#DieGoorsteWeekOoitVrydag - Eva Amores & Matt Cosgrove
#HumanenRousseau
So…… dink jy jou week is goor ?
Justin Chase s’n is erger.
1. Sy ma is weer getroud – met ‘n vampier.
2. Sy pa se motor is ‘n reuse toilet op wiele.
3. Sy oumagrootjie is waarskynlik dieselfde jaar gebore wat die wiel uitgevind is en sy het bes moontlik daardie wiel gehekel.
4. Sy kat is deur aliens ontvoer.
5. Hy het op die ergste moontlike manier ‘n internetsensasie geword.
6. Hy is geboelie, ontvoer, en afgepers.
En dit was maar net Maandag tot Donderdag. Vrydag bring ‘n nuwe laagtepunt: Hy beland op die bodem van ‘n gapende gat. Nie sommer enige gat nie, ‘n gat vol smerige, papperige grilgoed. Hy is darem nie alleen nie, saam met hom is Mia, sy cool buurvrou, rotte, vlermuise, sy stiefbroer, Marvin, sy oumagrootjie, Gapsie, die hond, ‘n vetberg, nommer twee-bomme, en ‘n paar ander voorwerpe wat deur die sensors uitgesny is.
En Saterdag en Sondag kom nog.
Die formaat en humor herinner sterk aan die style van David Walliams en Dav Pilkey en, soos hierdie gewilde skrywers se kinderboeke, is hierdie boek ook in ‘n strokiesprentstyl met spraakborrels en voetnotas saamgestel. Bonusmateriaal sluit in ‘n gids om Marvin self te teken en ‘n bladsy waarop die leser kan raai wat Saterdag vir Justin voorlê.
Die skrywers is ‘n egpaar en hulle het saam aandetes, koeke, foute, ‘n gemors, herinneringe, swak modekeuses en twee mense gemaak. Foto’s van beide is agterin die boek gedruk sodat jy in die teenoorgestelde rigting kan padgee as jy hulle in die regte lewe raakloop.
Die boek is oorspronklik in Engels gepubliseer as ‘Worst Week Ever! Friday’ en is in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. Dit word aanbeveel vir lesers van 9-12 jaar en is by uitstek geskik vir trae en sukkelende jong lesers.
#Uitdieperdsebek