Die elemente van 'n vuur is suurstof, hitte, brandstof, en 'n chemiese reaksie. Wat is die elemente van die apokalips? Wolk, Roet, Vuur, en 'n chemiese reaksie? Die noodlot het Rufus en Xandr van mekaar geskei. Rufus is op 'n skip iewers op die Indiese Oseaan terwyl Xandr veg om oorlewing in 'n wêreld wat deur die wolk vernietig is. Al wat hy het is Flip die hond en 'n rooi Mazda Midge. Gerugte van 'n toevlugsoord word Rufus en Xandr se enigste strewe: Vind mekaar, vind skuiling en ... wat dan? Hulle is lankreeds nie meer net vriende nie, is hulle? En hoe lank kan mens in elk geval oorleef as alles skynbaar deur vuur verteer is? Die kanse om mekaar te vind is egter skraler as om vars water te vind, veral as jy gekonfronteer word deur mense wat absoluut enigiets sal doen om te oorleef Hoop is vinnig besig om agter 'n sluier van roet te verdwyn, nie net vir hulle nie, maar vir alles en almal. **Die eerste boek in die reeks, Wolk, verskyn in 2020**
Hannes Barnard is die jongste van drie broers en die seun van ’n dominee. Tussen 2002 en 2012 is hy woonagtig in Engeland, waar hy meestal as projekbestuurder vir ’n konstruksiemaatskappy werk. Ná dit het hy vir twee jaar in die Seychelle gewerk. Hy en sy vrou keer terug na Suid-Afrika in 2017, waar hy nou voltyds fokus op sy skryfwerk. Halley se komeet is sy debuutroman.
Enkele weke gelede het ʼn klein vonkie op die verkeerde tyd en plek blitsvinnig ʼn verwoestende veldbrand in my wêreld geword. Die wind was stormsterkte, daar was ʼn tekort aan water, digte rook het sig belemmer, en die onstuitbaarheid van die vlamme was soos iets uit ʼn rampfliek. Dae later het stompe nog gesmeul, rook het plek-plek steeds gehang, alles was vol roet en as, en die reuk…… Dit was oral.
Die karakters in hierdie roman verkeer in ʼn soortgelyke, maar veel rampspoediger ruimte. Die aarde is grotendeels verbrand en verwoes; oorlewendes veg nie net onderling wat kos en water betref nie, maar ook teen moorddadige vigilantebendes; ʼn digte rookwolk versluier alles; geliefdes is vermis, vermoedelik dood; en niemand weet wat die toekoms inhou nie.
Gerugte van ʼn veilige toevlugsoord word agter bak hande gefluister. Xandr, in ʼn moedige rooi Mazda Midge, vergesel deur die viervoetige Flip, probeer sy weg baan na Ithala. Die skip waarom Rufus haarself in die Indiese oseaan bevind, is op pad na dieselfde bestemming.
“Vuur” is die slot van ʼn trilogie wat volg op “Wolk” (2020) en “Roet” (2021). Die formaat is soortgelyk aan die voorgangers: Die hoofkarakters wissel mekaar af in die eerste persoon-narratief en die tydperk gedek is relatief kort. Die tempo is blitsig en die dialoog – veral die interne monoloë – vermaaklik en humoristies. Xandr se aweregse sin vir humor verlig deurgaans die spanning. Terwyl hy ʼn malkop met ʼn mes probeer ontvlug, beskryf hy sy ontwykingstegnieke as “…soos ʼn dronk ou op soek na sy karsleutels in ʼn bos.” (21)
Die hart van hierdie roman word egter gevind in die deernis waarmee Xandr en Rufus se verhoudingsontwikkeling beskryf word. Daar is die onsekerheid van ʼn lewenslange vriendskap wat dreig om ʼn romantiese rigting in te slaan, gepaardgaande met die vrees dat dit die hele verhouding kan vernietig. Die tieners se angstigheid en gemoedskommelings word met soveel begrip en outensiteit oorgedra dat dit die leser onwillekeurig by die dilemma betrek.
Een van die mees aangrypende tonele speel egter af wanneer karakters hulleself, en die leser, met die vraag konfronteer: Wat doen ek met die laaste paar uur van my lewe?
“Vuur” is wel die slot van ʼn trilogie, maar kan alleenstaande gelees word, en is ʼn aanwins vir die distopiese fiksie-genre vir tieners.
Ek is intens dankbaar dat ek nie hoef te kies tussen Wolk, Roet en Vuur nie. Ek is nie ’n kenner of besonder groot aanhanger van distopiese fiksie nie, maar hierdie drie boeke van Hannes Barnard tel beslis onder ván my gunsteling boeke vir jong volwassenes – jonges van alle ouderdomme, wil ek byvoeg. Vuur, die derde spannende aflewering oor Rufus en Xandr se wedervaringe nadat die vernietigende wolk hulle in ’n grot vasgekeer het, het my besonder gretig laat lees. Dit was dalk net die wete, of die hoop, dat dinge uiteindelik redelik goed sal uitdraai, wat gekeer het dat ek sommer vroeg-vroeg my naels begin kou het. Dit was maklik om weer die drade op te tel nadat die twee hoofkarakters van mekaar geskei is aan die einde van die vorige boek en die spanning was dadelik weer daar en strykdeur volgehou. Die patroon van afwisseling tussen die eerstepersoonvertellers, Rufus en Xandr, word met sukses voortgesit. Die desperaatheid van hulle situasie blyk uit opmerkings soos: “Ons almal is tot ’n mate deur die wolk verbrand – en is deel van die wolk. My voete is geanker in die vernietiging wat stadig teen my bene opkruip en my kort voor lank in as sal verander.” (p. 106) Dit is Rufus se woorde. Xandr is nie minder uitgemergel nie: “Dalk is ek net moeg vir soek. As jy vind wat jy gesoek het, word soek onbenullig. Maak nie saak hoe lank die vinddeel hou nie. (p. 186) Die verskrikking van die karakters se situasie word tot ’n mate getemper deur fyn humor, meestal by monde van Xandr. “Julle lyk na ordentlike mense,” skop ek diep vir tyd, soos die rugbyafrigters altyd gesê het.” (p. 72) Die storielyn is ’n vernuftige vermenging van wetenskapsfiksie, apokaliptiese verbeelding en ’n mooi liefdesvehaal van twee jong mense wat baie eerstes gedeel het, behalwe die belangrikste een wat hulle nog ontwyk. Lees gerus die hele reeks in volgorde as jy kan. Dit sal die tyd werd wees, maar daar is genoeg verwysing na die voorafgaande gebeure sodat Vuur selfs op sy eie waardeer kan word, ten spyte van ontbrekende detail.