#DraaieSwaaieEnAfdwaalpaaie – Corlia Fourie & Annelize van Rooyen
#Queillerie
Ek het ʼn superkrag: Ek kan enige plek verdwaal. Selfs in my eie agterplaas. Overgesetsynde, ek is klaarblyklik rigtingbedinges. Reisverhale is derhalwe my enigste paspoort tot die wye wêreld, en ander mense se reisrampe laat my beter voel oor my eie agterplaasavonture.
Hierdie bundel reisverhale is saamgestel uit bydraes deur 46 skrywers en is opgedeel in spesifieke afdelings, naamlik reise met busse, bote, treine, motorvoertuie, en vliegtuie, en verhale aangaande verblyf, bagasie, ontmoetings, die weer, bestemmings, en tale. Die ruimtes waaroor vertel word is so wyd soos die Siberiese vlaktes – waaroor daar inderdaad ook geskryf is. Enigiets van Fraserburg tot Timboektoe, en ‘n klomp plekke tussenin.
Marieta van der Vyver open die verhoog met haar vertelling van ‘n reis met die grys hond. Eintlik die Greyhound, maar beslis familie van die swart hond, veral wanneer jou medepassassiers se graad van sofistikasie vir Ant’ Stienie na Emsie Schoeman laat lyk. Teen die einde van die reis verklaar sy plegtig dat “...waansinniges aangetrek word deur die Greyhound....” (17) en bely dat sy Afrikaanse gedigte begin resiteer het om die vloekwoorde uit te doof.
Irma Joubert se bus was aansienlik langer in die tand: “Met so ‘n bus het ek in die vyftigerjare in Nylstroom skool toe gery.” (22) en Charles Siboto se “grootseun-lederhosen” (waarskynlik die Beierse weergawe van die Amerikaanse “big girl panties”) was van weinig nut op ‘n (verkeerde) Duitse trein.
Kerneels Breytenbach se verhaal van ‘n bootreis op Lake Malawi is veel meer as ‘n reisverhaal. Die skok en begrafnis na die afsterwe van ‘n flambojante kennis staan sentraal en weerklink met eggo’s van ironie en rou in gelyke maat: “Daar is besluit om haar net buite die sendelinge se begraafplaas ter ruste te lê, moontlik uit vrees dat sy reg tussen die geestelikes se oorskot ‘n grootskaalse slaapwandeling sou ontketen.” (32). Sophia Kapp plaas ook humor teenoor verlies wanneer sy in ‘n andersins humoristiese bydrae bely: “Dit was ‘n verlies op ‘n vlak wat ek nie eens behoorlik kan beskryf nie. Dit was asof ek die vroue in my voorgeslagte, en die mans wat vir hulle lief was, te na gekom het.” (75)
Jacques Pauw se beskrywing van die afsondering van Siberië wat “...die Karoo na ‘n metropool (laat) lyk”(52), Frederik de Jager se sonderlinge bewoording van herinneringe: “Wat my bybly van dié reis, is flitse... ek moet hulle soos krale snoer om ‘n soort storie te maak.” (131), Bettie Lamprecht se bittersoet herinneringe aan ‘n mislukte reis: “Ek maak my oë toe. Die dag breek. Nie in dromerige woestynpastelle nie. Propers flenters. Aan flarde. In stukke breek hy.” (138), en Julian Jansen se weergee van “...toe ek vir ‘n week ten volle kind geword het.” (201) is verdere voorbeelde van aangrypende bydraes.
Op die humorspektrum is daar verskeie persoonlike hoogtepunte: Johan Bakkes se kleinseun/medereisiger is “...ses maande oud, tjorts soos ‘n reier, kry tande, en wil net loop. Soos sy oupa.” (63); Louis Jansen van Vuuren onthou hoe sy ouma hom, haar Lewies-kind, altoos as aantreklik beskryf het: “Die kind trek hom darem dinge vreeslik aan...” (86); Elma Potgieter verklap die binnewerke van ‘n smokkelekspedisie; Kirby van der Merwe verduidelik die konsep van ‘n “poor man’s bioscope” in Venisië; Marion Erskine word ‘n Pakistanse televisiester “Met my hare in alle windrigtings, papnat, en met smeersels modder aan my klere...” (176); Bettina Wyngaard oordink haar saligheid: “...ek beter my lewe verander, ek sal dit nooit maak in die hel nie.” (182), en Renée Rautenbach Conradie se voorgenome Franse blomnaam ontaard in ‘n onwelvoeglike voorstel.
In ag genome my voormelde geneigdheid om te verdwaal, het net een plek vir my vaagweg bekend geklink: Irkutsk. Jules Verne se Michel Strogof is daar deur die Tartare gemartel. Of so lui die verhaal.
Vir die kleingelowiges wat dink ek oordryf oor die verdwalery, selfs die boek het op pad na my verdwaal! Oos wes tuis bes vir my.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers