Dawid skryf in Psalm 119:103, “Hoe aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond.” Soos wat 'n vars byekorf nog uitgepers moet word om egte, onverwerkte heuning voort te bring, so help Soeter as heuning jou om Bybelse waarhede te ontdek en selfs te herontdek, soos jy diep oor elkeen nadink en dit in jou lewe toepas. Deur God se Woord sorgvuldig in te neem, ontdek Dawid die diepte van God se liefde en vergifnis. Hy ervaar innerlike genesing en lewensvreugde wat net God in sy lewe kon bring. Soeter as heuning kan jou help om ook so 'n ervaring soos Dawid te hê.
Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibie gebore. Op veertien word sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 'n BTh. en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 voltooi hy 'n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en 'n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2006 word sy kortverhaal 'In Ma se Stoofᅮ in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat (Tafelberg) opgeneem. Jan en sy vrou Diana woon in die Oos-Kaap.
#KomSaam – Sonja Goldberg #SoeterAsHeuning – Jan Vermeulen #Luca
Dis weer daardie tyd van die jaar wat elke tweede persoon begin wroeg oor Nuwejaarsvoornemens en Kersgeskenke. Dagstukkieboeke slaan op soos sampioene in ‘n woud, die een mooier as die ander, en ‘n ingeligte keuse is ‘n uitdaging. Hierdie is dus ‘n poging om keuses te vergemaklik deur meer inligting oor twee nuwe publikasies te verskaf.
‘Kom saam’ se subtitel is ‘Inspirasie vir jou lewensreis’ en is gemik op vroue se alledaagse uitdagings en besluite. Klein jakkalsies soos verlore sleutels, asook intense trauma soos geloofskrisse en huweliksprobleme, is ingesluit.
Die formaat is die bekende: ‘n Teksvers word gevolg deur ‘n dagstukkie vir troos, nadenke, en groei, en ‘n kort gebed dien as afsluiting. Die indeling is egter meer ongewoon. Aansluitend by die tema van die lewe as ‘n reis, bestaan die boek uit ses afdelings: beplanning, inpak, vertrek, vrees, en verdwaal..
Daar is geen gedrukte datums by die stukkies nie, maar deel 1 bestaan uit 31 stukkies, deel 2 uit 28, deel 3 uit 31, deel 4 uit 30, deel 5 uit 31 en deel 6 uit 30 – ‘n perfekte pasmaat vir die eerste ses maande van die jaar.
‘Soeter as heuning’ se titel is ontleen aan Psalm 119:103 en het ten doel om dieper in die Woord te delf sodat dit soeter as heuning op die tong sal wees. Daar is ook geen gedrukte datums of dae van die week nie, maar die formaat breek weg van die tradisionele deur dagstukkies en ‘n Bybelstudiegids te kombineer.
Elkeen van die 52 temas word oor vyf dae behandel en sluit in verskeie tekste, gedagtes, vrae, gebedsvoorstelle, selfondersoek, en stof tot nadenke. Na elke vierde week is daar ‘n joernaalwerkkaart met ses vrae vir geheueverfrissing en -vaslegging. Bykomstighede soos ‘n Bybel, pen en notaboek is essensieel.om die boek tot sy reg te laat kom. Dis ewe geskik vir selfstudie, huisgodsdiens en selgroepe.