Jump to ratings and reviews
Rate this book

Bloedsomer

Rate this book
Petunia Moraleng, voormalige stasiebevelvoerder op Parys, is haar rang kwyt en oorgeplaas Mooibaai toe. Vroeg in Desember word die oorskot van twee jong vroue ontdek en oornag bevind sy haarself as die hoofondersoeker in ’n raaiselagtige moordsaak.

Wat het Die Clowns, ’n Russiese skeepskaptein en die matriag van die vooraanstaande Heemstra-familie se testament gemeen? En waar kom die albaster in die eerste slagoffer se hand vandaan?

304 pages, Paperback

Published February 27, 2024

23 people are currently reading
34 people want to read

About the author

Sidney Gilroy

8 books22 followers
Sidney Gilroy is ’n projekbestuurder en digitale spesialis wat sedert 2015 deeltyds as stokperdjie skryf. Hy woon in Reebok, Suid-Afrika saam met sy kat.
~
Sidney Gilroy is a project manager and digital specialist who has been writing part-time as a hobby since 2015. He lives in Reebok, South Africa with his cat.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
46 (39%)
4 stars
41 (35%)
3 stars
23 (19%)
2 stars
4 (3%)
1 star
2 (1%)
Displaying 1 - 11 of 11 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,493 reviews85 followers
March 8, 2024
#Bloedsomer – Sidney Gilroy
#HumanEnRousseau

Nie almal wil ʼn huisie by die see hê nie. As jou siel verknog is aan die Vrystaatse vlaktes, is die blou eenvoudig oorweldigend. Veral as jy teen jou sin en as straf vanuit jou geliefde heimat in die binneland na die kus moet verskuif. Petunia Moraleng is nie beïndruk met Mooibaai nie. In Parys, Vrystaat, was sy ʼn kaptein in die polisie, naby haar mense. Nou is sy ʼn intreevlak-konstabel in Mooibaai. Dis Desembervakansie, maar sy moet werk, sy sukkel om bekostigbare verblyf te kry, haar probleem-knieg haal streke uit, dis onbeskof warm, haar senior, speursersant JP Hendricks, se energie – asof met ʼn gloeiende stuk houtskool in die hol – is uitputtend, en twee verminkte lyke verdryf die laaste silwer randjie van haar donker wolk.

Spannings- en speurverhale gooi gereeld vals leidrade in die rigting van die leser. Hier is dit nie die geval nie, inteendeel: Die leidrade is almal relevant, maar so uiteenlopend dat dit enige volbloedleunstoelspeurder na ʼn notaboek sal laat gryp om diagramme te begin teken. Want om ʼn gevalle speurder, ʼn huis vir haweloses, ʼn grotbewoner, ʼn rykmanseun, ʼn Russiese skeepskaptein, ʼn gevreesde bende met die misleidende naam ‘Die clowns’, ʼn vermiste testament, en ʼn grillerige pastoor met mekaar te verbind, vereis vernuf.

Die spanningslyn bly snaarstyf, tydspronge en perspektiefwisselings verseker volgehoue aandag en die geleidelike ontknoping neem soos ʼn legkaart vorm aan. Die roman het egter veel meer om die lyf as ʼn sterk spanningselement. Subtiele humoristiese beskrywings, soos “Dominee Robertson is ʼn kort man wat lyk asof hy die bolaag van sy bleskop in ʼn tragiese insident met ʼn plat graaf verloor het.” (83) verskaf deurentyd vermaak. Fyn spel met die leser is eweneens ʼn bron van pret; ʼn anagram word baie subtiel en akkuraat aangewend om ʼn groter prentjie te vergestalt en die voornaamkeuses van twee terloopse helde, naamlik Fanie en Melanie, herinner aan die eertydse Huisgenoot-hulpartikels met dieselfde naam.

Twee beskrywings, een van ‘n bejaarde surrogaatpa wat met groot sorg kerrie-afval en stampmielies op ʼn geleende gasstofie kook, en die ander die van ʼn dogter wat vir oulaas by haar sterwende ma waak, is knop-in-die-keel evokatief en verleen addisionele diepte aan die teks. Relevante eietydse temas verseker outensiteit: korrupsie, mensehandel, ʼn gebrekkige regsisteem, huishoudelike geweld, seksuele misbruik en bendeaktiwiteite speel ʼn sentrale rol.

Daar kan hare gekloof word oor klein jakkalsies. Wanneer ʼn perseel deursoek word, word ʼn visenteringslasbrief benodig, nie ʼn beslagleggingsbevel nie (145) en dissosiatiewe identiteitsversteuring is nie ʼn wisselvorm van skisofrenie nie (261) maar dit doen geensins afbreuk aan die leesgenot nie.

Die skrywer het as spanningsverhaalskrywer bekendheid verwerf met Sollie Mthembu as hoofkarakter. In hierdie roman is Petunia aan die stuur. Die vraag kan dus gevra word of Sollie, geliefd soos wat hy is, se raklewe verby is. Hierdie leser dink nie so nie. Internasionaal het Michael Connelly ‘n soortgelyke roete gevolg met Harry Bosch en Mickey Haller, en plaaslik ook Rudie van Rensburg met Kassie Kasselman en Carl Bester. Petunia Moraleng se storie is nog lank nie klaar nie, maar Sollie Mthembu sʼn ook nie. NB-Uitgewers/Publishers

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
Profile Image for Sonja Arlow.
1,238 reviews7 followers
June 22, 2024
Hierdie is my 4de boek van Sydney Gilroy en ek reken dis my laaste een.

Die storie het al die elemente om dit n interessante speur verhaal te maak met n vroue hoofkarakter wat die speursaak aandryf, maar tog moes ek myself dwing om die storie klaar te maak.

Ek voel asof Petunia maar enige polisie karakter kon wees – sy het, tot my spyt, niks nuuts aan die storie geleun nie. Meeste van die karakters was baie steriotipies en die daar was nie plek gelos vir enige spanning of verraassings nie want mens weet baie gou waar die storie heen mik.


Profile Image for Salomé Kotzé.
227 reviews8 followers
March 24, 2024
Misdaadfiksie soos net Sidney kan skryf... lekker langnaweek leesstof. Hier en daar wel bietjie dik vir ń daalder. Konstabel Petunia het my verbaas met haar avonture, seer knie en al. Maar dis fiksie, so wie gee om?
Profile Image for Rina Coetzee Gous.
146 reviews8 followers
March 23, 2024
“Bloedsomer” – Sidney Gilroy
Afikaans (en ek) het ‘n nuwe gunsteling speurder! Petunia Maroleng is ‘n wonderlike karakter wat Sidney Gilroy vir ons geskep het en in “Bloedsomer” wys sy haar staal. Ons het Petunia in “Vlam” leer ken – nie heeltemal as die mens wat ons weer in “Bloedsomer” raakloop nie. Dit is wat tronkstraf kan doen. Mooibaai, ver van haar geliefde Vrystaat, is waar sy haarself sal moet bewys. Die slaperige vakansiedorpie word wakker geruk deur die moord op twee jong vroue en Petunia en haar nuwe spanmaat JP word getaak met die oplos van die moorde. Maar hierdie twee moorde is maar net die bokant van die ysberg van ‘n internasionale operasie van afgryse.
‘n Heerlike span nuwe karakters vul die bladsye van die boek. Sommige van hulle wek ‘n teerheid in jou – soos Monya en ander, soos Jakes, vul jou met weersin. Maar dit is juis die diepte wat in meeste van die karakters geskep is wat my opgeval het in die boek. Niemand is regtig eenvlakkig nie en in almal skuil die menslikheid wat in elkeen van ons is. Die Arno karakter is natuurlik geweldig interessant op sy eie en wys by uitstek die speling tussen die goed en kwaad.
Die baie resente temas van mensehandel en orgaandiefstal word duidelik ondersoek Die kwessie van die massas haweloses vorm die spilpunt waarom alles draai. Die ingewikkelde werking van families en die skade wat geheime in families veroorsaak word ook duidelik ondersoek, Die knap teenstelling wat die skrywer stel tussen die twee vader figure van Boetiger Heemstra en Oliver Moraleng, Petunia se instaan pa, het my opgeval en is ‘n hoogtepunt in die boek.
“Bloedsomer” is soos ‘n Pretoria donderstorm – dit broei lank en bedompig en bars uit met ‘n hengse geraas, donderweer, weerlig en sommer hael in ‘n ontknoping wat ver buite jou verwagtinge is. Beide Petunia en JP bewys hul staal as speurders en dienaars van die gereg wat ander voor hul stel. Die soort SAP personeel wat ons almal graag glo bestaan nog. Dit is ‘n voortreflike krimi wat alle verwagtinge oortref het – selfs as was hulle hemel hoog na Gilroy se drie vorige boeke.
215 reviews12 followers
July 21, 2024
Die eerste klomp hoofstukke was moeilik om te lees met al die inligting oor die verskillende deelnemers aan die hele verhaal. Gelukkig het die storie later begin om rigting te kry. Die skrywer ken van taalgebruik en mooi beskrywings waarvan ek gehou het. Dis egter nie een van my beste speurverhaal wat ek al gelees het nie
Profile Image for Roelia (Roelia Reads).
419 reviews1 follower
July 26, 2025
Sidney Gilroy se Bloedsomer is ’n intense, atmosfeerryke Suid-Afrikaanse misdaadroman wat jou vaspen van die eerste bladsye af. Petunia Moraleng – degradéerde speurder en voormalige stasiebevelvoerder – bevind haarself in die stranddorp Mooibaai waar die oorskot van twee jong vroue ontdek word. So begin ’n ondersoek wat nie net haar vermoëns toets nie, maar haar hele menswees.

Wat hierdie verhaal onderskei, is hoe wyd én diep dit delf:

- Die verhaallyn bly snaarstyf, met leidrade wat ’n ingewikkelde, boeiende legkaart vorm.
- Karakterontwikkeling is uitstaande – van Petunia se kompromieë en herinneringe tot die bisarre, intense figuur van Arno, wat die leser laat weeg tussen goed en kwaad.
- Gilroy se skryfstyl is pittig, beeldryk en eerlik, met beskrywings wat óf laat lag óf 'n knop in die keel vorm.
- Die roman ondersoek aktuele temas soos mensehandel, korrupsie, geestesgesondheid en die skemerkant van familiegeheime.

Hoewel die eerste paar hoofstukke met karakters en inligting oorlaai voel, neem die verhaal vinnig vorm aan. Vir my was dit 'n stewige, vermaaklike lees vol genuanseerde oomblikke en 'n onvergeetlike protagonis. Alhoewel, oor die algemeen, ek nie 'n groot aanhanger van 'n "gesplete persoonlikheid"/ dissosiatiewe identiteitsteuring storielyn is nie, het die ander elemente goed gewerk. Dit is my eerste Sidney Gilroy boek, sien uit daarna om meer te lees.

🎧 Gedeel as Netwerk24 se Luisterboek van die maand (Julie 2025), werk Bloedsomer uitstekend in beide formaat – gelees of geluister.
Profile Image for Marinda Koleva.
43 reviews6 followers
June 3, 2024
As Bloedsomer 'n fliek was het dit net op video uitgekom. In vergelyking met sy vorige boeke is hierdie 'n totale teleurstelling. Die karakters is vlak, onoortuigend met min of geen persoonlikheid. Sulke clichés! Petunia was in die tronk en sy is steeds in die polisie? Ek weet dis Suid Afrika, maar rêrig! Maar moenie worry nie, dis nie al nie! Sy kan 'n straler land. Weereens: rêrig!?
Daar was soveel goed wat my op my tande laat kners het. Mnr Gilroy moet sy proefleser en redakteur ernstig aanspreek. "KnieG" was die irriterendste een. Ek weet dis 'n wisselvorm maar "knie" is die meer aanvaarbare variant. Daar was sinne wat ek verskeie kere moes lees omdat dit net nie sin gemaak het nie.
Ek kan nie my teleurstelling in woorde uitdruk nie. Die eerste drie boeke was goed geskryf met lekker Suid Afrikaanse stories en oortuigende karakters. Ek sal nie weer een van Sidney Gilroy se boeke koop nie.
Profile Image for Trisa Hugo.
Author 10 books34 followers
March 15, 2024
Hierdie is nou regtig meesterlike misdaadfiksie. Nie dat ek 'n kenner is van die genre nie, maar ek het nooit gevoel of Sidney Gilroy met my as leser speletjies speel om my op dwaalspore te lei nie. Sy karakters is so goed gedoen en sy skryfstyl heerlik vermaaklik, al is dit 'n ernstige temas.

Selfs die uiters relevante onderwerp van genadedood wat nou wye publisiteit kry, word vlugtig aangespreek

Ek het die Sollie Mthembu reeks geniet, maar ek sien uit daarna dat Petunia binnekort 'n knievervanging kry, sodat Sidney vir ons 'n opvolg kan skryf. Hopelik sal sy haarself dan ook weer opwerk na haar vorige rang.

Profile Image for Wena.
363 reviews1 follower
May 12, 2024
'n Heerlike musdaadroman!
Profile Image for Amanda.
1,156 reviews
June 10, 2024
Anders as by die romanse, waar daar gewoonlik naas die twee hoofkarakters, dalk ’n antagonis betrokke is en hoogtens ’n paar randkarakters, leen die spanningsverhaal of krimi, hom uitstekend daartoe om ’n uitgebreide karakteraanbieding te hê. Bloedsomer illustreer hierdie stelling deur en deur. Petunia is ’n nuweling op Mooibaai, en saam met JP maak hulle die kern uit van die wetstoepassing op die dorp. Maar dan is daar ’n breë spektrum van rolspelers, wat insluit die vooraanstaande Hiemstra gesin, hulle werknemers, bendes, selfs Russiese seëlui.
Die verhaal is goed geposisioneer in ’n relevante tydsgees, in die nadraai van die pandemie, die bendeaktiwiteite in die Suid-Kaap, die altyd toenemende haweloses, en die oorlog in Oekraïne. Geestesgesondheid kom ook onder die loep, met ’n belangrike karakter wat manifesteer met dissosiatiewe identiteitsversteuring.
Die komplot is nogal bisarre, maar uiters boeiend. Die gestroopte taalgebruik van die skrywer maak dit maklik om bladsy na bladsy byna moeiteloos te verslind. Stellings soos: “Voorheen was daar ’n druptoestel, maar haar ma se are het onder die veloppervlak verdwyn en na binne gevlug. Amper soos haar teenwoordigheid wat nou êrens agter haar dowwe oë skuil.” (p. 228 van die e-boek), onderstreep die feit dat Sidney Gilroy ’n puik skrywer is, een wat ek nou eers ontdek het.
Die afloop van die krisisgebeure, en spesifiek die optredes van Petunia en JP, wou vir my onrealisties voorkom, totdat ek besef het dat mens neig om te meet aan televisie en film, waar swat-spanne soos vanuit die niet verskyn en situasies ontlont. Trouens, Petunia herinner haarself dat daar geen hulp op Mooibaai of omstreke beskikbaar is nie.
As ’n krimi jou koppie tee is, kan jy gerus belê in hierdie een.
Bloedsomer is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.
Displaying 1 - 11 of 11 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.