Die verstommende storie van ’n sakelegende wat een van Afrika se welvarendste maatskappye uit niks opgebou het. Wat was Anton Rupert se geheim? Sy sienings oor die skepping van werk en welvaart in ’n sukkelende ekonomie, is sy blywende nalatenskap met diepgaande lesse vir Suid-Afrika vandag. Sy storie is meer relevant as ooit. Hier vertel die gesoute sakeskrywer Ebbe Dommisse die volle verhaal, met kleur en anekdotes, in dié opgedateerde uitgawe van sy hoogaangeskrewe biografie van Rupert.
Die woorde was op ʼn eenvoudige graniet grafsteen: “In daardie dae was daar reuse op die aarde.” Die oorspronklike konteks is natuurlik Genesis 6, maar dit was ʼn duidelike verwysing na die invloed van die ontslapene, wie dit ook al was. En dis die eerste beeld wat homself aanmeld wanneer Anton Rupert se naam genoem word: ʼn reus op verskeie terreine.
Die eerste uitgawe van hierdie lywige biografie het reeds in 2004 verskyn. Die 2024-uitgawe is, in die skrywer se woorde in die voorwoord, verwerk om by veranderde en veranderende tye aan te pas; minder relevante dele is verkort, en relevante dele is opgedateer. Die merkwaardige geskiedenis van die Karooseun wat tydens die Depressie jare die volwasse lewe betree het, en sy sakeryk met ‘n nederige droogskoonmakerbesigheid begin het, is volgens onderwerp, eerder as streng kronologies ingedeel, en open met sy vormingsjare, gevolg deur sy loopbaan as sakeman, wat die grootste deel van die publikasie beslaan, sy invloed as weldoener, asook ‘n bondige samevatting van sy sakebeginsels en lewensfilosofie.
Die wye uiteenlopendheid van sy uiteindelike sakebelange en sy grootse invloed op handelsmerke herinner onwillekeurig aan die Hollandse legende van Hans Brinker, die held van Haarlem, wat ewe waagmoedig sy vingers in verskeie lekplekke gedruk het, en, teen alle verwagtinge in, suksesvol was. Minder bekende grepe uit sy veelbewoë lewe sluit in: Sy chroniese kopstampery met Verwoerd, die waagmoed om die eerste maatskappy met ‘n vrouedireksie te stig, sy betrokkenheid by die opheffing van Lesotho, en die dramatiese, maar kortstondige samewerking met Louis Luyt, waarvan die ironie die skrywer nie verbygaan nie: “Rupert is die onbetwiste heer onder Suid-Afrikaanse sakelui. Daarenteen is Luyt ‘n sakeman-politikus wat homself as ‘n bierdrinkende straatvegter beskryf.” (229)
Sy persoonlike lewe word ingesluit met verskeie komiese staaltjies afkomstig van sy geliefde Huberte, wat tong in die kies opgemerk het dat sy Duits eintlik “Afrikaans met ‘n gepoogde Duitse uitspraak” (205) was. Die pyn van die afsterwe van ‘n kind, naamlik hulle jongste, Anthonij, wat op 28 Oktober 2001 in ‘n motorongeluk oorlede is, word ook met die nodige deernis en respek vertel.
‘n Interessante vraag deur die skrywer “Wat sou gebeur het as hy die politiek betree en ‘n leiersrol vervul het?” (396) word wel spekulatief, maar met motivering vir die vermelde moontlikhede bespreek. En juis nou, in die dae wat twee omstrede stukke wetgewing onderteken is, verskaf ‘n stelling wat hy reeds in 1981 gemaak het, steeds stof tot nadenke: “Ons het te veel burokrasie, administratiewe wette en regulasies.” (277)
Visioenêr, filantroop, en sakeman, ‘n reus in vele opsigte.
Anton Rupert – die lewe van ‘n sakelegende Ebbe Dommisse 8/10
“Teach a man how to fish, and you’ll feed him for a lifetime.”
Ek het al van Februarie aan hierdie boek probeer werk – nie omdat dit vervelig is nie, maar juis omdat dit jou volle aandag vra én verdien. Die lewe het intussen gebeur, maar uiteindelik het ek vasgebyt. Die laaste 200 bladsye het ek binne ‘n week klaar gelees, teenoor die eerste helfte wat my maande geneem het.
Hoe kom mens nou by só ‘n boek uit? Ek sit eendag met vriende in ‘n koffiewinkel, en iemand noem Rupert het een van die eerste direksies in SA met slegs vroue saamgestel. Dit het dadelik my belangstelling geprikkel. Belangrik om te noem – dis nie ‘n boek oor vrouebemagtiging nie, en moet ook nie só gelees word nie. Dit weerspieël eerder die tyd waarin hy geleef het.
Ek het Rupert altyd gekoppel aan geld – ons het in my eerstejaar ‘n taak oor Remgro gehad – maar ek het nooit geweet wie hy regtig was nie. Dié boek wys egter ‘n man wat nie net rykdom nagestreef het nie, maar werklik ‘n beter wêreld wou agterlaat. Sy sukses was die gevolg van gefokusde doelwitte, persoonlike dissipline, en ‘n waardestelsel van integriteit, eerlikheid en lojaliteit. Hy het geglo: as jy passievol is oor iets, móét jy jou moue oprol en werk daaraan.
Die boek is pragtig geskryf in Afrikaanse taal – uitdagend, ja, maar ook ‘n vreugde om in dié taal te lees. En gegewe Rupert se trots in Afrikaans, is dit eintlik die enigste regte manier om dit te lees.
Wat my die meeste verras het, was hoeveel ek oor Suid-Afrika se geskiedenis geleer het. Om sy storie te verstaan, móét jy die konteks verstaan waarin hy gewerk het.
My ma vra: “Is al die antwoorde in daardie boek?” Ek weet nie, maar baie daarvan – beslis!
‘n Inspirerende leeservaring wat jou lus maak om self te begin woeker – en jou herinner aan die rykdom van Afrikaanse kultuur. Ek’s bly ek het dit gelees.