Dr. Hestelle van Staden is ’n mediese dokter en forensiese patoloog. Uit die meer as 7 000 outopsies wat sy tot op hede behartig het, is die meerderheid mense aan onnatuurlik oorsake dood. In hierdie boek werp sy lig op nege lykskouings wat haar bybly.
Van Staden deel die verhaal van baba Letitia, wie se ma volgehou het dat die kind bloot uit haar stootwaentjie geval het; Die ondersoek na die dood van die reggae-ster Luke Dube; En die van 'n swanger vrou wie se dood medici laat kopkrap het.
In Outopsie kelder dokter en forensiese patoloog, Hestelle van Staden, ’n hele paar wanindrukke wat by mense bestaan oor die werk, die werksplek en die werkwyse in die veld van die forensiese patologie. Daar is niks glansryk daaraan soos rolprente dikwels wil weergee nie. ’n Groot frustrasie vir forensiese patoloë in Suid-Afrika, is dat hulle, anders as in gewilde misdaadreekse, deesdae selde na misdaad- of ongelukstonele ontbied word. Dit is inderwaarheid ’n redelik ontnugterende boek om te lees. Dit dek ’n wye verskeidenheid van gevalle wat al op haar ondersoektafel beland het. Sonder om sentimenteel te wees of die verskrikking van onnatuurlike dood af te maak, kyk die leser as’t ware deur die bril van die forensiese patoloog na getuienis wat die oorsaak van sterftes blootlê. Die skrywer onderskryf die woorde van Lois McMaster Bujold: ‘The dead cannot cry out for justice. It is the duty of the living to do so for them.’ In die outobiografiese eerste hoofstuk, erken die skrywer dat sy reeds op baie jong ouderdom verklaar het dat sy ’n dokter wil word en ’n boek wil skryf. Hierdie jong drome het inderwaarheid vir haar ’n werklikheid geword toe sy Outopsie geskryf het, eers in Engels, en toe in Afrikaans vertaal deur Linde Dietrich. Lesers mag ook bekend wees met die televisiereeks, Outopsie, hoewel ek dit nie gesien het nie. Outopsie is in 2023 uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers en is wyd beskikbaar in gedrukte formaat, asook in elektroniese formaat.
Daar is ‘n gesegde dat die mens net van twee dinge kan seker wees: verandering en die dood. Van die vroegste tye af probeer ons sin maak van laasgenoemde – wat ‘n onbegonne taak is, gewoon omdat die dooies nie kom terugrapporteer nie. Die vraag na hoe ‘n oorledene anderkant die gordyn beland het, kan met groter sukses beantwoord word te danke aan forensiese patologie, voorheen bekend as geregtelike geneeskunde, en outopsies in die besonder.
Die terme post mortem-ondersoek en outopsie word dikwels as sinonieme in die volksmond gebruik, maar dis tegnies nie korrek nie. ‘n Outopsie sal altyd ‘n post mortem-ondersoek wees, maar post mortem-ondersoeke sal nie altyd outopsies insluit nie. ‘n Post mortem-ondersoek is letterlik bloot ‘n nadoodse ondersoek, met of sonder chirurgiese ingrypings (outopsies) op die liggaam van die oorledene.
Te danke aan fiktiewe karakters soos Quincy en Scarpetta, is daar ‘n redelike bewustheid van die werking van forensiese patoloë, maar die wanneer en waarom is dikwels minder bekend. Die skrywer, ‘n forensiese patoloog met dekades se ondervinding en meer as 7000 outopsies agter die blad, verskaf in hierdie boek ‘n kort verduideliking aangaande hierdie twee vrae.
Magtiging vir die hou van regsmediese ondersoeke word deur die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke, 58/1959, verskaf en bepaal dat dit verpligtend is in alle gevalle waar ‘n onnatuurlike sterfte plaasgevind het, insluitend ‘n vermoedelik onnatuurlike sterfte. Die definisie van onnatuurlike sterftes word gevind in die Regulasies van die Nasionale Gesondheidswet, 61/2003. Hierdie kombinasie van die reg en die mediese velde het die verouderde term geregtelike geneeskunde tot gevolg gehad. Hedendaags word daarna verwys as forensiese patologie, maar dit is in praktyk steeds die simbiotiese verhouding tussen twee beroepsvelde.
Die boek open met ‘n outobiografiese eerste hoofstuk en gaan in die volgende hoofstuk voort om die mees algemene formaat van ‘n outopsie te beskryf. Hierdie hoofstuk is dan ook die rede agter die waarskuwing op die voorblad dat die inhoud daarvan sensitiewe lesers mag ontstel en sodanige lesers word aangeraai om hoofstuk twee liefs nie te lees nie. Alhoewel dit met die beste bedoelings as sodanig aangebied word, is dit ‘n integrale deel van die boek en is dit ietwat kontrasterend dat ‘n leser hierdie hoofstuk sou vermy, maar steeds die spesifieke outopsies wat in latere hoofstukke bespreek word, sal lees. Hierdie leser beveel dus aan dat niks uitgelaat word nie.
Hoofstukke drie tot elf fokus op nege outopsies wat om uiteenlopende redes voorop in die skrywer se geheue gebly het en sluit in die moord van die reggae-ster, Lucky Dube, die tragiese sterftes van jong kinders aan die hande van diegene wat hulle moes beskerm het, ‘n roekelose bestuurder, ‘n moedersterfte, ‘n vermoedelike geval van geassisteerde selfdood, mediese nalatigheid, selfdood, en die skrikwekkende gevolge van weerlig.
Ten spyte van die gewigtige onderwerp, is die boek geensins morbied nie en humoristiese staaltjies, soos die beskuldiging dat ‘n oorledene se goue tand gesteel is, die slotmaker wat ‘n slot van ‘n lyk moes verwyder, en die stommerik wat onder kruisondervraging wou weet waar die menslike brein geleë is, maak deel van die teks uit.
Die skrywer se belydenis dat sy, as ‘n persoon gesteld op privaatheid, dit makliker vind om oor haar werk te skryf as om oor haarself as persoon te skryf, word deur die skryfstyl geïllustreer: Die outobiografiese hoofstuk bevat ‘n oormaat uitroeptekens in verhouding met die daaropvolgende hoofstukke, aanduidend van ‘n mindere mate van gemak met die inhoud van eersgenoemde. Die skrywer verduidelik dit in haar eie woorde: ‘Wanneer jy doen wat ek doen, word jy meer behoedsaam oor wie jy waarmee vertrou.’ Wanneer die teks in totaliteit beoordeel word, is die redes daaragter duidelik. Om daagliks gemoeid te wees met die grusaamhede wat mense mekaar aandoen en voortdurend herinner te word aan die broosheid van lewe, eis ongetwyfeld sy tol.
Vir lesers wat wonder waarom enigiemand hierdie loopbaan sal kies, antwoord sy in die woorde van Lois McMaster Bujold: ‘The dead cannot cry out for justice. It is the duty of the living to do so for them.’
Die boek word onderskryf deur die bekende Gérard Labuschagne, wat ook die voorwoord geskryf het, en is in Engels beskikbaar as ‘Blood has a voice’.
Ná die reeks Outopsie is my belanstelling oor wat Dr Hestelle van Staden se "normale" werksdag inhou nog meer geprikkel. Ek het die boek ongelooflik interessant, leersaam en boeiend gevind en het baie respek vir die kundiges in die forensiese veld ontwikkel. Dr van Staden se "grace en grit" kan mens regdeur die boek aanvoel. Dankie vir u toewyding om gergtigheid te laat geskied.
Blykbaar gepubliseer na aanleiding van 'n TV-reeks. Ek sal nie weet nie want ek kyk nie TV nie. Dit was vreeslik interessant om te lees, hoewel daar soms maar baie vaktaal in die boek is. Maar dit was werklik net 'n klein steurnis. Die boek is bietjie iets anders, maar sluit ook lekker aan by die meer onlangse boek van Carla van der Spuy wat ek vroeer vanjaar gelees het.