Een oomblik. Twee mense. Drie skote. In 'n oogwink kan alles verander. Inneke ontmoet vir Logan op haar eerste dag by haar nuwe skool. Daar is onmiddellik 'n vonk tussen die twee. Dit neem nie lank voordat hulle dolverlief op mekaar is nie. Maar Inneke het 'n geheim. Een wat alles tussen haar en Logan kan vernietig, want sosiale media het 'n ernstige verwoestende kant. Dit stel dalk net iemand uit haar verlede in staat om haar op te spoor by haar nuwe skool. Is Inneke en Logan se liefde sterk genoeg om 'n donker geheim te weerstaan? Kan Inneke ongeskonde van haar verlede ontsnap of is dit 'n sneller wat wag om af te gaan?
Toe ek vir die Maroela Leesuitdaging soek na ’n boek wat die invloed van sosiale media op verhoudings en/of geestesgesondheid verken, het Sneller, deur Sunel Combrinck, my aandag getrek. Dit was bepaald in die kol, want dit illustreer duidelik hoe byvoorbeeld, kuberboelie-gedrag nie alleen verhoudings kan verwoes nie. Dit ruïneer reputasies, dit het die potensiaal om geestesgesondheid sodanig te ondermyn dat dit kan lei tot selfdoodpogings. Die skrywer is duidelik in voeling met tieners se leefwêreld. Groepsdruk, disfunksionele ouerhuise en drankmisbruik is ván die sake wat aandag kry en daartoe bydra dat die storielyn uiters relevant is. Sy het onder andere ook gaan kers opsteek by kenners van die LGBTQ+ gemeenskap omdat dit ook ’n rol speel in die verhaal. Die verhoudings en uitdagings van die karakters in Sneller, het die skrywer deurgaans met smaak aangebied, ook met ’n goeie skeut spanning. Ek kon aanvoel dat daar nog stryd voorlê vir Inneke en Logan, wat toe inderdaad so uitgedraai het. Sneller is uitgegee deur Lapa, en die gedrukte, sowel as e-boek is steeds op hulle webwerf beskikbaar, hoewel dit reeds in 2024 die lig gesien het.
ʼn Verandering van skool is op die beste van tye ontwrigtend. So ʼn skuif in Graad 11 van een provinsie na ʼn ander, is hoog op die trauma-skaal. Maar Inneke het nie werklik ʼn keuse gehad nie, sy moes en wou ontsnap van die etiket as “daardie meisie van Bloem” wat om haar nek gehang is. Pretoria moes ‘n nuwe begin wees, weg van die dreigende hofsaak en die sosiale media-bloedhonde. ‘n Verhouding met ‘n aantreklike matriekseun wat na homself as ‘n hunk verwys, was beslis nie op die kaarte nie.
Verhoudingromans vir jong volwassenes is relatief volop, maar weinig daarvan ontgin werklik die realiteit van tieners se storm en drang, vrese, onsekerhede, en sosiale uitdagings. Hierdie roman pak egter verskeie kwessies kaalvuis: kuberboeliegedrag, homofobie, onverwerkte trauma, seksuele spanning, hersaamgestelde gesinne, alkoholisme, selfdood, en die impak wat gewetenlose sleutelbordsoldate op die moderne jongmens het.
Die aard van Inneke se ontluikende verhouding met Logan word met deernis uitgebeeld. In skrille kontras met die gewilde “After” van Anna Todd, en vele ander, wat narsiste, rebelle en geweldenaars tot romantiese helde verhef, is die fokus in hierdie verhouding op wedersydse lojaliteit, ondersteuning, en respek – ten spyte van verskille.
Die roman word in twee stemme aangebied met Logan en Inneke beurtelings as fokaliseerders, alhoewel Inneke se binnewêreld, veral aanvanklik, met groter vrymoedigheid met die leser gedeel word. Beide karakters se verhoudings met andere verklap meer van hulle persoonlikhede en waardes as wat deur hulle eie woorde weergegee word. Inneke het ‘n besondere vertrouensverhouding met haar stiefpa, en ontferm haar oor ‘n skoolvriend, Bastiaan, se weerloosheid, terwyl Logan nie huiwer om bande met ongure karakters te knip ten spyte van die verlies aan gewildheid wat onvermydelik daarop volg nie.
Die skrywer het reeds vorige romans vir jong volwassenes op haar kerfstok, maar hierdie een wyk van die patroon af. Anders as die voorgangers wat ‘n sterk element van fantasie en ‘n dromerige atmosfeer gehad het, is hierdie werk vierkantig in die werklikheid geanker en slaan uitklophoue van die eerste rondtes af. Dis relevant, realisties en oortuigend sonder om pedanties of meerderwaardig te wees.