Onder die vorige bewind het digters en skrywers hul stem teen onreg laat hoor. Baie van ons voel vandag dat nuwe onregte en nuwe onheile die ou soort vervang het. Met hierdie woorde as aanhef is 'n aantal digters in Mei 2000 genooi om by te dra tot Nuwe Verset. Byna veertig digters laat blyk in hierdie bundel hoe hulle teen die eeuwending oor die nuwe bedeling gevoel het.
Daniel Hugo (1955) het Afrikaanse en Nederlandse letterkunde studeer aan die universiteite Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Leuven. In 1989 word ’n DLitt aan hom toegeken vir ’n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Hy was ’n literêre programmaker by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK en is deesdae ’n voltydse vertaler en digter. Sy jongste digbundel, Openbare domein, het in 2018 verskyn. Hy het reeds meer as vyftig boeke uit Nederlands en Engels vertaal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee keer bekroon vir sy vertalings uit Nederlands, naamlik vir Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn.
Die bundel is saamgestel uit ‘n verskeidenheid digters se gedigte. Tot my teleurstelling is daar slegs enkele dames ingesluit in die bundel. Dis uitgegee in 2000, so uiteraard is daar ‘n oorhoofse tema van vroeë 2000’s Post-Apartheid Afrikaner angs - oor identiteit, oor terreur en geweld en die uitwissing van Afrikaans en die ‘Nuwe Suid-Afrikaanse’ realiteite. Soos armoede en geweld en bedelaars en townships en en en - Dit het my nie aangestaan nie. Ek verstaan dit reflekteer die digters vd tyd se kommernisse en hulle was regtig oortuig dat hulle iets regkry deur die waarheid te spreek wat almal anders te bang is om hardop te sê. Die waarheid is dat townships voor die Nuwe Suid-Afrika bestaan het, die mense is net vasgekeer daarbinne, die bedelaars is arm want die sisteem was nog altyd teen hulle, die geweld en dwelms was nog altyd daar - jy het net die gemak gehad om dit nie te aanskou nie, om nie te aanskou wat die gevolge is van die sisteem wat jou so bevoordeel het nie.
Teenoor Ingrid Jonker se ‘Die Kind Is Nie Dood Nie’ is dit moeilik om nie hierdie bundel skeef aan te kyk nie. Daar is baie min begrip, baie min objektiwiteit en baie min joy en hoop wat ek wens daar kon wees rondom ‘n nasie se unification. Veral nou, 23 jaar later, met die Bokke wat ons almal so bind, met ons Suid-Afrikaanse humor en kultuur, is die bundel net ‘n herinnering van hoe ver ons gekom het.
Daar is goeie gedigte. Daar is waardige, relevante temas wat jy sekerlik steeds kan raaksien in moderne digkuns. Veral die gedig oor die plaasmoord was vir my treffend, juis omdat ek grootgeword het op ‘n plaas met ‘n gameplan in my kop van wat ek gaan doen om myself of mt gesin te red ‘wanneer’ ons aangeval word. Ek was wel bewus, as ‘n kind, dat my menslikheid en geliefdes vreeslik kwesbaar is. Ek was ook bly om Kaaps-Afrikaans al so vroeg in ‘n bundel raak te lees. Dis refreshing en maak my opgewonde oor die vooruitsig van die Kaaps-Afrikaanse woordeboek wat een van die dae uitkom. Ek waardeer ook die gedigte wat noem en handel oor die bendes, juis omdat ek tans navorsing doen oor Suid-Afrikaanse bendekultuur.