#AlWatTel – Irma Venter
#Tafelberg
In my prille jeug het ʼn uiters flou grappie oor ‘n geheimsinnige tellery rondgeswerf. Dit was so vervelig dat ek basies net die slot kan onthou: Dis die kwaliteit wat tel. Die titel van hierdie roman het my weer daaraan herinner, maar verder is daar geen ooreenkoms nie; niemand kan Ami Prinsloo se nuutste manewales as flou of vervelig beskryf nie. En dit tel.
Ami, voormalige swemkampioen en nou joernalis, se romantiese aandjie word deur ‘n telefoonoproep van Kaptein Dennis Kgomotso van die Rosebank-Polisiekantoor onderbreek. Roger Brooks, sinoniem met die sakereus Tower Poperties, is koelbloedig op straat doodgeskiet. Reg voor die gimnasium waar Ami gereeld swem. ‘n Paar dinge krap. Roger se peperduur horlosie is van sy arm af gesteel, maar die modus operandi wyk heeltemal van die sogenaamde Rolex-bende se werkswyse af. ‘n Polisiebeampte verwyder ‘n bewysstuk onregmatig. Die blondine by Roger was nie sy vrou nie. ‘n Fluitjieblaser en ‘n Duitse joernalis se tussenkoms krap ‘n nes van onheil oop wat lei tot wilde jaagtogte, ‘n klandestiene besoek aan ‘n verlate skuur in Mosambiek, boomklim, en bloedspore.
Die voordele verbonde aan ‘n joernalis as ondersoeker in ‘n roman word, soos in die geval van die skrywer se vorige romans, weereens tot voordeel van die spanningslyn aangewend. Ami is nie ‘n sukkelende staatsamptenaar onderworpe aan meerderes se grille, stapels papierwerk, lang wagtye, dik reëlboeke, en die verpligte spring deur spreekwoordelike brandende hoepels nie. Aanhangers van die tong-in-die-kies anekdote dat daar drie soorte mense bestaan, naamlik die wat dinge laat gebeur, die wat kyk wat gebeur en die wat wonder wat gebeur het, sal Ami vierkantig in die eerste kategorie plaas: Sy laat dinge gebeur.
Subtiele intimiteite aangaande Ami wat in die teks verklap word, verseker dat sy steeds as karakter ontwikkel. Sy hou nie van palmbome nie, verkies mineurtone bo jazz, die euforie van spoed is in haar gene gebou, sy vrek oor koffie, gril vir slange en spinnekoppe, en weet hoe om tamatiesous effektief uit ‘n glasbottel te kry.
Die kort tydslyn, afgebaken tussen minder as veertien dae, dra by om spanning te behou, maar die roman is veel meer as ‘n ondersoekende spanningsroman. Erotiese tonele word effektief met skalkse suggestie beskryf, en die afwagting in ‘n spanningstoneel sal selfs nie-naelkouers in knaagdiere verander. Humor word ook nie agterweë gelaat nie, ‘n karakter se foutiewe aanname dat Ami beroof is weens die minimalistiese meubilering van haar woonstel, was hoogs vermaaklik.
Ami is hardkoppig, rebels, domastrant, en dikwels onverantwoordelik, maar wat tel is dat sy ook oortuigend, realisties, intelligent, en ‘n heerlike hoofkarakter is. NB-Uitgewers/Publishers
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek