#kompoun - Ronelda S Kamfer
#kwela
#NBUitgewers
‘Compound (noun): A thing that is composed of two or more separate elements; a mixture…’
Nadia en haar nefie Xavie (Xavier) word, saam met ‘n swetterjoel ander niggies en nefies, in die Overberg grootgemaak deur hulle Ouma, Sylvia McKinney. Hulle hele familie gaan losweg met die waarheid om, maar Ouma is ‘die stammoeder van lieg’. Uit ‘Wees careful van mense wat sê hulle wil nie meer lewe nie’ op p.150: ‘Sammy het my ouma se geliegtery aangeleer….. As jy ‘n streep deur my ouma trek, sal Sammy ook platval.’
Deur middel van eerste persoon narratief (meestal deur Nadia, maar soms ook deur Xavie) probeer hulle die brokstukke van hulle kinderlewe las in ‘n poging om sin van die geheelbeeld te maak. Uit ‘Stillborn’ op p.166: ‘Toe ek gebore is, was ek dood vir ‘n paar minute. Volgens Ouma was dit daai tyd wat die duiwel my teruggestuur het.’
Die roman bestaan uit kort, individueel getitelde, hoofstukke wat nie noodwendig chronologies volg nie. Die vertellers deel ‘n verhaal van geweld, alkoholmisbruik, selfdood, dwelms. armoede en misdaad, maar ook van medemenslikheid, familiebande en lojaliteit. Die taal is dié van die Overberg, nie Kaaps-Afrikaans nie, maar uniek aan die streek. Uit ‘Pink Freud’ op p. 161: ‘Sammy is my worst tipe mens…. As sy saam met my praat, kry ek daai dreuning in my kop wat mense in films kry net voordat hulle omkap…’
Die roman is verruklik-pragtig; elke woord is deurdink en afgemeet, soos goeie poësie. (Die skrywer is ‘n befaamde digter en hierdie is haar debuut roman.) Uit ‘Inheritance’ op p.121: ‘Hulle is bang ons huil te veel, of ons is te sad oor Tash. Ons moet in die kerk gaan wag saam met vreemdelinge, sodat die grootmense vir Tash kan begrawe en sommer ons sadness ook.’
Party byname (Edward wat ‘Empty’ word en Raine wat ‘Rustig’ word) en insidente word met soveel amusante detail beskryf dat die leser as’t ware die prentjie kan sien. Uit ‘Oek ma lekke violent’ op p.150: ‘Nadia spring op en gryp vir Sammy aan die nek en druk haar teen die muur vas. Sammy lyk soos ‘n painting wat skeef hang teen die muur.’
As die karakters van Bettina Wyngaard se ‘Troos vir die gebrokenes’ in Pieter P. Fourie se ‘n Hart is so groot soos ‘n vuis’ - styl aangebied sou word, sou dit min of meer soos hierdie roman vertoon. Dis ‘n asemrowende debuut wat sonder twyfel saam met my ouetehuis toe sal gaan. Aanbeveel vir lesers wat bovermelde twee romans waardeer het.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek