Jump to ratings and reviews
Rate this book

Kwaaiwater

Rate this book
Die grootste uitdaging van haar loopbaan wag op speuradjudant Storm van der Merwe. Die kusdorp Hermanus hou vir die eerste keer ooit ’n skrywersfees. Deel van Storm se verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou.
Maar toe daag die sterskrywer van die dorp nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. 24 uur later kom ’n visterman af op nóg ’n lyk – weer ’n vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ’n derde slagoffer.
Drie dae, drie vroue . ..           
 

469 pages, Kindle Edition

Published September 15, 2023

47 people are currently reading
44 people want to read

About the author

Irna van Zyl

7 books15 followers
Irna van Zyl is the author of the thriller "Dead in the Water". She is an award-winning journalist and media entrepreneur who headed up De Kat, Insig and Boeke-Insig before becoming a full-time writer. She lives in Cape Town with her partner, two dogs and a cat.

Irna van Zyl is die skrywer van die riller "Moordvis". Sy is ’n bekende mediapersoonlikheid en was onder meer redakteur van De Kat, Insig en Boeke-Insig voordat sy heeltyds begin skryf het. Sy woon in Kaapstad saam met haar lewensmaat, twee honde en ’n kat.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
37 (25%)
4 stars
69 (46%)
3 stars
33 (22%)
2 stars
5 (3%)
1 star
3 (2%)
Displaying 1 - 10 of 10 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,495 reviews85 followers
October 2, 2023
#Kwaaiwater – Irna van Zyl
#HumanEnRousseau

Hermanus se eerste skrywersfees was veronderstel om ‘n kulturele gebeurtenis te wees, nie die speelplek van ‘n reeksmoordenaar met ‘n fietsketting-obsessie nie. Isa du Bois, plaaslike sterskrywer, wil die geleentheid gebruik om haar nuutste erotiese verhale met fanfare aan te kondig; haar man, Stephanus, is egter terdeë bewus daarvan dat die erotika nie tot verbeeldingsvlugte beperk is nie. Emél Botha se memoir is die meesterplan tot haar terugkeer in die openbare oog na die skandaal van sewe-en-twintig jaar gelede toe sy nog Marie-Louise was. Haar geliefde, Lood Haumann, het sy eie donker geheime wat onder die dekmantel van ‘n skoonmaakbesigheid skuil. En geen skrywersfees is natuurlik volledig sonder die teenwoordigheid van ‘n resensent met ‘n gifpen nie.

Binne die eerste drie dae van die fees word drie moorde gepleeg. Drie vroue, al drie met ‘n fietsketting verwurg. Adjudantoffisier Storm van der Merwe se vervelige taak om die nakoming van Covid-regulasies tydens die doodsnikke van die inperkingstyd af te dwing, word blitsig vervang deur die soektog na ‘n geslepe en gewetenlose moordenaar. Maar haar aandag is verdeeld; Andreas Moerdyk is alweer in haar kop en op haar hakke, haar suster daag op vir ‘n onverwagse en geheimsinnige kuier, ‘n kollega trek sak en pak, met tweelingbabas en al, by haar in, en Vasco Galant, alias Whitey van Worcester, maak weer sy opwagting.

Deel I van die roman open op Vrydag, dag 5, met ‘n kloustrofobiese hysbaktoneel ‘Oorgelaat aan die genade van die hysbakgode.’ (12) en verskuif dan na Maandagoggend, dag 1. Terwyl die eerste dae van die skrywersfees meedoënloos verbytik, is daar kort-kort flitse terug na die hysbaktoneel, asook een na 18 maande gelede, een na sewe jaar gelede, en ‘n kort tussenspel. Laasgenoemde is vervat in hoofstuk 76, getiteld ‘Ondertussen’ en lees so onderhoudend soos ‘n volwaardige, selfstandige kortverhaal.

Deel II is ‘n terugkeer na die hysbaktoneel en tref die leser soos ‘n bomontploffing: ‘Eers die oorverdowende geraas…en daarna, ‘n paar sekondes lank niks, voordat die angs, die pyn, die gille begin.’ (283) en verloop daarna chronologies tot die slottonele in Deel III.

Die hoofstukke is deurgaans kort, wissel blitsvinnig tussen tonele en eindig meestal op vlymskerp mespunte. Leidrade word subtiel verskaf en die moontlike verdagtes word beurtelings ontbloot en geëlimineer. Hierdie geleidelike ontknoping verseker ‘n volgehoue spanningslyn en vermy die slaggat van te veel en te vinnig in die slottonele.

Speelse interteks dra by tot die vermaaklikheidswaarde en daag die leser uit om dit raak te lees. Woordkuns, van Totius en Ingrid Jonker, tot Karen Zoid en C. Johan Bakkes, word vernuftig ingewerk.

Lesers bekend met die skrywer se werk sal Storm se naam uit vorige publikasies herken: ‘Moordvis’ (Penguin, 2016), ‘Gifbeker’ (Penguin, 2018), en ‘Bloedsteen’ (Penguin, 2020). Lesers wat nog nie die voorafgaande romans onder oë gehad het nie, sal ‘Kwaaiwater’ egter ook alleenstaande kan lees en waardeer.

Met die Woordfees op hande, loer maar oor julle skouers. Hopelik is daar nie ‘n gedetermineerde moordenaar met ‘n fietsketting wat rondsluip nie.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
Profile Image for Amanda.
1,157 reviews
October 1, 2023
Ek lees redelik baie en redelik wyd, maar tog gaan skrywers soms by my verby. Een daarvan is Irna van Zyl, wie se speurderkarater, Storm van der Merwe, reeds bekend en geliefd is by krimilesers. Met my gewone voorbehoud wat betref reekse, wou ek Kwaaiwater, die nuutste aflewering in hierdie reeks, summier by my laat verby gaan. Tog het my nuuskierigheid die oorhand gekry. Sommer vanuit die staanspoor het ek gretig gelees, ten spyte van die feit dat ek nie voorafkennis gehad het nie. Of dalk juis dáárom.
Die verwysings na gebeure vroeër in Storm se loopbaan en persoonlike lewe, was genoegsaam om noodsaaklike agtergrond te verskaf. Vlak nadat die streng Covid-inperkings opgehef is, word daar ’n skrywersfees aangebied in Hermanus. Reeds op dag een word die sterskrywer van die fees vermoor, en daarna nog twee ander vrouens. Daar is genoeg verdagtes, intriges en bespiegelinge om die aandag deeglik te hou.
Ek weet nie of dit uniek is aan hierdie boek, of aan die skrywer se gewone styl nie, maar die storielyn word aangebied in kort hoofstukke wat die spanning ondersteun en die verhaal vinnig voortstu. Verskillende tydgrepe en fokaliseerders wissel mekaar gladweg af. Met aanduidings aan die begin van hoofstukke, weet die leser deurentyd presies wanneer die gebeure afspeel en is die tydspronge interessant, eerder as steurend.
Die gebrek aan grafiese detail staan my beslis ook aan, want ek grens aan sensitief wat dit betref. Daar is ook nie oordadige kru taalgebruik nie, die enkele geleenthede binne konteks aanvaarbaar.
Ek reken Irna van Zyl-aanhangers gaan in elk geval hierdie boek aanskaf, maar ek kan dit sterk aanbeveel vir nuwe lesers.
215 reviews12 followers
October 16, 2023
Hierdie boek was nou weer heeltemaal iets anders. Daar is telkens afgewissel met gebeurtenisse uit elke deelnemende karakter se hoek. Mens moet kophou om by te bly. Dit was wat die storie so boeiend gemaak het. Tot op die einde kon mens nie werklik agterkom wie die werklike moordenaar is nie. Elke persoon was nou betrokke by die moorde om dit spannend te hou. Werklik 'n boek wat ek kan aanbeveel as jy van speurwerk en moord hou.
Profile Image for Wena.
364 reviews1 follower
October 6, 2023
Storm is aan die brand, en weer eens in my geliefde Hermanus!
Profile Image for Trisa Hugo.
Author 10 books34 followers
December 10, 2023
Kwaaiwater is Irna van Zyl se vyfde spanningsroman. Sjoe, wat ʼn senutergende lees!

Die lekkerste van hierdie verhaal, is dat dit in Hermanus afspeel op plekke waar ek loop, koop en eet. Dit het ʼn ekstra dimensie verleen aan die verhaal. Boonop speel dit teen die agtergrond van ʼn skrywersfees af. Lesers wat elders woon sal egter nie enige iets mis nie. As ʼn skrywer skryf oor skrywers, kan lesers egter maar luister na die belewenis van die karakter!

Ons ontmoet weer soos in van die skrywer se vorige boeke, vir speuradjudant Storm van der Merwe, wat gemoeid is met die ondersoek na drie moorde, wat binne drie dae gepleeg word. Ons ontmoet ook weer haar oudkollega, Moerdyk.

Soos alle speurders het elke hoofkarakter maar sy eie swakhede, sowel as goeie punte, wat hulle bloot mens maak. Net werksetiek is ononderhandelbaar.

Storm as karakter ontwikkel egter oor die boeke heen, sy kyk nou beter na haar gesondheid en emosionele welsyn, en eet nie meer so gereeld slaptjips nie. Selfs Moerdyk ontwikkel ook ʼn kant wat meer deernis ontlok.

Daar is mense wat vir Storm soos in Bloedsteen, leed wil aandoen. Hoe hanteer sy dit hierdie keer, en kom sy ongeskonde daar uit?

ʼn Baie interessante aspek van Kwaaiwater is die kort hoofstukke wat flits na Vrydag, wat in ʼn hysbak afspeel, waar jy heeltyd jou asem ophou. Dit laat jou telkens omblaai, lank nadat jy al moes slaap. Jy wil heeltyd weet – hoe gaan dit uitspeel? Dan is ons weer terug by Maandag, wat die Skrywersfees begin. Geleidelik maak dinge sin oor die drie dae.

Daar is twee skrywers in Kwaaiwater. Isa du Bois met besondere belangstellings, om dit nou sag te stel, en Emél Botha met ʼn verlede vol skandes.

Die gemaklikheid waarmee Van Zyl die bekende betrek, soos Hannes aan Huis, Kwêla, Huisgenoot ens, laat die leser heimlik kyk na werklike skrywers. Op wie sou Isa en Emél gebaseer wees? Veral omdat daar op p170 verwys word na “... ʼn jong blonde vrou – ʼn nuwe skrywer wat opslae gemaak het met haar millenniërstorie oor ʼn branderplankkultus,” Dit verwys natuurlik na Joha van Dyk. Dis hoe maklik dit is om hierdie boek te lees, dat dit alles werklik voel, en daarin lê die geslaagdheid daarvan. Spanningslyne binne spanningslyne.

Die randkarakters is almal ewe interessant. Kai Jonas, Whitey van Worcester, Kiewiet de Klerk, April, Shirien, die IT-man Kareltjie en Stephanus du Bois. Rowena is pure Hermanus!

Daar is lekker interteks – die lyk lê “uitgespoel, tussen wier en gras” (p13), “Of M vir moer toe, die vreemde in?” (p295) om maar twee te noem.

Kwaaiwater is ʼn verwikkelde verhaal waar mense se verledes hulle lewe nou beïnvloed. Storm se geskiedenis word goed hanteer deur ʼn lewensafrigter/berader, uit ʼn terapeutiese oogpunt. Het ons dit nie maar almal nodig nie?

Hierdie is ʼn boek wat slegs deur die knapste van skywers so foutloos inmekaargevleg kon word. Lees dit gerus, of hierdie jou gunsteling genre is of nie. Daar is nie onnodige rowwe of wrede tonele in nie, maar baie van die lewe self.
Displaying 1 - 10 of 10 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.