde vrae wat immer teenwoordig bly wanneer ‘n kind jonk sterf, so jonk dat hy nog geen lewe gehad het waarin hy kon spore trap nie, niks kon doen waarvoor hy onthou sal word nie. Daar is die onvermydelike vrae oor wat die moeite werd was en wat nie, die hunkering na die persone wie se plekke leeg geword het en nie eers deur geliefdes gevul kan word nie, wie se afwesigheid juis groeiend waarneembaar is in die teenwoordigheid van hulle wat probeer verstaan; die besef dat jeugdige sekerhede fondamente in sand gehad het; die kompleksiteite van verhoudings en die toenemende gevoel van ontheemdheid, van nie behoort nie.
Nostalgie word dikwels met klanke en reuke verbind en hierdie roman is geen uitsondering nie. Die hoofstuktitels vind hulle oorsprong in die lirieke van desjare se musiek: The Clash, Sinéad O’Connor, Paul Simon, Barbara Streisand, Nirvana, Talking Heads, Chubby Checker, Joe Cocker, Pink Floyd, Patti Smith, Michael Jackson… Wêreldliteratuur verskyn eweneens soos versteekte paaseier-verrassings in die teks: Aldous Huxley, Breyten Breytenbach, Virginia Woolf, Lewis Carroll, Milan Kundera, Antjie Krog, Dylan Thomas, Tolkien, en meer.
Die karakters is uiteenlopend wat ouderdom, seksuele oriëntasie, agtergrond, beroepe, geslag, ras en gesondheid betref en dit is juis die verskeidenheid van perspektiewe wat die geheime wat digby die bors gehou word, aan beide die leser en die karakters openbaar; ‘n deurlopende herinnering dat ons mekaar se stories hoogstens gedeeltelik ken.
Die eindproduk is ‘n ode aan vriendskap; ‘n ondersoek na veroudering en verandering, wanneer die spreekwoordelike luike begin toetrek en die ligte afgeskakel word, en ‘n dapper kyk na die dood, want ‘…hy gooi elke dag ‘n langer skaduwee oor jou. Elke dag kry jy bietjie kouer.’ (161)
Die slottonele draai ek soos ‘n woordmantel om my skouers, ‘n trooskombers teen die aanslae van Vader Tyd.
NB-Uitgewers/Publishers
Marita van der Vyver - official group
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek