Die tienjarige Jaco Blignaut se lewe verander wanneer hy een Saterdag 'n rugbytoets teen die Franse bywoon. Daarna leef, eet en drink hy did spel. Maar hy kom go agter dat rugby om meer as net die plesier van skop, breek en lak gaan. Die bal is nie verniet gemaak om reg te spring wanneer jy dit nie verwag nie, en ewe dikwels verkeerd, sonder dat jy iets daaraan kan doen. Hy leer dat die lewe ook so werk, veral wanneer dit by vroue kom. Wanneer die groot liefde in sy lewe skeefloop, neem dit hom op 'n nuwe lewenspad deur Europa. Later, goed gevestig as 'n wetenskaplike, kan hy nie ontslae raak van die kruise van sy verlede nie en beind hy hom skielik midde in 'n moordkomplot.
Hans Pienaar het gedigte begin skryf op universiteit in die laat 1970s, maar opgehou nadat die tydskrif Vlieg, waarvan hy die redakteur was, verbied is. Teen die einde van die millennium het hy weer begin, en ‘n bundel in 2002, Die taal van voëls, uitgegee. Dit is genomineer vir die Ingrid Jonkerprys. Hy is ook bekend as dramaturg, en het pryse en nominasies gewen vir Drie dosyn rose en Ching Chong Che. Ander stukke uit sy pen is Please tell us what’s going, please, Kom terug Saartjie en die onopgevoerde Die wortel van alle kwaad en Kruger se DNS. ‘n Bundel kortverhale, Die lewe ondergronds het ook sy pen verskyn en hy was mederedakteur van die bundel dienspligverhale Forces Favourites.
Hans Pienaar het vir tien jaar lank as spesialis in buitelandse sake by Independent Newspapers gewerk en is tans verbonde aan Business Day, waar hy skrywer van die blog “Africa” is. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Hy was ook die redakteur van die deur die polisie verbode Die Trojaanse perd, ‘n bundel artikels oor die noodtoestand in die 1980s in die Kaap.
Shakespeare het beweer dat die lewe ‘n speeltoneel is. Jaco Blignaut sal grootliks daarmee saamstem, maar die verhoog is vir hom gelykstaande aan ‘n rugbyveld, waar die oersonde die speler-deelnemers dwing om foute te maak waarvoor hulle gestraf moet word – tot voordeel van die ander span – gespeel met ‘n bal wat, nes die mens, geskep is om die verkeerde ding te doen.
Hy was tien jaar oud toe hy van die boom van kennis van goed en kwaad se vrugte geproe het; eers die nartjies wat in ‘n rasgebaseerde aanval rondgevlieg het, en toe die besef dat rugby nie net ‘n metafoor vir die lewe is nie, maar dat dit ‘n god is wat aanbid moet word, wat alles eis, wat jou definieer.
Veertig jaar later kyk Jaco terug oor sy lewe, van die eenvoud van Stilfontein tot die Engels van Natal; van die soeke na identiteit tot die verlies van onbeantwoorde liefde en die ontnugtering van ouer word.
Alhoewel die geskiedenis van en anekdotes omtrent rugby vermaaklik aangebied word, is dit geensins ‘n sportgedrewe roman nie; eerder ‘n bildungsroman met rugby as katalisator. Daar is geen wedstryd wat volledig in die teks weergegee word nie en dit vervlak nooit tot sportkommentaar nie.
Jaco se lewensreis van ‘n jong plattelandse seun tot ‘n wêreldburger woonagtig in Switserland, word deurgaans met empatie aangebied, maar ontbreek ook nie aan humor en selfspot nie. Tydens sy jeug slaag hy daarin om ‘…twee en ‘n half mense te bekeer.’ (135), en hy is trots op sy Duits tot hy in München ‘n biefstuk bestel ‘…en ‘n enkele gekookte eier en ‘n bord vol rou uieringe kry.’ (264)
Die ironie van die titel is opvallend; die drie in rugby tel juis nie (meer) drie punte nie, en die roman knik erkennend na hierdie feit deur uitdagend aan te kondig dat ‘Drie’ ‘n roman in vier dele is. ‘n Speeltoneel, inderdaad.