Een voet innie kabr is 'n Afrikaapse kortverhaalbundel, polsend met Kaaps-Maleise invloede. Jy hoor die klanke van dié gemeenskap, musky en soet soes ryke yt die Jannat. Gaireyah Fredericks se debuutbundel kry dit reg om gemarginaliseerde karakters en vertellers op die voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample lappe, maatband en pen. Die pyn van 'n vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Marielda. En dan is daar is oek Ghoemeira wat tradisionele waardes met moderniteit moet versoen. In dié wêreld wat Fredericks oepskryf, bestaan die Moslemgeloof saam met bygeloof en drome. Gaireyah Fredericks se bundel verryk die Afrikaanse letterkunde se skatkis.
Wanneer taal uit die hart kom, is dit meer as net klanke waarmee gekommunikeer word; dit sing ‘n melodie, dit het ‘n aardse reuk, dit is kleurvol en multi-dimensioneel, en bekoor al die sintuie. Ronelda S. Kamfer het dit met Kaaps gedoen in ‘Kompoun’ (Kwela, 2021) en nou neem Gaireyah Fredericks dit verder met Kaaps-Moslems in hierdie bundel.
Op die oog af is dit ‘n bundel kortverhale, maar die oplettende leser sal die goue draad wat die karakters saambind raaksien. Die narratief is die van gewone mense, hulle wat dikwels misgekyk word, wat ewe onopgemerk lewe en sterwe, maar wie se drome, vrese, pyn, ontnugtering, irritasies, en menswees met empatie, insig, en humor deur die skrywer oorgedra word.
Die karakter wat weier om die leser te verlaat, selfs na die laaste bladsy toegemaak is, is die ma wat haar tweelingbaba’s verloor. Hulle het name gehad, Zackareyah en Zaghrah, een in ‘n blou kombersie en een in ‘n pienke. Reeds tydens die kraamproses onthou sy die gesegde: ‘Asse vrou geboorte gie, staan sy met een voet innie kabr (graf).’ (26) En, soos wat die onnoembare ‘n werklikheid word, verwoord sy haar onvermoë om die ervaring te beskryf as ‘Mens kyk narie skerm en voel woore beur op yt jou krop, maar mens se lippe is gesuperglue.’ (31) En dan, wanneer hulle uiteindelik ‘kinnes vannie Jannat (hemel) is, die enkele versugting: ‘Ja, Allah, ek is desperate. Ek’s tevrede Allah, maa nog net éénkee – nog éénkee wil ek hulle vashou.’ (10)
Ewe aangrypend is die beskrywing van lyksversorging uit die perspektief van die mayet (oorledene): ‘…even my naam het weggeval. My naam is nog voo my begrawe.’ (13); die kleindogter wat haar donker geheim net as ‘n droom met haar geliefde Bapa (Oupa) kan deel, want hy is al wat sy as opreg in haar lewe ervaar: ‘It ryk soes hy, asof dai sy fragrance is, nie ‘n manufactured smell nie.’ (47) en ‘n jongste seun se begeerte: ‘Maar ekkit verlang dat Boeya (Pa) my moet raaksien.’ (101)
Humor word selfs in die mees onwaarskynlike situasies gevind. ‘n Gasvrou, sat vir ‘n vraatsugte gas, kla dat hy ‘Vries soesa vark wat se vinges oek tanne het.’ (22); ‘n rowwe buurt laat die deurganger besef ‘Hie wôd jy hat gemoer as jy dink jy’t ‘n opinion’ (94); ‘n kind wat drooggemaak het sê ‘…is asof my holbanke êrens die dodemars kan hoo speel… en ek rykie gallows’ (135) en ‘n dogtertjie spog ‘My een antie drai ôs girls se hare in met nat newspaper twisties vir salon quality bokdrol-krulle.’ (145)
Die skrywer se vermoë om evokatiewe beskrywings op te tower, is wat my waarskynlik die langste van hierdie bundel sal bybly. Daar is baie wat blywende indrukke gemaak het, maar die een van Gaidien, die snyer, is ‘n onbetwiste hoogtepunt: ‘Jy sal hom altyd kô kry innie tailored, double-breasted peak lapel-suit met matching v-neck onnebaatjie, krysbanne, enne high-crown fedora… Dai is hy, ‘n statige Maleise tailor.’ (116)
Hierdie aanhaling is geneem uit die bydrae getiteld ‘Alterations’ waarin ironie ‘n groot rol speel. Gaidien is ‘n waardige, uiters bekwame man. Sy kliënt skroom nie om hom te vertel hoeveel geld hy aan sy hond se besoek aan ‘n salon spandeer nie, maar het die vermetelheid om te vra: ’Jy’s seker nie te duur nie, né?’ (119)
Jy sal die Maleise tongval tussen die bladsye hoor, die kardomon en koesisters ruik, en vergange dae met ‘n onverwagte helderheid onthou.
It was as if the writer thought: 'How many different languages can I fit into one sentence.' Poorly written. Too much focus on the mixture of languages that most of the stories do not even make sense plot wise. So many better written Kaaps books. Sad that this is getting all the Afrikaans awards. Seems like awards in SA are becoming political and not based on merit.
This was beautiful. I struggled at times with the Kaaps, but once you get the rhythm, the text flows. I've never read anything like this and it was refreshing.